Energiekrisis is ANC se ‘growwe nalatigheid, pligsversuim’

(Foto: Du Preez de Villiers)

Dit is opvallend hoe die ANC-regering die laaste weke probeer om alle skuld op Eskom te plaas vir die huidige elektrisiteitskrisis.

Só sê Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond. “Die skrale troos is dat Suid-Afrika nou om die beurt aan fase 4 en 5-beurtkrag onderwerp word. Beurtkrag is egter ʼn eufemisme vir die huidige en werklike kragkrisis.”

Bosman sê terwyl president Cyril Ramaphosa in Davos moes wees om nuwe belegging na ’n beleggingsonvriendelike Suid-Afrika te lok, moes hy opnuut weer die besoek kanselleer en aandag gee aan die krisis tuis. “Die onwillekeurige vraag is egter of die elektrisiteitskrisis die werklike rede was en of die ANC se interne faksiegevegte nie dalk maar die onderliggende rede is nie. Inderhaas en midde in fase 6 moes die president die Nasionale Energiekrisiskomitee, die raad van Eskom en opposisieleiers ontmoet om aandag te gee aan die krisis.”

Bosman sê dit is egter nie ʼn nuwe krisis nie, dit het nie oornag ontstaan nie en die ANC-regering moet direk verantwoordelik en aanspreeklik gehou word. “Op die minste is die ANC-regering deur sy kabinetsministers individueel en kollektief aanspreeklik aan pligsversuim.”

Volgens Bosman kon die laaste twee jaar se voortslepende elektrisiteitskrisis voorkom word as die ANC-regering sedert 2012 sy eie Nasionale Ontwikkelingsplan 2030 nagekom het en uitgevoer het. “Ironies genoeg was mnr. Ramaphosa ondervoorsitter van die Nasionale Ontwikkelingskommissie wat in 2012 sy plan aan die regering voorgelê het. Niks wat vandag gebeur kan dus as ʼn skok vir die president of senior lede van die kabinet kom nie.”

In sy oorsig sê die Nasionale Ontwikkelingsplan op p. 45 (uit Engels vertaal): “Die elektrisiteitskrisis van 2008 en ander onlangse ontwikkelings het institusionele swakhede blootgelê wat verband hou met maatskappye in staatsbeheer wat vir netwerkinfrastruktuur verantwoordelik is. Om sulke probleme te voorkom vereis duidelike institusionele reëlings, deursigtige aandeelhouersooreenkomste, duidelike lyne van aanspreeklikheid en gesonde finansiële modelle om volhoubaarheid te verseker. Ons maak aanbevelings in elk van hierdie gebiede.”

Die kern van die energiebeplanning soos in 2012 uitgewys in die hoofstuk The Energy Sector: Empowering South Africa word dan besonder duidelik omskryf op p. 168:

“Suid-Afrika sal sowat 29 000 MW in nuwe kragontwikkeling tussen 2012 en 2030 moet voorsien om aan die aanvraag te voldoen. ʼn Verdere 10 900 MW se ou kragkapasiteit sal uit diens gestel word. As gevolg hiervan, moet meer as 40 000 MW se nuwe kragkapasiteit gebou word. Eskom se uitbreidingsprogram sal 10 000 MW se nuwe opwekkingskapasiteit byvoeg by die bestaande stelsel. Daar is egter nog ʼn duidelike gaping tussen toekomstige behoeftes en toegewyde infrastruktuurbeleggings.”

(Foto: Du Preez de Villiers)

“Die regering was dus reeds in 2012 en in sy eie ontwikkelingsplan baie duidelik ingelig dat 2 200 MW per jaar nodig is om die 2030-teiken van 40 000 MW te bereik. Hierdie is dus nie sake wat oornag in ses na 12 maande opgelos gaan word soos wat sommige onbeholpe lede in regering voorgee nie.

“Ironies genoeg is die taak gestel in die Nasionale Ontwikkelingsplan dat die departement van energie 21 500 MW hernubare energiekapasiteit tot die stelsel moes voeg teen 2030. Dit is minister Gwede Mantashe se departement en het hy tot op hede nog nie 1 MW tot die stelsel bygedra nie. Sy enigste oplossing in Julie 2022 was om Eskom 2.0 op te rig.”

Bosman wil weet as die regering reeds in 2012 geweet het daar is reusekragtekorte en dat 40 000 MW kragkapasiteit tot die stelsel gevoeg moes word, waar moet die fout gesoek word?

“Die voortdurende eksperimentering met ʼn uitgediende tipe van sosialisme waarin al meer regering en regeringsvoorskrifte voorkom, lê aan die kern. Daarom is die ideologie die teëlaarde vir faksiegevegte, kaderontplooiing, korrupte amptenare, onbevoegdheid en laastens die onvermoë om uitvoering te gee aan grandiose planne.

