‘Eiendomsagent’ gesoek vir bedrog

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

ʼn Vrou van Mpumalanga word deur die polisie en die Valke se ondersoekspan vir handelsmisdaad gesoek nadat sy spoorloos verdwyn het toe sy verlede jaar op borgtog vrygelaat is.

Die verdagte, Annica van Staden (46), is aanvanklik in Augustus 2019 in Protea Glen in Soweto in hegtenis geneem nadat sy eiendomme aan mense verkoop het wat nooit te koop was nie. Volgens ʼn verklaring deur die polisie het sy versuim om in November in die hof te verskyn en is sy sedertdien op vrye voet.

Volgens kapt. Dineo Sekgotodi, polisiewoordvoerder, het Van Staden tussen Oktober 2014 en Julie 2015 ʼn geregistreerde onderneming met die naam Housing First Property in Mpumalanga gehad. Haar modus operandi was om teruggenome huise, private eiendomme asook Herbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP)-huise in Middelburg, Witbank, Secunda en Kriel te verkoop.

Dié eiendomme was glo nie te koop toe sy dit aan kliënte verkoop het nie.

Om die transaksie te finaliseer moes kopers ʼn deposito vir die eiendomme in Van Staden se onderneming se trustrekening betaal. Sy het nooit die eiendomme op die kopers se name oorgeplaas nie. Die kopers is met huislenings gelaat, maar geen eiendom om daarvoor te wys nie.

Die verdagte het na bewering geld aan ander eiendomsagente wat sy in diens geneem het, oorbetaal, hoewel nie een van hulle, ook die verdagte, by die Raad vir Eiendomsagentskappe geregistreer was nie.

ʼn Saak van bedrog is by die polisie in Middelburg aanhangig gemaak.

Nadat sy in 2019 vasgetrek is, was die saak tot November verlede jaar uitgestel en sy is toe op borgtog vrygelaat. Sy het egter nooit weer in die hof verskyn nie en ʼn lasbrief vir haar inhegtenisneming is deur die hof uitgereik. Daar is nog ʼn uitstaande saak van bedrog teen haar in Orange Farm in Nelspruit.

Enigeen wat weet waar Van Staden haar bevind, word versoek om lt.kol. Hanlie Coetser van die Valke te kontak by 082 303 9881 of die polisie te skakel by 068 466 9873/072 329 9315.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Estelle ·

Hoe is daar huislenings toegestaan maar daar was nie huise nie?! Die bank stuur mos eers ‘n waardeerder na die huis toe voordat ‘n lening toegestaan word, dan nie?

deHAS ·

Welkom het ook een wat jou water en ligte geld vat uit verhuuring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.