“Die komitee sal met die media en publiek kommunikeer na die aanvanklike samesprekings om te bepaal oor of die media die verrigtinge sal kan bywoon,” het die parlement se kommunikasiedienste in ʼn verklaring gesê.
Volgens die reëls van die Nasionale Vergadering is die verhore veronderstel om agter geslote deure plaas te vind maar kan dit aan die media oopgestel word indien al die partye daartoe instem.
EFF-LP’s het verlede maand chaos in die Nasionale Vergadering veroorsaak terwyl Zuma besig was om vrae te antwoord oor Nkandla. Die party se LP’s het “betaal die geld terug” begin dreunsing. Die EFF se LP’s kan vir tot 14 dae geskors word indien hulle skuldig bevind word.
Die EFF het vroeër die Wes-Kaapse hooggeregshof genader om ʼn dringende interdik in ʼn poging om die proses vir eers te keer. Die aansoek is egter van die hand gewys.