Enkele Durbaniete nog sonder krag ná ontploffing

Argieffoto van Durban (Foto: Unsplash)

Die meeste Durbaniete het weer elektrisiteit nadat ’n ontploffing by die Klaarwater-substasie – ʼn  sleuteltoevoerpunt van Eskom – Dinsdagaand die helfte van Durban in duisternis gedompel het.

Inwoners in die noordelike, westelike en suidelike streke van die stad is dadelik deur die ontploffing geraak.

Die munisipaliteit vermoed dat sterk wind en weerlig tussen 19:00 en 20:30 die hoofoorsaak van die ontploffing was. Dit kon egter nie dadelik bevestig word nie.

Die eThekwini-munisipaliteit sê kragtoevoer kon Dinsdagaand ná die ontploffing “gebied vir gebied” stelselmatig herstel word. “Dit is in ʼn beheerde en baie versigtige volgorde gedoen om die risiko van verdere foute en skade te beperk.”

Kragtoevoer is sedertdien na alle substasies behalwe die Shallcross-substasie herstel. Die substasie het uitgebreide skade opgedoen wat tot 48 uur kan neem om herstel te word. Die Shallcross-woonbuurt sit gevolglik nog sonder krag.

Verskeie gebiede waaronder Umdloti, Sherwood en Queensburgh het teen vanoggend nog kragonderbrekings gehad.

Action SA het intussen ʼn beroep op die munisipaliteit gedoen om die oorsaak van die ontploffing te ondersoek en te bevestig, en ook om die skade so gou moontlik te herstel en weer die elektrisiteitstoevoer na inwoners en sakeondernemings in Durban te herstel.

“Voortslepende kragonderbrekings, uitgebreide skade weens oorstromings en waterbesoedeling weens E. coli is maar enkele van die kwessies wat die stad teister,” sê Alan Beesley, ActionSA se koukuslid in die munisipaliteit.

Beesley sê dit is dus noodsaaklik dat die kragonderbrekings nie vir lang tydperke voortduur nie, “want dit sal ongetwyfeld die stad se reeds beleërde ekonomie verder benadeel”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Was die ANC ReT alweer Dinsdag aand besig? Ou Kopdoek is moes KwaZulu-Natal se keuse vir president. Agh bewaar ons asseblief van daai gedrog!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.