Educor steeds doodstil oor kollegekrisis

Fotorter illutrasie (Foto: Unsplash/Pixabay)

Dae nadat die minister van hoër onderwys, wetenskap en innovering die nuus gebreek het dat vier kolleges se registrasie gekanselleer word, het studente nog geen kommunikasie vanaf hul onderskeie instellings hieroor ontvang nie.

Die departement het Damelin, Lyceum College, CityVarsity en Icesa City Campus as hoër onderriginstellings gederegistreer en duisende studente, van hulle met reuse-studielenings, se toekoms is nou duister.

Mikayla Myburgh (23) is een van dié studente. Sy het ʼn studielening van R300 000 aangegaan om die afgelope vier jaar BCom (bemarking en besigheidsbestuur) aan Damelin te studeer. Sy het nog twee modules oor om te voltooi voor sy kan graad vang. “Ek het weke lank gesukkel om ʼn kwotasie uit hulle te kry vir die oorblywende twee vakke en uiteindelik verlede week die kwotasie gekry. Hulle het niks gesê oor moontlike probleme nie.”

Nadat die bom Dinsdag in die media gebars het, het Myburgh weer ʼn e-pos gestuur om haar resultate tot dusver te kry, sodat sy kan kyk watter modules sy by ʼn ander instansie geakkrediteer kan kry. Sy hoor egter niks van hulle af terug nie.

“Ek sit nou met ʼn studielening van R300 000 en die kans bestaan dat geen ander kollege die vakke wat ek nou al afgeskryf het, gaan erken nie. Ek weet nie waar ek die geld vandaan gaan kry om van voor af te begin studeer nie.”

Keven Schwan (40) is ook by Damelin ingeskryf om besigheidsbestuur te studeer.

“Die feit dat Damelin gederegistreer is, skep baie onsekerheid oor my toekoms,” het hy aan Maroela Media gesê. Hy het ʼn beurs by die motorverkoopbedryfvakbond Misa gehad en wou graag verder studeer sodat hy bevorderingsmoontlikhede by die werk sou hê.

“Dis moeilik om te studeer terwyl jy werk en ek moes baie moeite insit om byvoorbeeld vroeg op te staan om te studeer. Dit is vir my baie sleg dat dít nou gebeur het.”

Hy sê dit was vir hom vreemd dat sy studieleiers twee weke gelede vir hom geen antwoorde kon gee oor wanneer hy sy assesserings moes aflê nie. Hy het egter niks vermoed nie.

(Foto: Facebook / Damelin)

Teen Vrydag het Educor, die maatskappy wat hierdie instellings besit, ook nog geen woord in die openbaar hieroor gerep of op medianavrae geantwoord nie.

Misa finansier vanjaar twee van hul lede se studie aan Damelin en sê dit is “pateties” dat die kolleges glad nie met studente hieroor gekommunikeer het nie. “Misa wil ook graag weet of studente hul geld gaan terugkry,” het Sonja Carstens, woordvoerder van Misa, aan Maroela Media gesê.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en innovering, het tydens ʼn mediakonferensie Dinsdag gesê verskeie ander “ernstige probleme” by die kolleges is die afgelope tyd onder sy aandag gebring. Studente het glo onder meer punte ontvang van vraestelle wat nooit nagesien of afgelê is nie – glo omdat dosente nie by die werk was nie oor hulle nie salaris ontvang het nie.

Martlé Keyter, Misa se hoof- uitvoerende beampte, sê dié inligting is kommerwekkend. Sy meen die departement moes reeds stappe gedoen het om studente te beskerm toe die eerste klagtes ontvang is. ʼn Kennisgewing deur die departement, met hul voorneme om die betrokke kolleges te deregistreer, is reeds in Augustus 2022 in die Staatskoerant geplaas.

Misa dring ook aan op duidelikheid oor wat nou van studente gaan word.

Nzimande sê die instellings het ʼn verantwoordelikheid om studente na ander toepaslike instellings te verwys waar hulle hul studie kan voltooi.

Educor sal ook ʼn uitfaseringsperiode kry. CityVarsity is met onmiddellike inwerkingtreding gesluit, terwyl die ander instellings tot die einde van die akademiese jaar tyd het om studente uit te faseer. Geen nuwe studente mag aanvaar word nie.

Studente moet ook terugbetalings ontvang waar dit van toepassing is.

Die kolleges het tot Oktober tyd om teen die besluit te appelleer.

Hulp aan studente gebied

Die private onderwysgroep ADvTECH het intussen aangebied om geraakte studente die geleentheid te bied om na een van sy kolleges of die afstandsleerinstelling Oxford Academy oor te skuif.

“Ons is daartoe verbind om hierdie studente te help om hul kwalifikasies suksesvol te voltooi,” het Shevon Lurie, direkteur van ADvTECH se afdeling vir hoër onderwys, gesê. Kolleges wat deur ADvTECH bedryf word, sluit in Varsity College, Vega College en Rosebank College.

“Ons verstaan die onsekerheid en kommer wat hierdie studente ondervind en weet dat hierdie ongelukkige verwikkeling duisende studente gaan beïnvloed. Ons neem ons dus voor om studente wat geregistreer het vir kontak- én afstandmodules na ons beste vermoë te help om hul studierigtings te voltooi.”

Studente wat meer wil weet oor hul opsies om na een van ADvTECH se kolleges oor te skuif, kan ʼn e-pos stuur na [email protected]. Studente wat die opsies vir afstandleer wil ondersoek, kan ʼn e-pos stuur na [email protected]. Elke student se finansiële omstandighede en akademiese vlak en assessering sal in geheel oorweeg word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.