Eindfluitjie vir voorste blaser Jaco Peyper

Jaco Peyper, een van die land en wêreld se voorste rugbyskeidsregters, het sy uittrede aangekondig. (Foto: Lionel Bonaventure/AFP)

Jaco Peyper, een van Suid-Afrika se beste rugbyskeidsregters en ook die land se mees ervare, hang sy rugbyfluitjie op.

Rugby is “deel van sy DNS”, sê Peyper, en hy was bevoorreg om soveel jare lank by die sport betrokke te wees.

“Ek het letterlik langs die rugbyveld grootgeword – my pa was ʼn afrigter – en ek het later self gespeel en afgerig voor ek die geleentheid aangegryp het om skeidsregter te word,” sê Peyper.

“Daar is altyd taai tye op hoëvlak‑skeidsregterswerk, maar sedert ek my eersteklasdebuut 17 jaar gelede gemaak het, was rugby nog net goed vir my.”

Mark Alexander, president van SA Rugby (Saru), het dié Bloemfonteinse blaser as “een van die beste ambassadeurs vir Suid-Afrikaanse rugby oor die laaste dekade” bestempel.

Die 43-jarige Peyper was skeidsregter in sy laaste 67 toetse by verlede jaar se Rugbywêreldbekertoernooi; die derde meeste vir ʼn Suid-Afrikaner naas Jonathan Kaplan en Craig Joubert. Hy was betrokke by drie Wêreldbekers en het talle uitspeelwedstryde in die Verenigde Rugbykampioenskap, Super Rugby, die Kampioenebeker en op Curriebeker-vlak hanteer.

Peyper, wat die sesde meeste toetswedstryde in die geskiedenis as skeidsregter hanteer het, was in beheer van nege eindstryde: vyf in die Curriebeker, drie vir Super Ruby, een Kampioenebeker, asook twee Wêreldbeker-kwarteindstryde. Hy het ook die leisels geneem in verskeie wedstryde in die Ses Nasies- en Rugbykampioenskap, asook in een toets tussen die All Blacks en die Britse en Ierse Leeus in 2017.

Suid-Afrika se Jaco Peyper. (Foto: Hansie Linde)

Saru sê langs die veld het Peyper ook ʼn deurslaggewende rol in die mentorskap en bevordering van die volgende generasie wedstrydbeamptes gespeel. Hy is verlede jaar verkies tot die inwydingsbestuurskomitee van die International Rugby Match Officials-liggaam, waar hy die belange van alle topskeidsregters op die internasionale verhoog verteenwoordig het.

“Sy werk met uitsaaiers en sy hulp om ʼn begrip van skeidsregterswerk en reëls te verdiep, was ook ʼn uitstaande kenmerk van sy termyn as internasionale skeidsregter,” lui ʼn verklaring van Saru.

Peyper is vier keer as skeidsregter van die jaar aangewys.

“Benewens sy vordering na een van die beste skeidsregters ter wêreld oor sy eersteklasloopbaan van 17 jaar, was Jaco ook ʼn wonderlike ambassadeur vir Suid-Afrika en ʼn rolmodel vir voornemende, jong wedstrydbeamptes,” sê Alexander.

“Sy koel, kalm en bedaarde optrede was deur sy loopbaan altyd ʼn opmerklike eienskap. Jaco was ook altyd duidelik en konsekwent in die manier waarop hy reëls toegepas het en het spelers toegelaat om hulself op die veld uit te leef.

“Ons het ʼn paar uitnemende skeidsregters gehad sedert die era van beroepsrugby aangebreek het en Jaco kan as een van die bestes beskou word.”

Geel kaart! Jaco Peyper, een van Suid-Afrika se beste rugbyskeidsregters en ook die land se mees ervare, hang sy rugbyfluitjie op – na ‘n lang en kleurryke loopbaan. (Argieffoto: Marty Melville/AFP)

Alexander sê hoewel daar groot begrip is vir Peyper se besluit om as skeidsregter uit te tree, is dit nietemin ʼn hartseer dag.

“Ons kyk met kosbare herinneringe terug. Ons wens hom en sy gesin alles van die beste toe vir die volgende hoofstuk.”

Sir Bill Beaumont, voorsitter van Wêreldrugby, het ook hulde aan Peyper gebring.

“Jaco was ʼn fantastiese ambassadeur vir rugby, ʼn rolmodel vir voornemende skeidsregters en sal onthou word as een van die grotes van internasionale en klubrugby.

“Meer as selfs al die eerbetoon, is Jaco ʼn wonderlike mens. Hy gee diep om vir die spel en vir die bevordering van sy medewedstrydbeamptes. Hy het ʼn enorme rol in die ontwikkeling van ontluikende internasionale skeidsregters gespeel en is ʼn kalm, selfversekerde teenwoordigheid binne ʼn wonderlike span,” het Beaumont gesê.

“Dit vat ʼn spesiale soort mens om in die mees uitdagende arenas op hul beste te wees en Jaco het dit voortreflik gedoen. In kort, hy is ʼn aanwins vir rugby, sy land en sy gesin en ek wens hom alles van die beste toe in ʼn nuwe en opwindende hoofstuk.”

Peyper sê ook die reis tot hier was ongelooflik en dat hy talle wonderlike vriende op die pad gemaak het, en bevoorreg genoeg was om ongelooflike plekke wêreldwyd te besoek.

“Alles in ag genome, is nou waarskynlik die beste tyd om uit te tree uit aktiewe skeidsregterswerk om meer tyd met my lieflike vrou en twee pragtige dogters deur te bring, asook om na my groeiende sakebelange om te sien.”

Daar is baie mense wat hy wil bedank, sê Peyper – en hy sal dit persoonlik doen. Hy wil egter ʼn spesiale woord van dank doen aan die uitvoerende hoofde van SA Rugby wat hom ondersteun het, die steun van die hoëprestasie-afdeling, sy medewedstrydbeamptes en veral die Springbokke “saam met wie ek nou gewerk het en wat my gehelp het om ʼn beter skeidsregter te word”.

“Rugby is ʼn deel van my lewe en hoewel ek die deur op aktiewe skeidsregterswerk nou agter my toetrek, sal ek van niks meer hou nie as om betrokke te bly by hierdie wonderlike spel en terug te ploeg ná alles wat dit aan my gebied het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Casper ·

Ek het Jaco Peyper die eerste keer gesien optreë as skeidsregter in die Varitybeker en toe al geweet hier wag ‘n blink toekoms op hom,ek het net nie geweet hoe blink nie.Hy was een van die heel bestes.Ons salueer jou Jaco en geniett die rus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.