Enyobeni-tragedie: Eienaars hou by onskuld

Die Enyobeni-taverne in Scenery Park, Oos-Londen. (Foto: Twitter)

Die eienaars van die Enyobeni-taverne in Oos-Londen waar ’n treurspel hom in Julie vanjaar afgespeel het toe 21 tieners onder geheimsinnige omstandighede dood is, sal in April volgende verhoor word.

Siyakwamkela en Vuyokazi Ndevu word daarvan beskuldig dat hulle drank aan mense jonger as 18 jaar verkoop het. Hulle word ook daarvan beskuldig dat hulle met werknemers saamgesweer het om wederregtelik drank aan minderjariges te verkoop.

Die egpaar ontken skuld.

Luxolo Tyali, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Siyakwamkela en Vuyokazi het Vrydag weer vlugtig in die landdroshof in Oos-Londen verskyn waar die saak tot 25 April 2023 uitgestel is vir verhoor.

Die saak rakende die 21 tieners se dood word nog ondersoek onder leiding van die aanklaer.

Die departement van gesondheid het die tieners se ouers vroeër meegedeel dat hul kinders glo versmoor het weens die feit dat die taverne oorvol was. Die ouers is egter nie daarvan oortuig nie.

Tyali sê die NVG beskou dié saak in ’n baie ernstige lig en senior aanklaers is ingespan om te verseker dat die nodige bewyse ingedien word sodat diegene verantwoordelik vir die tieners se dood daarvoor kan boet.

“Die families van die jong kinders, van wie sommige minderjarig is, die geraakte gemeenskap en Suid-Afrikaners in die algemeen is gretig om te sien dat geregtigheid geskied vir die kinders wat so tragies gesterf het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.