‘Dwelmhandelaars’ wou glo omkoopgeld betaal

Argieffoto

Beamptes van die Sedibeng-honde-eenheid in Gauteng het Donderdagoggend omkoopgeld van die hand gewys en drie mans in Heidelberg in hegtenis geneem op aanklag van die handel dryf met en besit van dwelmmiddels.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, het gesê die beamptes het reageer op ʼn wenk oor dwelmmiddels by ʼn spesifieke adres. “Met hul aankoms wou die inwoners nie die deur oopmaak nie en die beamptes het die deur oopforseer. Drie mans en ʼn vrou is in die huis aangetref.”

Peters het gesê beamptes het beslag gelê op heroïen met ʼn geraamde waarde van meer as R1,3 miljoen.

“Die drie mans is in hegtenis geneem, maar die vrou het ontsnap. ʼn Soektog is van stapel gestuur om haar op te spoor en in hegtenis te neem.”

Die bestuur van die polisie in Gauteng het intussen met skok verneem dat die vrou, wat deur die polisie gesoek word, ʼn beampte van Heidelberg-polisiestasie is. Haar polisieuniform en aanstellingsertifikaat is in die huis gevind.

Die drie mans, twee Nigeriërs en ʼn Suid-Afrikaner, staan tereg op aanklag van handel dryf met en die besit van dwelmmiddels en omkopery. Hulle sal binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.