Egpaar nader hof oor kraamverlof

Deur Tania Broughton

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Egpaar van Polokwane het hulle tot die Johannesburgse hooggeregshof gewend oor wetgewing wat bepaal dat slegs vroue vier maande kraamverlof mag neem.

Werner en Ika van Wyk bevraagteken nou die grondwetlikheid van indiensnemingswetgewing in die hof en voer aan dat dié kraamverlofbepalings diskriminerend is.

Die Van Wyks en Sonke Gender Justice, die burgerregteorganisasie wat die egpaar in hul saak steun, sê tye het verander en dat albei ouers ingevolge die wet op vier maande kraamverlof geregtig behoort te wees.

In hul aansoek in die hooggeregshof teen die minister van indiensneming en arbeid, versoek die egpaar ’n wysiging aan die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (WBDV). Hulle wil hê die definisie van “kraamverlof” moet verander word na “ouer- en versorgingsverlof”.

Die Van Wyk’s wil voorts ’n bykomende verlofkategorie hê, naamlik perinatale verlof, vir vroue wat nie die volle vier maande verlof wil neem nie.

Die egpaar vra ook ’n bevel dat die minister bepalings instel wat voorsiening maak vir “gelyke ouerskapsverlof en voordele” vir biologiese ouers, aanneemouers en ouers wie se baba uit ’n surrogaatma gebore is.

Tans maak die WBDV, hoewel dit oor die algemeen net na werknemers verwys, spesifiek voorsiening vir vier maande “kraamverlof”. Of dit betaalde of onbetaalde verlof is, hang af van die kontrak met die werkgewer.

Die wet is onlangs gewysig om aan pa’s tien dae vaderskapsverlof toe te staan.

Werner het in sy beëdigde verklaring gesê hierdie bepalings diskrimineer nie net teen pa’s nie, wat ook daarop geregtig is om ʼn band met hul pasgebore baba’s te vorm en in die verantwoordelikhede van kinderopvoeding te deel, maar ook teen ma’s wat gedwing word om hul werkplek te verlaat en die rol van primêre versorger in te neem.

“Die ongelykheid in die verskaffing van kraamverlof sonder ’n ooreenstemmende tydperk van vaderskapverlof plaas ’n ongeregverdigde beperking op die regte van ʼn pa, asook ʼn onregverdigbare las op ma’s om die verstekversorger te word.

“Die wet moet gewysig word om die duidelike wanbalans van regte tussen ma’s en pa’s te takel,” lui Werner se verklaring.

Egpaar se eie ervaring

Die egpaar se seun is in April verlede jaar gebore, en Werner moes die rol van primêre versorger inneem. Hy het vir ’n finansiëledienstemaatskappy gewerk en Ika was die uitvoerende hoof van twee klein sakeondernemings.

Indien sy vier maande kraamverlof sou neem, sou haar ondernemings nie kon handel dryf nie en waarskynlik moes sluit. “Dit moes opgeweeg word teen die kernbelangrikheid van praktiese, toegewyde kindersorg vir my seun,” het Van Wyk gesê.

“Ons het die besluit geneem dat ek ons ​​seun se primêre versorger sou wees, en ek het aansoek gedoen vir die manlike ekwivalent van kraamverlof.”

Die maatskappy het aan hom die standaard tien dae vaderskapsverlof toegestaan, waarna hy vir kraamverlof – soos deur die wet en maatskappy se eie beleid bepaal word – aansoek gedoen het. Dit is egter afgekeur. Hy het toe aansoek vir ses maande sabbatsverlof gedoen – wat twee maande se gewone verlof en vier maande onbetaalde verlof behels.

Die ooreenkoms was dat Werner die vier maande sou moes “terugwerk”, dat hy nie jaarlikse verlof oor daardie tydperk sou ophoop nie, en dat slegs 30% van sy pakket uitbetaal sou word om verpligte voordeelbydraes te dek.

“Ons behoefte om ’n ouer en primêre versorger vir ons pasgebore seun te hê het my werksomstandighede en ons finansiële posisie op kort termyn benadeel. Indien my vrou haar twee ondernemings verloor het, sou dit egter langtermyn finansiële gevolge gehad het,” het Van Wyk gesê.

“Nie alle pa’s kan aansoek doen vir sabbatsverlof nie, en as sodanig diskrimineer die bepalings van die WBDV oor die algemeen teen pa’s,” het hy gesê. Van Wyk meen die Handves van Regte verbied diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie en geslag.

“Die aard van die betrokke reg is my reg op gelykheid ingevolge die wet, en ’n vrou se reg op voortgesette diens.

