Een vas wat glo kos vir skoolvoedingsprogram smous

(Argieffoto ter illustrasie: pixabay)

Blikkies vis wat spesifiek vir die skoolvoedingsprogram verpak word, is in ʼn winkel in Retreat, Kaapstad, verkoop en het reeds tot een inhegtenisneming gelei.

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys in die provinsie, sê ʼn lid van die publiek het haar Donderdagoggend ingelig dat die vis in die winkel verkoop word.

“Die blikkies maak dit duidelik dat dit spesifiek verpak word vir gebruik in die skoolvoedingsprogram en nie verkoop mag word nie. Dit is vir uitsluitlike gebruik in skole en het op misdadige wyse in die winkel beland. Ons het dit dadelik by die polisie aangemeld,” het Schäfer gesê.

Volgens Schäfer is een persoon kort daarna in hegtenis geneem en beslag is gelê op 18 blikkies.

“Ek wil die polisie loof vir hul spoedige optrede en wil ook die lid van die publiek bedank wat dit onder ons aandag gebring het.”

Schäfer sê hulle gaan die verloop van die ondersoek fyn dophou om agter die kap van die byl te kom oor hoe kos wat vir die voedingsprogram bestem was, in private hande beland het.

“Ek hoop hierdie dien as waarskuwing vir diegene wat by ons skole wil steel. Die nasionale skoolvoedingsprogram is ʼn belangrike lewenslyn vir ons kwesbaarste leerders. Om kos by die program te steel is om kos regstreeks uit kinders se monde te steel – en dit gaan nie geduld word nie.”

Schäfer het ʼn beroep op mense gedoen om waaksaam te wees wanneer hulle items aankoop en enige moontlike diefstal van die voedingsprogram se kos by die polisie aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JM ·

ONEERLIKHEID, die wagwoord vir Suid-Afrika. Wat ‘n skreiende skande!!!

Pieter J ·

Hierdie tipe diefstal het so algemeen geword dat dit nie eens meer die koerante haal nie. Die hoofstroom media wil in elk geval nie iets publiseer waarvan die ANC nie hou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.