Elektriese bedrading by hospitaal dalk oorsaak van brand

‘n Brand het Woensdag by die hospitaal ontstaan. (Foto: Paramedics, SAPS and Firefighters South Africa/Facebook)

Die verwoestende brand by die Christiana-hospitaal in Noordwes word bestempel as een van die grootste rampe nóg om dié dorp te tref.

Verskeie operasiesale, toerusting en pasiënte se lêers is verwoes toe die hospitaalgebou Woensdag deur vlamme verswelg is.

Tebogo Lekgethwane, woordvoerder van die departement van gesondheid, het Donderdag by navraag aan Maroela Media gesê daar word vermoed dat die brand weens foutiewe elektriese bedrading ontstaan het.

Lekgethwane sê die presiese omvang van die skade kan nog nie bepaal word nie.

Daar word egter beraam dat die skade miljoene rande beloop aangesien 95% van instandhoudingswerk aan die hospitaal reeds voltooi was toe die brand ontstaan het.

Theo Gerber, die DA se koukusleier in die Lekwa-Teemane- plaaslike munisipaliteit, sê geen ernstige beserings of sterftes is weens die brand aangemeld nie. Altesame 18 pasiënte is wel na ander klinieke en hospitale oorgeplaas voordat die hospitaal se hele mediese afdeling in die brand verwoes is.

Die hospitaal se kombuis, apteek, lykshuis en wasgoedafdelings is ongeskonde.

Dit is nie in dié stadium duidelik wanneer die hospitaal weer oopgestel sal word nie.

Volgens Gerber sal dokters en hospitaalpersoneel voortaan op roep wees by klinieke in die omgewing om pasiënte te behandel en chroniese medikasie voor te skryf.

Mediese personeel by die klinieke sal ook pasiënte gedurende noodgevalle kan stabiliseer voordat hulle indien nodig na groter hospitale oorgeplaas sal word.

Kraamdienste sal egter slegs beskikbaar wees by die Utlwanang-kliniek.

Gerber sê ’n forensiese span sal die oorsaak van die brand bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nie Verbaas ·

Dit is presies wat gebeur as geen onderhoud gedoen word nie. Wonder of daar al ooit vanaf 1994 vir warm konneksies getoets is.

Perdeby ·

Nee hoekom sal hulle dit toets. Instandhouding was nie deel van die oorname in 1994 nie. Net vat en bly en hoop van die beste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.