“Die arbeidsdeelname van vroue het toegeneem, asook die noodsaaklikheid van betrokke pa’s by die versorging en grootmaak van kinders. Ouers behoort verantwoordelikhede te deel en ma’s moenie belas word met die groot volumes onbetaalde werk in huishoudings nie.

“Vier maande kraamverlof vir mans sal pa’s toelaat om die grondslag te lê vir ’n meer gelyke verdeling van verantwoordelikhede in kindersorg.”

Van Wyk voer verder aan dat die wet uit voeling is met internasionale neigings. Ander lande soos Spanje, Denemarke, die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Australië en Swede het erken dat die rolle van ma’s en pa’s besig is om te ontwikkel en dat gelyke regte vir albei geslagte vereis dat ouers verantwoordelikheid vir hul kinders gelyk verdeel.

Omdat die aangeleentheid betrekking het op ’n grondwetlike kwessie, het die egpaar se prokureurs, Barter McKellar, ’n kennisgewing uitgereik waarin belanghebbende partye versoek word om as amicus curiae by die aansoek aan te sluit, waarna die minister ’n antwoord sal indien. 

  • Hierdie berig het oorspronklik op GroundUp verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

54 Kommentare

Shakespeare ·

Wil mense nog werk ? Wat wil die man by die huis gaan doen ?

Gawie ·

Shakespeare, in watter eeu leef jy? Dit is deesdae heeltemal aanvaarbaar vir die man om die rol van tuisteskepper in te neem.

Faraway ·

Presies “deesdae” . . . Wat n stupid redenasie
I rest my case

Patch ·

Ek stem tog saam dat ‘n pa geregtig moet wees op spesiale verlof om ‘n band met sy pasgebore baba te vorm maar ek sou sê ‘n maand kan voldoende wees.

Joggie ·

Ons woon in Denemarke, hier kry vaders dieselfde vaderskapsverlof as vroue by geboorte van hul kinders. Kollega van my het sopas teruggekeer van 4 maande vaderskapsverlof.

KatjieDeKat ·

Denemarke is nie SA nie. Die daaglikse bevolkingsaanwas hier is geweldig. Wat as ELKE man wat n kind verwek het, nou maande se kraamverlof wil hê? Miskien kan dit by julle werk, HIER sal dit die ekonomie laat ineenstort.

Tersia ·

En Denemarke hef die tweede hoogste persoonlike belasting in die wereld, die mense betaal vir hierdie voordele … kry dit nie sommer net verniet nie.

Tricea ·

Maar dis in ‘n ryk Eerste Wereldland waar dit nie misbruik sal word deur mense wat elke jaar kinders kry of 6 kinders maak nie!

Anel ·

Ons pa’s het nie by die huis gebly nie. Hulle het gewerk. Die ma het na die kinders gekyk en ook weer later gaan werk. En die band tussen die pa en sy kinders is wat hulle daarvan maak. Baie kinders en ouers wat werk, se band is sterker as wat baie wat nie werk nie se band is. Hoekom? Want ouers wat werk weet hoe om hulle tyd te verdeel. Hulle spandeer kwaliteit tyd saam met hul kinders. Ouers wat nie werk is dink mos hulle is herldag by die kinders, en tog spandeer hulle nie kwaliteit tyd saam deur nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Die is nie ‘n veralgemening nie. Maar ook net my opinie. Ons ouers het gewerk, ek en my man het gewerk, maar ons en ons kinders is gebalanseerde volwassenes. So, ek kan nie dink dat pa’s nou ook 4 maande by ‘n baba wil bly wst nie eens weet dat hy daar is nie. Hierdie kom vir my op luiheid neerkom.

Nettie ·

En my ma het nie gewerk tot ek skool toe is nie. En ek self is ‘n tuismamma. My kinders is ook almal gebalanseerde mense.

As tuismamma het ek al soveel kere hierdie selfde vinger wysing gekry…. “julle tuismammas het net kwantiteit, nie kwaliteit tyd met julle kinders nie”. Is dit nie maar net werkende mammas se skuldgevoelens wat hulle op ons tuismammas projekteer nie?

Hoekom dink werkende mammas moet hulle vinger wys na tuis mammas, om te “bewys” werkende mammas het die regte besluit gemaak? Dink julle ons kry nie ook seer wanneer ons sulke beskuldigings lees nie?

KatjieDeKat ·

Suid Afrika se bevolkingsaanwas is geweldig. Wat as ALLE mans wat n kind saam met n vrou verwek het, nou besluit hulle moet ook nou kraamverlof kry. Die ekonomie sal in duie stort.

