Eerste regstreekse vlug van NY land in Kaapstad

Die eerste regstreekse vlug tussen New York en Kaapstad het Maandag op die Kaapstadse Internasionale Lughawe aangekom.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, en James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur, was by die lughawe om die bemanning en passasiers van die United Airlines-vlug te verwelkom.

Die nuwe regstreekse vlug hou groot potensiaal vir die Moederstad in met ʼn bykomende 24 000 passasiers van New York af. Die stad reken besoekers van die VSA sal met sowat 20% groei en dat 900 werksgeleenthede in die eerste jaar geskep sal word.

Volgens Vos sal die regstreekse vlugte ʼn geskatte toename van R421 miljoen tot toeriste se besteding in 2021 bydra.

“Die lugvaartekonomie is ʼn belangrike dryfveer vir groei deur toerisme en handel. Om hierdie doelwit te ondersteun gee die stad geld aan die Air Access-inisiatief wat die mandaat het om die huidige vlugroetes uit te brei, en om nuwe roetes te bewillig om toerisme en handel ʼn hupstoot te gee.”

Sedert die inisiatief in 2015 van stapel gestuur is, het dit reeds 16 nuwe roetes gevestig en 22 uitgebrei.

Die voorlopige plan is om voorsiening te maak vir drie vlugte per week tydens die toerismehoogseisoen in Kaapstad. Die regstreekse vlug verminder reistyd met sowat vier uur.

Intussen word opgraderings van R7 miljard oor die volgende vyf jaar by die Kaapstadse Internasionale Lughawe beplan. Wanneer die opgraderings voltooi is sal die nuwe aanloopbaan 45 vlugte per uur kan hanteer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

HPV ·

Wys weer die SAL is totaal oorbodig.
Die anc regime gaan egter ‘n hewige stryd hê om 24000 meer mense lewendig te hou in hierdie misdaad hool.

Msp ·

Willie, ja, stem saam met jou tog moet ons inagneem dat die plaaslike regering moet sorg dat hulle veiligheid gewaarborg is. Baie mense sê ons moet positief wees tog moet ons nie vergeet van die gevare in ons land nie. Die Wes Kaap is ń suksesvolle provinsie wat deur die DA bestuur word daarom teiken die kriminele die provinsie die meeste, maar ja, dis goeie nuus en by die goeie nuus moet Suid Afrikaners harder werk om kriminele onder die voet te hou.

Gatvol ·

Ja nee … Bly om te sien ons opsies groei om NIE SAL TE VLIEG NIE. Duidelik sien die mark dit ook want hulle weet oor ‘n maand of twee hou ons die SAL begrafnis.

Jaco ·

Ek hoor daar is geld uitgesit vir solar krag ook anders gaan daai klomp vlugte dalk met kerse langs die aanloopbaan verwelkom word.

Nele ·

En om die groot geleentheid te vier word ons vlag onderstebo vertoon … ai tog !!

Nettie ·

Jene, @Nele, wat vertel jy my? Die ding is so deksels vrek-lelik dat ek nie regtig mooi weet wat is bo en wat is onder nie. Hoe moet dit dan vertoon word: van links na regs of van regs na links?

m ·

Skerp Nele, ja maar alles is mos maar ‘n bietjie upside down in SA, van crime tot affirmative action!!

Francois ·

Ok dis pragtig en mooi gedoen man!
Kry nou asb SAL ook reg toe…!!!???

TwaalfBoor ·

Sjoe!!!!! R421m. Hoeveel van dit gaan in die “krake” in verdwyn? Skepties.

Hendrik van George ·

Die vlug is eintlik van New Jersey na Kaapstad, en nie New York na Kaapstad nie….

koos ·

die vlug is vanaf Newark Lughawe in die staat New Jersey. Baie naby die stad New York en word beskou as een van New York se 3 groot lughawens

Trojaanse Donkie ·

Een v/d dae kry ons direkte vlugte tussen Kaapstad & Jhb. Gaan dit nou ‘n grap wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.