‘Ent SA’ners steeds met AstraZeneca in’, meen kenners

Suid-Afrika het die afgelope week die eerste fase van sy entstofprogram tydelik opgeskort. (Foto: Justin Tallis/AFP)

Die AstraZeneca-entstof is steeds ʼn belangrike instrument in die wêreldwye stryd teen Covid-19, ten spyte van kommer oor die doeltreffendheid daarvan teen ʼn spesifieke variant van die virus. Só sê kenners.

Suid-Afrika het die afgelope week die eerste fase van sy entstofprogram tydelik opgeskort nadat navorsing gewys het die entstof het dalk nie die dieselfde doeltreffendheid teen die 501Y.V2-variant nie. Die vervaldatum van die besending entstowwe wat Suid-Afrika teen honderde miljoene rande aangekoop het, is boonop reeds in April. Nou stel sommige kundiges voor dat Suid-Afrikaners steeds met dié stof ingeënt word, ten einde die effektiwiteit daarvan teen Covid-19 te bepaal.

Die eerste besending van die entstof het Maandag in die land aangekom, maar minder as ʼn week later het die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, aangekondig die beoogde gebruik daarvan word opgeskort.

Die gevaarligte het begin flikker nadat ʼn proefneming by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) bevind het die entstof verskaf “minimale” beskerming teen minder ernstige of matige Covid-19 wat veroorsaak word deur die 501Y.V2-variant.

Dit was nie net slegte nuus vir Suid-Afrika nie, maar vir talle ander armer lande wêreldwyd wat staatmaak op die entstof.

Richard Hatchett, hoof van die Koalisie vir Epidemie-voorbereiding, sê egter dit is hopeloos te vroeg om die entstof net af te skryf.

“Dit is uiters belangrik om al die instrumente tot ons beskikking so doeltreffend moontlik te gebruik,” het Hatchett by die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se tweeweeklikse mediakonferensie oor Covid-19, gesê.

Die AstraZeneca-entstof vorm deel van die Covax-program, ʼn projek wat op die been gebring is om Covid-19-entstof aan te koop en die billike verspreiding daarvan wêreldwyd te verseker. Nagenoeg 337,2 miljoen van die entstofdosisse wat Covax hoop om na 145 lande te versprei, is dié van AstraZeneca.

Mkhize het Sondagaand gesê voor die kwessies nie uitgestryk is nie, word daar nie met die gebruik van die entstof voortgegaan nie.

Nóg slegte nuus is dat die vervaldatum van spesifieke besending entstof – waarvan Suid-Afrika reeds ʼn miljoen dosisse ontvang het – so vroeg as April is.

AstraZeneca hou egter by die doeltreffendheid van die entstof en sê hy glo dit bied steeds beskerming teen ernstige gevalle van die siekte.

Wat gebeur nou?

Die eerste besending Covid-19-entstof het verlede week in Suid-Afrika aangekom. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die tydelike opskorting van die entstofprogram was ʼn reuseteleurstelling vir Suid-Afrika wat reeds meer as 1,4 miljoen gevalle en meer as 46 000 sterftes weens die virus bevestig het. Die herstelkoers is in hierdie stadium wel sowat 92%.

Sommige Suid-Afrikaanse kundiges stel voor dat duisende mense steeds met die AstraZeneca-entstof ingeënt word om te bepaal of dit beskerming bied teen ernstige gevalle van die virus.

Prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, sê sy span stel voor dat die entstof steeds gebruik word, maar op ʼn meer wydverspreide manier. Die span stel voor dat daar met ʼn kleiner gedeelte van die bevolking begin word en dat hul reaksie op die entstof fyn dopgehou word.

Hy stel voor dat sowat 100 000 mense aanvanklik ingeënt word en die koers waarteen hulle gehospitaliseer word, gemonitor word.

“Terwyl ons die entstof beskikbaar stel en inligting insamel, kan ons besluit of ons moet voortgaan.”

Karim sê dit is verstandig om die wyer verspreiding van die AstraZeneca-entstof uit te stel tot navorsers met sekerheid kan sê of dit steeds ernstige siekte, hospitaalbehandeling en dood weens Covid-19 kan voorkom.

Karim het ook die versekering gegee dat die vertraging gedeeltelik versag sal word deur nog ʼn besending entstof – dié een van die Amerikaanse vervaardiger Johnson & Johnson (J&J) – wat na verwagting volgende week in die land aankom.

Volgens Mkhize sal ʼn inwerkingstellingstudie van die AstraZeneca-entstof gedoen word terwyl die J&J-entstof beskikbaar gestel word.

Die AstraZeneca-entstof is vervaardig deur die Serum-instituut in Indië en nog 500 000 dosisse van die entstof word later die maand verwag.

Suid-Afrika hoop om nagenoeg 40 miljoen mense, oftewel sowat 67% van die bevolking – teen die einde van die jaar in te ent. Die land is egter heelwat agter ander lande wat betref die beskikbaarstelling van entstof.

Volgens Karim behels Suid-Afrika se entstofstrategie dat middels van verskeie vervaardigers gebruik word. “Dit het net so gebeur dat die AstraZenenca-entstof eerste was,” het hy gesê.

Clare Cutland, ʼn entstofkundige verbonde aan Wits, sê die feit dat die virus vinniger muteer het as wat die entstof kon byhou, is ongelukkig. “Die wonderlike ding is dat die tegnologie goed is. Die verspreiding van entstowwe teen verskillende variante kan veel vinniger wees.”

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die nasionale mediese vereniging (Sama), sê dit is moeilik om te sê of die probleme met die AstraZeneca-entstof voorsien kon word.

