EFF skaar hom by OB oor moontlike skorsing

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer. (Argieffoto: Twitter)

Die EFF sê hy verwerp pres. Cyril Ramaphosa se poging om die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, te skors, met verwysing na die hangende parlementêre ondersoek na haar geskiktheid om die amp te beklee.

Ramaphosa het Donderdag in ʼn brief aan Mkhwebane gevra vir redes waarom hy haar nie ingevolge die Grondwet moet skors nie.

Die stap kom nadat die speaker van die parlement verlede maand bevestig het dat die art. 194-komitee besluit het om voort te gaan met sy oorweging van ʼn mosie om die OB uit haar pos te laat verwyder.

Die EFF meen die brief is ʼn bedekte dreigement en ʼn ondemokratiese poging om die OB uit haar pos te verwyder voordat ʼn demokratiese instelling daaroor besluit. Sinawo Thambo, nasionale woordvoerder van die EFF, sê die brief is gestuur uit vrees en nie rasionaliteit nie.

“Dit is ʼn feit dat Busisiwe Mkhwebane onwrikbaar in haar mandaat was om maghebbers aanspreeklik te hou en sy het dit sonder vooroordeel gedoen toe sy Ramaphosa en sy bondgenote betrek het,” sê Thambo.

Die EFF voer aan Ramaphosa se optrede is ʼn poging om ʼn swart vrou te “vernietig” en dat hy die parlementêre proses uitbuit ten koste van iemand wat hy as ʼn “politieke teenstander” sien.

Thambo sê die parlement moet meer tyd gegun word om sy ondersoek na die OB af te handel.

Die burgerregtegroep Outa vra weer op sy beurt waarom die saak teen Mkhwebane al so lank sloer. Mkhwebane se termyn verstryk in Oktober volgende jaar.

“Elke dag wat Mkhwebane in haar huidige pos aanbly, is ʼn dag wat verlore gaan vir betekenisvolle beskerming van die publiek teen magsmisbruik in Suid-Afrika,” sê adv. Stefanie Fick, Outa se uitvoerende direkteur.

“Die eerbare ding sou wees indien sy self as OB uitgetree het.”

Mkhwebane is van 15 Oktober 2016 vir ʼn termyn van sewe jaar as OB aangestel.

Minder as ’n jaar ná haar aanstelling het sy haar verslag oor die Reserwebank se apartheidsera-reddingsboei van Bankorp uitgereik, wat Absa beveel het om die reddingsboei van R1,125 miljard terug te betaal en die Reserwebank om sy mandaat te verander. In Februarie 2018 het die hof hierdie verslag verwerp, wat een van ʼn aantal uitsprake teen haar geword het.

Outa het in Junie 2019 die parlement versoek vir ʼn ondersoek na Mkhwebane se gedrag en bevoegdheid, in die lig van die verskeie hofbevindings teen haar, en het daarna ʼn strafregtelike klag teen haar aanhangig gemaak.

Mkhwebane staan tans tereg op aanklag van meineed wat voortspruit uit ʼn Konstitusionele Hof se uitspraak oor haar Bankorp-verslag, en sy het verlede jaar daaroor in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

domheks ·

Die vrou IS onbevoeg om haar werk te doen! eff wil nou net wys hulle is in beheer. hehehehe

Pietertjie ·

Dis seker baie swaar vir die EFF om nie hierdie slag “rassisme” of white monopoly capital te kan skree nie. Nou moet dit maar doen met swart-vrou-redenasie.

Althes ·

En Malema ondersteun Putin se oorlog teen Oëkranië. Het hy eindelik die lig gesien, dat hy hom aan die kant van ñ wit man skaar?!

Casper ·

Weereens ‘n bewese feit dat die EFF nie die definisie van reg en geregtigheid ken nie en geen idee het hoe die strafregproses werk nie en daarom is hulle so raserig.Kan julle dink hoe sou dit gegaan het as dit ‘n blanke OB was.Ek sidder as ek dink aan die gevolge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.