Een sterf, nog drie beseer in ongeluk by Deneysville

‘n Vrou is dood en nog drie mense beseer in die ongeluk naby Deneysville in die Vrystaat. (Foto: ER24)

ʼn Vrou is dood en nog drie mense beseer in ʼn botsing reg van voor op die R716 naby Deneysville in die Vrystaat.

Ross Campbell, woordvoerder van die nooddiens ER24, sê paramedici, polisiebeamptes, Vrystaatse verkeersbeamptes en ander private nooddienste was Sondag omstreeks 11:35 op die toneel.

Die bestuurder van die BMW wat in die ongeluk betrokke was, asook ʼn vrou wat agter in die voertuig gesit het, is ernstig beseer. Albei is vermoedelik in hul vyftigs en is vir verdere behandeling na ʼn hospitaal in die omgewing geneem.

Paramedici het ʼn vrou wat voor in die passasiersitplek van die BMW gesit het, vermoedelik ook in haar vyftigs, onder die motordeur aangetref.

“Sy was in ʼn kritieke toestand,” sê Campbell.

Paramedici het verbete in die ambulans gewerk om haar te probeer stabiliseer, maar sy het aan haar beserings beswyk. “Alle pogings om haar by te bring het misluk en ʼn paramedikus het haar dood verklaar,” sê Campbell.

Die bestuurder van die Hyundai-motor, ʼn man tussen 30 en 40 jaar oud, het matige beserings opgedoen en is ook na ʼn hospitaal geneem.

Die polisie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.