“Die ANC was nog altyd gefokus daarop om skuld te verplaas en neem selde indien ooit enige verantwoordelikheid. Daarom word min aandag gegee aan uitvoering. Die 2012 Nasionale Ontwikkelingsplan 2030 staan uit as ʼn baken en demonstrasie van die ANC se totale onvermoë om te kan regeer en te kan uitvoer. Die mislukkings van hele departemente, staatsondersteunde entiteite en verbrokkelende infrastruktuur en munisipaliteite onder administrasie is deel van die ANC-regering se spoor van verwoesting. Dit is omdat elementêre uitvoering en instandhouding afwesig is in die ANC se regeerfunksie. Die afgelope amper drie dekades getuig hiervan.”

Bosman meen die oplossings vir die toekoms in belang van die land en sy mense is geleë in:

  • ʼn koalisieregering wat die saak met die nodige erns en pligsbesef sal hanteer;
  • ʼn regering wat staatsondersteunde entiteite met spesifieke verwysing na Eskom en kragopwekking grootliks sal privatiseer;
  • minder regeringsinmenging, voorskrifte en regulering;
  • ʼn volkome einde aan kaderontplooiing, regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging. Transformasie word slegs gebruik om te verwys na die transformasie van Eskom van ʼn sukkelende en gebroke onderneming na een van uitnemendheid en prestasie;
  • belastingtoegewings aan individue en die sakesektor wat druk van die elektrisiteit netwerke afhaal deur eie opwekking hetsy deur son of wind;
  • voor die voet gelyke behandeling van almal as diensteverbruikers en dat almal daarvoor betaal;
  • ontginning van entrepreneuriese vaardighede om oplossings te help ontwikkel;
  • werkskeppingsprojekte wat kraginfrastruktuur insluit in vennootskap tussen staat en die privaatsektor;
  • kundige leierskap in die kabinet en SOE’s wat ervaring en kundigheid bring en nie patronaatnetwerke nie; en
  • die vervolging as ekonomiese sabotasie vir enige doelbewuste skade aan infrastruktuur en diefstal van materiaal en infrastruktuur en poging tot staatskaping.

“In die lig van bogenoemde moet AfriForum se voorgestelde oprigting van ʼn kragmaatskappy ten einde private kernkrag te ontwikkel deur middel van modulêre korrelbedreaktors, oorweeg en waar moontlik ondersteun word.

Kallie Kriel. (Foto: Reint Dykema)

“Suid-Afrika het nou politieke wil en dryfkrag nodig om dringend oplossingsgerig te kyk na die elektrisiteitskrisis. Vir te lank is dit oorgelaat aan die ANC en sy patronaatskappe tot selfverryking. Die krisis het onder ʼn ANC regering ontstaan en gevolglik kan die ANC nie die oplossing bied nie. Ekonomiese groei en gevolglike werkskepping was die slagoffer van ʼn regering wat nie die wil of vermoë geopenbaar het om ʼn verskil te kan maak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Raadsman ·

Voor ‘n persoon of groep “nalatig” kan wees moet eers gemeet word of hul die vermoee het.
Die massas ANC kader ontplooiing in Eskom het nooit die vermoee gehad om Eskom te bestuur nie.
Hulle enigste KPI was om ontslae te raak van die blankes in Eskom op bestuur vlak.

Herman L ·

Die ANC en sy kaders het Escom vir die wolwe gegooi en nou vra die president dat die res van die land saamwerk om die gemors op te ruim!

Susanna ·

Sny al die gratis en goedkoop elektrisiteit aan die hordes en buurlande af

Eclectus ·

Die ANC is nie die wortel van hierdie kwaad nie. Die kiesers is. Dis tyd dat ons met belastingnommers in stede van ID nommers stem.

Marcello ·

Maroela Media, dit is ‘n uitstekende, insiggewende berig. Baie geluk aan die verslaggewer/ster.

Stephanus Hendrik ·

Nalatigheid, pligsversuim, korrupsie en onbevoegde mense is die probleem. Die hele anc is ‘n probleem.

Republikein in die Wes Kaap ·

Afrikaners het ook saam gegrawe aan hierdie gat. Dis tyd om dit te erken voordat ons vorentoe kan beweeg.

Stephanus Hendrik ·

Iemand moet die skuld kry. Blameer die anc na 28 jaar. Nie die Afrikaners nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Waar was jy in 1992? Of in 1981? Destyds het Afrikaners al begin grawe. Baie het in 1994 saam met die ANC verder gegrawe. Sonder huiwering EE en BEE toegepas. Geen traan gestort toe kundige mede Afrikaners uitgewerk is nie. Dis nou te laat om te kla.

Veronika ·

Neeeee maar hulle het hul mos nie vd “boere” laat voorskryf nie! Toe vang slim sy baas! Nou wie se skuld is dit nou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.