Jakkie ·

Vir n WAM(Wit en Afrikaans en Manlik) om werk te kry vandag het baie struikelblokke met regstellende aksie en BEEE wetgewing. Beide ouers moet uitspring om die pot aan die kook te hou en billik dat beide ouers moue oprol met die versorging. Ek dink hierdie situasie is uniek en moet nie veralgemeen word nie

VaalDonkie ·

My werkgewer het my toegelaat om van die huis af te werk. Dit was in 2017. Dit was goed genoeg vir my. Maar ek sal nie nee se vir verlof nie.

Willempie ·

Ouerverlof ?? … m.a.w. as ek as ongetroude man by 4 vroue om die beurt 4 kinders verwek, is ek geregtig op meer as ń jaar se verlof. En dit kan aaneenlopend wees. Lekker man. ń Hele jaar se verlof vir “bonding”

KatjieDeKat ·

Ja, my seun werk saam met n jong man wat op 26/27 jarige ouderdom al 4/5 kinders het, by 4 verskillende vroue. Dis waarom Suid Afrika se ekonomie, en veral kleiner besighede, eenvoudig Nie hierdie tipe verlof kan bekostig nie.

Moedeloos ·

3 Maande kraamverlof is volgens wetgewing 6 weke voor die kraamtydperk en 6 weke na die kraamtydperk. Dit is om die Dr en die Werkgewer te vrywaar van enige eise wat die ouer mag indien teen hulle as daar iets met haar gebeur gedurende hierdie periodes terwyl sy werk. Die 4de maand is die keuse van werknemer of sy ekstra verlof wil hê. In praktyk werk die mamma’s tot op nie nippertjie om meer tyd na die bevalling by die kleintjie te wees wat op eie risiko is.

Antie Sarie ·

Net nog wetgewing wat werkloosheid gaan veroorsaak. Want die risiko van personeel raak al hoe groter.

Elma ·

20 jr gelede was kraamverlof n volle 3 maande. Niemand het iets oorgekom nie.

Lourens ·

Verstaan mense dat salaris/loon eintlik die prys is wat die werkgewer betaal vir jou arbeid? Deesdae word dit blykbaar meer as ‘n verpligte skenking waarop jy geregtig is bloot omdat jy in ‘n pos is, beskou. En mense dink werkgewers het onbeperkte fondse waaruit hulle hierdie “skenkings” kan maak.

Faraway ·

Nee nee nee!!!
Mevrou dis jou plig want jy het gekraam en dis wat KRAAM-verlof beteken

Kobus ·

MAW, hy wil 5 maande van die werk af wees? 4 x maande kraamverlof plus 1 x jaarlikse verlof. Is dit billik teenoor die werkgewer?

Manie ·

‘n Vorige berig lees dat bykans 60% van alle kinders in SA nie hulle pa’s ken nie en alleen deur die ma’s grootgemaak word…… In hierdie geval is kraamverlof vir pa’s definitief ‘n westerse begrip.

Botterblommetjie ·

Ek verstaan waar die man vandaan kom met die aansoek as primere versorger. Glo die wet moet dit dan so stel dat as die vrou nie kan nie, die man dit wel kan neem. Die 10 dae vergunning dan op die vrou van toepassing word. Ek verstaan wel ons land kan nie aan beide toestaan nie, want dan sal die arbeid mark “plunge” Wat ek wel ten sterkste veroordeel is die onbetaalde (wel ‘n gedeelte deur UIF betaalbaar, wat gewoonlik hul tyd neem) kraamverlof. Dit is juis wanneer jy gemoedsrus, finansieël versorg moet wees. Ek sou wel sê dat jy nie binne ‘n jaar of so al geregtig moet wees nie, want dit bring weereens die werk onder druk, jy moet dit dus soos verlof jou kraamverlof opbou en dat dit moet beperk wees tot bv. 2 kinders, anders gaan dit misbruik word (die tweede kraamverlof weereens soos verlof opbou). Mens moet realisties die voordeel gee, tog met voorwaarde. Als staan die kans om misbruik te word. Dan moet mens ook kyk na die omset van die besigheid en die hoeveelheid wat daar werk.

Euodia ·

My Duitse skoonseun het ook dieselfde vaderskapverlof gekry as my dogter. Hulle kon heerlik hier met die kleinseun kom kuier. Tog dink ek dat die vaderskapverlof moet `n bietjie later gegee word vanaf omtrent 3maande.

