Een dood, drie beseer in botsing aan Oos-Rand

’n Vrou is dood en drie ander beseer toe twee ligte voertuie gisteraand in ’n botsing op die R25 in Kempton Park betrokke was. (Foto: Verskaf)

’n Vrou is dood en drie ander beseer, onder wie ’n vyfjarige dogtertjie, toe twee ligte voertuie gisteraand in ’n botsing op die R25 in Kempton Park betrokke was.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, was die vrou – vermoedelik in haar 30’s – reeds dood toe nooddienswerkers op die toneel aangekom het. Sy was die bestuurder van een van die voertuie.

“Daar was niks wat vir haar gedoen kon word nie,” het Meiring gesê.

Daar was twee passasiers, een van hulle die kleuter, saam met haar in die motor. Dié moes met behulp van gespesialiseerde toerusting uit die wrak bevry word. Die vyfjarige is per helikopter na die hospitaal geneem terwyl die ander passasier, ook ’n vrou, in die ambulans behandel en vervoer is.

Volgens Meiring was die man wat die ander voertuig bestuur het, alleen in sy motor en het net ligte beserings opgedoen. Hy is op die toneel behandel en na ’n nabygeleë hospitaal vervoer.

Dit is onduidelik wat die ongeluk veroorsaak het. Die polisie was op die toneel en ondersoek die saak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.