Coetzee sê daar was in Desember heelwat druk op die regering om ʼn entstof te bekom. AstraZeneca is een van die middels wat in Suid-Afrika getoets is en was in daardie stadium in fase 3 van die proewe, terwyl die J&J-entstof nog in fase 2 was.

Die middel is dus getoets en ontwikkel voor die variantmutasies wat in Desember vir die tweede golf infeksies verantwoordelik was.

Sy sê terugskouend kon daar egter meer vrae oor die entstof gevra word.

Coetzee sê ook die AstraZeneca-entstof is steeds ʼn goeie middel, hoewel meer kliniese data bekom moet word.

Sy meen egter nie dat dié kwessies ʼn noemenswaardige terugslag vir Suid-Afrika se inentingsprogram is nie; dit kan die inwerkingstelling van die program moontlik net met een of twee weke vertraag.

Navorsers by AstraZeneca werk intussen om die entstof aan te pas en ʼn gewysigde weergawe vir die voorkoming van die Suid-Afrikaanse variant behoort teen die aan breek van herfs beskikbaar te wees.

Dis ‘Mkhize se skuld’

(Foto: Graeme Robertson/AFP)

Die VF Plus sê egter Mkhize moet aanspreeklikheid aanvaar vir die debakel en moet pa staan vir die R120 miljoen wat aan die entstof bestee is.

“Dit wil nou voorkom asof dié geld saam met die entstof in die drein afgespoel gaan word,” sê Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid.

Van Staden sê die regering het sy voete gesleep in die verkryging van die entstof en as gesprekke daaroor betyds plaasgevind het, kon toetse vir die doeltreffendheid van die entstof gedoen geword het met die uitbreking van die 501Y.V2-variant – en voordat die regering vir die entstof betaal het.

“Die VF Plus se waarskuwing dat die staat doodeenvoudig nie die vermoë het om hierdie projek te bestuur nie, het nou ʼn werklikheid geword.”

Van Staden sê as die private sektor toegelaat is om die entstowwe aan te koop, sou Suid-Afrika nie nou met die “krisis en verleentheid” gesit het nie.

“Die VF Plus het vroeg verlede maand reeds gewaarsku dat die regering se alleenreg met die aankope en verspreiding van die entstowwe problematies sou wees gegewe sy onbeholpenheid en die grootskaalse korrupsie rondom die aankoop van persoonlike beskermde toerusting waarby ANC-politici en -amptenare betrokke was.”

Bykomende bron: AFP 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Johan ·

Ja wat, ent die wat wil in…dan kan die paniek begin oorwaai. Drink sommer bietjie seewater ook.

Tersia ·

Laat hulle begin met die inentings by die Staatspresident en sy kabinet.

Vlooitjie ·

Weinig word ooit deurdink en goed beplan. Watch dis space… die berig gaan kom van die entstowwe wat onbruikbaar gaan wees agv verval datum.

Se maar net ·

Hulle kan maar hulle entstof druk, begin by die Ministers en President.

Stefaan ·

Daar is baie “kenners’. Hoeveel van hulle sal proefkonyne wees?

Colette ·

Weer eens het ons staat nie hulle huiswerk behoorlik gedoen voordat hulle miljoene rande spandeer het nie. Nou wil hulle van onskuldige mense proefkonyne maak? Mkwezi kan maar die eerste een kry.

Mrs H ·

Het ons land ooit soveel belasting betalers om R120 mil te dek?!

marius ·

Dit is duidelik dat die “kundiges” onseker is oor die doeltreffendheid en uitwerking van die middel . Dit het tot gevolg dat hulle besluit het om die toediening te staak .
Maar gewone mense moet hul vrese besweer en gedwee in ‘n ry gaan staan om as marmotte te dien ? Het enige van die kundiges en hul families dit ontvang ? Antwoord dit !

Ian ·

Ons mediese owerhede moet wakker word uit hul WHO onderdanige droomwereld. Ons totale sterftekoers teenoor totale aangemelde covid-19 besmetting is tans die derde hoogste van die erg besmette lande. Turkye staan op 1%, Indie op 1.4%, VSA op 1.7% en ons op ‘n skandalige 3.2%. Die voor die handliggende oplossings kry nie die nodige aandag nie. Daar word slegs gekonsentreer op WHO aanbevelings wat veel te wense oorlaat. Ons gewone mense sal maar moet saamstaan en na onsself moet omsien. Die antwoord is ivermektien, sink met tonic water (quinine), vit D en C en ander middels wat deur voorlinie dokters (FLCCC) dwarsoor die wereld aanbeveel word met groot sukses.

john ·

Raai wat jy met jou entstof kan doen….Ek laat my nie inent nie seer seker nie met n entstof wat nie eens werk nie en waar van die nagevolge onbekend is…. Laat die sheeple hulle maar inent.

KlipRSA ·

Daar is so baie korrupsie, dit sal my glad nie verbaas as dit net botteltjies is met gewone water nie, wat “hulle” vooraf beplan het om die verval datum SO vroeg te hê, sodat “hulle” ten duurste betaal vir botteltjies “water”, maar iewers sirkuleer die fondse terug in “hulle” eie sakke….

pietere ·

As die herstelkoers 92% is waarom wil die “kundiges” die bevolking inent met ‘n entstof wat net 42% effektief is ? Ek dink die ANC kaders het alreeds begin geldmaak en daarom moet daar voortgegaan word met die inenting?

Jack ·

Wys maar net weer dat n entstof wat blykbaar nog nie vervolmaak is nie nou getoets word op individue in die arm lande. Dus die proefkonyne. Soos Kariem voorstel ons hou dop en kyk of die goed werk en besluit dan. Met Ivermektien wat op honderde duisende as veilig bewys is het hulle bloot net geweier. Vreemd!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.