B ·

Moderne uitdagings verg morderne oplossings. Ons lewe nie meer in die 80’s waar die meeste broodwinners mans is en vrouens by die huis bly nie. In vandag se tyd is baie vrouens die hoof broodwinner en kan gesinne dit nie bekostig dat Ma by die huis moet bly om baba op te pas nie. Dit is ook baie moeilik om kleuterskole te kry wat babas onder ‘n seker ouderdom aanvaar want die risikos is te hoog. As die ander ouer baba kan opas vir die eerste paar maande sal dit baie gesinne help. Dit het absoluut niks met luiheid uit te waai nie. Die wereld waarin ouer mense groot geword het bestaan nie meer nie. Gun die nuwe geslag nuwe oplossings.

Nicolaas ·

Ons gun julle jonges die tyd af maar hoekom moet iemand ander bv die werkgewer betaal vir voorreg

Nettie ·

Nicolaas, niemand het gepraat van volle betaling nie! Kraamverlof is in BAIE gevalle in elk geval sonder betaling, selfs vir die vrou.

Nettie ·

Mooi gestel B.

Ek is van die “ouer geslag”, maar ek raak baie kwaad as mense dinge sê soos “dit was sus en so in ons tyd en ONS is ok”. Ja, ons sien hoe “fine” almal is, nê? Kankers is skreinend hoog onder alle ouderdomme nou. Mental disorders het skrikwekkend toegeneem. Blykbaar is ‘n derde van Westerse mense op medikasie vir een of ander probleem.

Ja-nee. Ons geslag en die nuwe geslagte is almal net “fine”, of hoe? As almal so moes redeneer, sou ons nog in die middeleeue tussen die rotte geleef het en ons nag se ontlasting soggens by die venster uitgegooi het!

Laat vooruitgang geskied!! As die nuwe geslag voel hierdie is die rigting, laat hulle toe. Ondersteun hulle.

voor ek vergeet ... ·

Belaglik! Hierdie voordeel sal in SA misbruik word en ʼn negatiewe uitwerking op ons reeds sukkelende ekonomie tot gevolg hê. Ek stem egter saam met die 10 weeksdae vaderskapverlof (Let wel vaderskapverlof en nie soos die voorgestelde vaderskapkraamverlof nie (die mans het tog nie self gekraam nie, dus is daar geen hersteltydperk nodig vir hul liggaam, soos in die geval van n moeder wat geboorte geskenk het nie) vir mans wat as die pa van die pasgeborene geregistreer is, slegs ook in die afwesigheid van die moeder, hetsy weens afsterwe by geboorte of die een of ander mediese noodgeval, en dan ook dat aanneem-/surrogaatouers dieselfde voordele kan geniet wanneer dit kom by ouerskap- en/of vaderskapverlof.

HBHB ·

Wetgewing soos dié kan werk in ander “produktiewe en gedissiplineerde” lande, maar ongelukkig nie in Suid-Afrika nie. Glád nie in Suid-Afrika nie. Inteendeel – indien dié paartjie suksesvol is, gaan hulle aksies heel moontlik lei tot meer skade as goed indien daar na die groter prentjie in ons land gekyk word. Mense moet maar prioritiseer – self die nodige aanpassings maak vir hul eie behoeftes en prioriteite. Hierdie paartjie klink vir my baie “bevoorreg”. Veral die pa kan uiters dankbaar wees dat hy (as blanke man in SA) in die 1ste plek n werk het en in die 2de plek kon sabbatsverlof neem (én weer kon terugggaan werk toe). Ek begin dink hulle is so effe “entiteld”. En ek kan nie help om te wonder wat hierdie oefening die paartjie gaan kos aan regsonkoste nie… geld wat direk aangewend kon word om meer kwaliteit tyd saam met hul kind te hê…

Louise ·

Dit is nou belaglik, want dit is gewoonlik die ma wat die nuwe baba versorg en voed nie die pa nie, hy wil seker laat slaap en voor die TV lê en dan nog geld verdien.

Wildemien ·

Wat van die pa waar die ma tydens geboorte sterf? Moet hy maar sy werk bedank?

Eendrag ·

Verskoon my maar dit lyk eerder of mense verskoning soek om by die huis te sit

Anonymouse ·

Niemand gaan vir jou ‘n monumentjie bou eendag omdat jy hou vingers afgewerk het.

Tandjies ·

Ek is jammer maar dit maak nie vir my sin nie. Vroue moet herstel en borsvoed. Daar is goeie redes hiervoor. Imagine n land waar albei ouers vir 4 maande by die huis sit, wat gaan word van die ekonomie. O nee.

