Eerste breinoperasie in dekades vir Vaal-hospitaal

Die eerste breinoperasie in dekades by die Sebokeng-hospitaal. (Foto: Verskaf)

Die Sebokeng-hospitaal naby Vereeniging in Gauteng het verlede week geskiedenis gemaak toe ʼn   span neurochirurge dié hospitaal se eerste breinoperasie in meer as vier dekades uitgevoer het.

Twee operasies is verlede week op twee onderskeie pasiënte met subdurale hematoom (bloeding op die brein) uitgevoer en albei sterk goed aan.

Dit nadat daar vir meer as 40 jaar lank geen breinoperasies by Sebokeng uitgevoer kon word nie. Pasiënte wat breinoperasies benodig, moes die afgelope 40 jaar na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto verwys word.

ʼn Neurochirurgie-eenheid is egter onlangs by die Sebokeng-hospitaal tot stand gebring.

Die eerste breinoperasie in dekades by die Sebokeng-hospitaal. (Foto: Verskaf)

Die Gautengse departement van gesondheid sê die Sebokeng-hospitaal se neurochirurgiese span het sy eerste operasie op ʼn man uitgevoer wie se regterkant aangetas was. Die man kon nie loop of praat nie.

ʼn Kraniotomie is noodgedwonge uitgevoer en die span kon daarin slaag om die bloeding te stop en die bloedklont te verwyder.

Die operasie het twee uur lank geduur.

Sebokeng se tweede breinpasiënt was ʼn jong man wat drie maande gelede ʼn breinbesering opgedoen het. Die man het ook ʼn subdurale hematoom gehad en die span was genoop om ʼn kraniotomie te doen.

Die bloedklont is verwyder hoewel die man se brein weens sy besering erg geswel was.

Die neurochirurgiese span het toe ʼn kranioplastiek prosedure gedoen om die brein teen enige potensiale fisieke skade te beskerm.

“Die twee pasiënte het goed herstel en is die afgelope naweek ontslaan om tyd saam met hul gesinne by die huis deur te bring,” sê die departement in ʼn verklaring.

Dr. Fhatuwani Mbara, waarnemende uitvoerende hoof van die Sebokeng-hospitaal, sê baie pasiënte wat in die verlede met ʼn traumatiese breinbesering in dié hospitaal opgeneem is, het eindelik gesterf weens ʼn gebrek aan onmiddellike neurologiese ingrypings.

Mbara sê die hospitaal se nuwe neurochirurgie-eenheid sal die hoë voorkoms van sterftes by pasiënte met traumatiese breinbeserings in die Sedibeng-distrik verminder.

“Pasiënte met traumatiese breinbeserings het vir ʼn lang tyd beddens in die waakeenheid beset sonder enige definitiewe bestuursplan omdat die meerderheid van die pasiënte verskillende operasies benodig het. Dié operasies het gewissel van skedel-, brein- en rugoperasies.

“Die nuwe eenheid en ons hoogs bekwame span sal verseker dat ons minder  breinbeseringsverwante sterftes het, veral by mans van ʼn jonger ouderdom,” sê Mbara.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kokerboom ·

Welgedaan. Wys jou dit kan gedoen word by staatshospitale as daar ‘n wil is!

Marcello ·

Oo!!! Genade, eerder daardie pasiënt as ek, ek sal nie eers my hond in daardie hospitaal laat behandel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.