
Nkululeko Dunga, burgemeesterskomiteelid van finansies by die Ekurhuleni-metro. Hy is ernstig beseer in die botsing. (Foto: Ekurhuleni-metro)
Een persoon is dood en ʼn raadslid van die Ekurhuleni-metro is ernstig beseer in ʼn botsing Maandagaand op die R21-Suid naby die Pomona-afrit.
Vier voertuie was in die ongeluk betrokke, waarvan een wat aan die metro behoort.
Luidens ʼn verklaring van die kantoor van die burgemeester van Ekurhuleni, Sivuyile Ngodwana, het die ongeluk omstreeks 19:00 plaasgevind. Een sterfte is bevestig, maar geen verdere besonderhede oor die slagoffer is bekend gemaak nie.
Die beseerdes is na hospitale geneem.
“Die burgemeesterskomiteelid vir finansies, Nkululeko Dunga, was in een van die voertuie en het ernstige beserings opgedoen,” lui die verklaring.
Die burgemeester se kantoor het sy diepe medelye met die slagoffer se familie en die beseerdes betuig.
“Die blitsige reaksie van die Ekurhuleni-metropolisie se hoofwegeenheid het verseker dat alle noodsaaklike ongelukprotokolle en noodprosedures nougeset en vinnig toegepas is.”
Die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.