Ermelo-boer wreed vermoor

Argieffoto: Lorraine Claasen

“Dit was ongelooflik tragies om my buurman so te sien.”

Só het Henry Geldenhuys, adjunkpresident van TLU SA, gesê nadat hy Woensdag op die toneel was waar Moolman Meyer (67), ʼn boer van Ermelo, Mpumalanga, wreed vermoor is.

Geldenhuys en Meyer se plase grens aanmekaar in die Sheepmoor-gebied tussen Ermelo, Piet Retief en Amsterdam in Mpumalanga.

“Meyer het Saterdag met sy bakkie Ermelo toe gery om ʼn vrag vuurmaakhout te verkoop. Hy het twee werkers wat hom help om dooie hout in die plantasie te kap wat hy dan vir ʼn ekstra inkomste verkoop.

“Ons vermoed die werkers het Meyer laat weet daar is fout met sy trekker. Dit is hier waar hulle hom oorval en doodgekap het met ʼn panga.”

Geldenhuys sê een van Meyer se vriende het onraad vermoed toe hy Dinsdag by Meyer wou kuier. Hy het alarm gemaak toe hy sy bakkie sien maar geen spoor van sy Meyer kon vind nie.

ʼn Soektog is van stapel gestuur waarby die polisie, TLU SA en die landbougemeenskap betrek is. Hulle het Dinsdag van 17:00 tot 22:00 na Meyer gesoek. Die soektog is vroeg Woensdagoggend weer hervat.

“Ons het om 10:30 op Meyer se erg verminkte lyk langs sy trekker afgekom.”

Volgens Geldenhuys was daar tot kapmerke tussen sy vingers soos hy probeer het om sy aanvallers af te weer.

Meyer het meer as 50 jaar op die plaas geboer. Hy het egter oor die laaste paar jaar begin om sy boerdery af te skaal.

Geldenhuys het gesê die huis is geplunder en die aanvallers het vermoedelik met selfone en vuurwapens weggekom. Hy glo hulle het oor die grens na Swaziland gevlug aangesien die plaas naby dié grens is.

Volgens Geldenhuys is een van Meyer se jonger broers, Joshua (64), byna ʼn jaar gelede saam met sy werkers op sy plaas aangeval. “Hulle het hom in die arm gesteek en hom en sy werkers oor die kop geslaan, maar hy het darem ligter daarvan afgekom.

“Die aanvallers het sy vuurwapens gesteel maar dit is later tydens ʼn renosterstroperyvoorval teruggevind.”

Geldenhuys het gesê sy organisasie reken misdaad in die land is tans heeltemal buite beheer.

“Die aantal moorde wat daagliks in Suid-Afrika gepleeg word, is reeds te veel om nie eers van plaasaanvalle en –moorde te praat nie.

“Die polisie is vinnig om taakspanne aan te stel vir taxigeweld en vragmotors wat brand maar dit is nou hoogtyd dat die president ʼn soortgelyke taakspan vir plaasaanvalle aanstel.”

Geldenhuys het gesê op grondvlak sal boere moet besef dit is ʼn vraag van “wanneer is dit ek?”.

“Boere moet by hulle plaaslike veiligheidstrukture betrokke raak en hulle eie paraatheid opskerp.”

Kol. Mtsholi Bhembe, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig en gesê die polisie ondersoek ʼn saak van moord.

“Die polisie sal later vandag ʼn amptelike verklaring oor die voorval uitreik,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

59 Kommentare

jongste oudste gewildste
Petro

Dis verskriklik!!! Baie sterkte aan die familie en vriende. Ek stem saam, hoekom nie ook n taak span aanstel vir plaasmoorde nie??? Hulle bly vergeet, dis die boere wat sorg dat ons almal iets op ons tafels kan sit om te eet? Beteken dit niks?

Mark

Dit is baie hartseer. Innige meegevoel aan die familie.

Theresa

Dit is vreeslik wreed. Dis onmenslik. Ek kan nie dink dat hulle eenvoudig so iets kan doen en aangaan met elke dag asof hulle niks verkeerd gedoen het nie. Die Regering moet begin wakker skrik en ophou geld mors op snert en aandag aan die misdaad in hierdie land gee. Dis heeltemal buite beheer. Elke geval is maar net nog ‘n nommer vir julle. Gevoelloos en gee net aandag aan julle dinge!

Realisties

Kom ons dink gou logies hieroor. Hy is besig om hout te kap en te verkoop, hy kry nuus sy trekker is onklaar, 1ste instink – ry en maak trekker reg. Hoe moet mens paraat wees dis deel van jou dag se gebeure. Iemand kon netsowel gebel het om te sê sy middag ete is reg hy moet huis toe kom en hulle kon hom daar oorval het. Dis deel van die loop van die dag. Hoe moet mens paraat wees? Moet jy jou gun gelaai hou en begin skiet vir enige ou wat jou nader net vir ingeval…?? Ek… Lees meer »

Erg

Dit ruk regtig nou handuit en eskaleer op ‘n skaal wat amper onmoontlik klink!!!!! Asseblief boere, loop met julle vuurwapens rond en wees altyd bewus van wat om julle aangaan en vertrou NIEMAND wat saam jou werk. Mens is goedhartig en dink, ek betaal hierdie plaaswerker se salaris en hy sal my nie iets aan doen nie? Nee dink weer, hulle voel niks vir jou nie. Jou lewe beteken vir hulle absoluut niks nie. Elke liewe berig omtrent hierdie laaste ruk bevestig dat dit ‘n plaaswerker was wat ‘n man vermoor het, en wat vrouens en kinders verkrag!!!!!!!!!