Pieter ·

Daar is maniere om rondom die probleme te werk. Selfs vrouens kan nie net kraam en kraam en kraam met volle betaling nie. Ons wil werk en werk baie ure meer as wat verwag word, maar 10 dae was nie genoeg om my vrou te help toe ons dogtertjie gebore was. Ek is werk toe na 10 dae, maar met bitter min slaap en net nog meer gestress ens want my vrou moes alleen sukkel met ‘n kosbare lewe by die huis. ‘n vrou mag werk soos ‘n man, maar ‘n man mag nie probeer meer wees vir sy gesin as net ‘n tjekboek. Ek doen alles wat my vrou doen, behalwe die kraam en melk. Onthou ook dat die mans in die ou dae gaan slaap het en die vrou moes maar sorg. Hulle kon / wil nie eers doek ruil nie. Nou is ek meer op as my vrou. Sy moet net genoeg melk pomp en die res is doenbaar. Ons manne is nie meer bang om meer te wees as wat ons voorvaders was vir kinders, en dis nodig in vandag se gejaagde tyd waar vrou en man moet werk.

hpven ·

In ‘n land waar die helte van die bevolking reeds werkloos is, probeer jou werk behou.

Delia ·

Die doel van kraamverlof is net wat dit sé. Verlof om te kraam. Dis 84 dae om presies te wees. Daar is ook n beperking. Jy kan nie vir 10 minders kraamverlof kry nie. Mans kraam nie. So hulle kan nie gereg wees op kraamverlof nie. Jou liggaam vat 6 weke om te herstel na kraamverlof. As die vrou vroeër gaan werk, is dit op eie risiko.
Die werkgewer is nie verplig om die vrou te betaal nie. Sy kan UIF eis mits sy bygedra het. Sy mag wel aandring op die 84 dae.
Pappa, gaan werk maar of vat verlof, etaald as jy het of onbetaald. Die feit dat jy nou die primêre versorger is is jou probleem…bedoelende die wet gaan oor die ACTUAL KRAAMPROSES om vrou en baba te beskerm

Diepoppie ·

Rerig? Raak mense vandag so slapgat? My man het met ons baba’s gebond wanneer hy kans kry. Hyt net sy paar dae verlof gekry en dit was dit. Ekt spesiaal melk uitgepomp in die middag sodat hy hulle ook kon bottel gee wanneer hy by die huis kom. In die aand het hulle ook saam hom gebad. Vandag is my kinders baie geheg aan hulle pa. As jy my vra is die net n rede om nie te werk nie.

Waarnemer ·

5 minute se lekker kry en nou meneer wil jy kraamverlof he!Seker om te gaan visvang.Jy het hom/haar gemaak…gaan werk toe om te sorg dat hy/sy kos en klere het om aan te trek.Tsek.

Misky ·

‘n Vrou hier by ons werk het haar derde baba in 3 jaar gekry. Sy is meer af as by die werk en altyd kleintjie siek of nie lekker nie. Geld groei nie aan bome nie en min begryp dit.

Nettie ·

Volgens my moet ‘n BABA ouerverlof kry. Gee aan elke baba een jaar van ouerversorging. Voor hulle na ‘n creche toe moet gaan. Laat die ouers self besluit of ‘n pa of ma, of selfs ‘n ander familielid soos ouma of tannie of niggie dit kan neem.

Ja, ja, ek weet, mense gaan nou weer praat oor die ekonomie en geld en werkloosheid en en en… Mens kan dit nie ignoreer nie. En kulture verskil. Party kulture het 5 kinders, ander slegs 2. Doen dit dan vir di eerste 2 of 3 kinders of so iets. Maar ‘n baba hoort net nie op 4 maande in ‘n creche nie. Dis MY opinie.

Alwyn ·

Ek sien Werner verduidelik dat hulle dit nie sou kon bekostig as sy vrou se twee ondernemings ondergaan nie. Het hulle al gedink aan die impak wat dit op DUISENDE ander ondernemings gaan he?

Wildemien ·

Meeste kommentators sit die pot heel mis. Die kern van die aansoek is nie dat albei ouers vir 4 maande by die huis wil “gaan sit” nie. Die kern van die aansoek is dat ouers (waarvan daar gewoonlik TWEE is) ‘n keuse sal he van WATTER ouer vir die 4 maande by die huis “gaan sit” terwyl die ander ouer werk om die doeke en melk te betaal.
Die agtergrond van hierdie aansoek word baie duidelik gestel dat dit vir die gesin beter sou wees as Ma aanhou werk.
Sou dit Pa wees wat baba versorg, sal Ma dan wel ook siekverlof moet vat om te herstel van die liggaamlike tol wat kraam eis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.