Entstofprogram vir onderwysers verleng

‘Foto ter illustrasie. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die departement van onderwys het aangekondig dat die entstofprogram vir onderwysers met ʼn week verleng word. Dit is om bykomende entstowwe wat hulle ontvang het, toe te dien, asook om probleme wat by bepaalde inentingstasies ontstaan het, reg te stel.

Onderwysers sal dus nou tot volgende Woensdag ingeënt word.

“Daar was die afgelope paar dae ʼn toename in onderwysers wat hulle aangemeld het om ingeënt te word,” het die departement in ʼn verklaring gesê. “ʼn Groot getal onderwysers het hulle boonop vandag by inentingstasies in Limpopo aangemeld, so ons voorsien dat die getal onderwysers wat ingeënt is, aansienlik gaan styg.”

Altesaam 437 386 onderwysers is tot dusver ingeënt. Die departement het aanvanklik gemik om 582 564 onderwysers in te ent, maar sê nóg 200 000 onderwysers en ondersteunende personeel is nou by die lys gevoeg van mense wat ingeënt sal word.

Maroela Media het vroeër berig oor klagtes in Gauteng dat sekere onderwysers by inentingstasies weggewys is of dat daar nie genoeg entstowwe vir alle onderwysers was nie.

Die departement sê hy het nou ʼn aantal maatreëls ingestel om te verseker dat dié probleme uitgeskakel word. Dit sluit in dat personeel van die departement by inentingstasies teenwoordig is om te bevestig of mense wat daar opdaag wel in die onderwyssektor werksaam is en dus die inenting mag kry.

“Indien die persoon nie op die departement van gesondheid se stelsel geregistreer is om die entstof te ontvang nie, kan hy of sy steeds die inenting kry indien die departement wel kan bevestig dat die persoon in aanmerking kom vir die inenting.”

Die departement het weereens ʼn beroep op alle onderwysers en ondersteuningspersoneel gedoen om in die oorblywende paar dae ingeënt te word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.