Ernstige gastekort wink

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: X)

Talle Suid-Afrikaanse nywerhede maak staat op gas as ’n energiebron. Wesenlike kommer heers egter dat die land oor twee jaar sonder gas gaan sit.

Twee gasvelde in Mosambiek (wat deur Sasol bedryf word) is tans die hoofbron van gasvoorsiening aan Suid-Afrika. Dié twee gasvelde sal egter vanaf middel 2026 nie langer aan Suid-Afrikaanse kliënte voorsien nie aangesien Sasol teen dan die oorblywende gas self ten volle sal benut.

Business Leadership South Africa (BLSA) sê daar word al geruime tyd gewaarsku dat ’n onderbreking in die toevoer van gas op pad is.

Busisiwe Mavuso, uitvoerende hoof van BLSA, sê nou in haar jongste nuusbrief ’n toevoeronderbreking is in dié stadium byna onvermydelik weens ’n kombinasie van beleidloosheid en ’n onvermoë om te verbind tot die grootskaalse belegging wat nodig is om alternatiewe infrastruktuur te skep.

Volgens Mavuso is 70 000 poste, wat R500 miljard per jaar vir die ekonomie genereer, tans in gedrang.

Mavuso meen egter daar is moontlike oplossings vir die winkende krisis sou die regering en sakeondernemings in vennootskap werk en daar reusebeleggings in nuwe bronne van gas en infrastruktuur plaasvind.

Mavuso voorspel egter steeds ’n 12 tot 18 maande lange gasonderbreking tussen die einde van Sasol se aanbod en enige nuwe toevoer wat in werking tree.

Daar is verskeie potensiële gasbronne, waaronder groot ontwikkelings in Namibië en Mosambiek, sowel as die vooruitsig van die Brulpadda- en Luiperd-gasprojek aan die Kaapse kus.

“Ons het egter nog nie met die nodige investering in infrastruktuur begin om Gauteng en KwaZulu-Natal, waar die meeste gebruikers is, te kan bereik nie.”

Gesprekke oor die ontwikkeling van die Brulpadda- en Luiperd-gasvelde staan al geruime tyd stil oor die kwessie of PetroSA ’n ankerverbruiker gaan wees.

“PetroSA se Mossgas-raffinadery staan ook al vier jaar lank stil sedert sy laaste gastoevoerbron uitgeput is,” sê Mavuso.

“Vir TotalEnergies om te verbind tot die groot belegging wat nodig is om daardie hulpbronne in werking te stel, moet ooreenkomste met grootskaalse kopers bewerkstellig word. En selfs al gebeur dit, sal dit tot 2030 duur voordat die projek gas begin verskaf.”

Mavuso sê ʼn massiewe koördineringspoging tussen die openbare en private sektor is nodig om die krisis te pak.

“Die belangrikste is egter die rol van die regering in die skep van ’n bemagtigende omgewing vir die nodige lisensiëring, veral die Petroleumagentskap van Suid-Afrika en die departement van minerale hulpbronne en energie.

“Dit sal nie maklik wees nie,” waarsku Mavuso, “daar is komplekse tegniese oorwegings met betrekking tot die bronne van gas wat die mees haalbare is om te tap asook die maniere waarop dit vervoer kan word. Maar deur die regte kundigheid, politieke wil en fokus om oplossings te koördineer, kan ons vordering maak.

“Veilige voorsiening op lang termyn is jare weg en ons gaan tussentydse maatreëls nodig hê om die gaping te vul wanneer die bestaande voorraad opraak. Ons kan nie bekostig om nog ’n dag te laat verbygaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Marous ·

Geen krag . Geen gas . Geen brandstof . Geen kos . Geen drinkwater. Geen mediese dienste. Geen skole . Geen paaie . Geen wetgewing . Geen pensioen geld . Geen werk .Dis waar die hool gaan wees . Baie vinnig ook.

Frank ·

‘n Gas tekort kan nogal tot kwaai ontwrigting en onluste lei aangesien ‘n groot deel van die massas nog gas gebruik vir kook en verhitting (en daarsonder nog verdere druk op eskom en onwettige verbindings)

Casper ·

Weereens die dep. van minirale hulpbronne en energie wat verantwoordelik is vir die uitreik van lisensies.Hulle gaan wag tot dit te laat is dan gaan hulle wakker skrik.Miljoene SAners maak gebruik van gas a g v beurtkrag insluitend myself.

Republikein in die Wes Kaap ·

Geen langtermyn beplanning. Nuwe planne moes al in plek gewees het. Net soos al die sake wat Marous meld.

Pierre ·

Onbekwaamd is nie n woord in die regering se woordeskat nie, hulle sal trots wees en alternatiewe soos hout voorstel vir verbranding.

Papsak ·

Nee kyk alles raak n probleem in SA weet nie wat wil hulle bereik daar deur of wil hulle ons nou maar net neil mmmm

Lettie ·

En dan ook bome begin afkap. Dus geen bome, geen suurstof, geen lewe

Anel ·

En wie moet ons bedank??? Die spul ken nie van beplanning nie. En alles miet aan ‘n lyntjie gehou word om te kyk wasr kan hulle eers die meeste geld vir hulle self maak.

Duck ·

Hier gaan ons alweer, ek het darm ‘n ou primus stofie hier èrens onder die stof

CA ·

Rusland het baie gas. Europa weier hulle gas. Dus is daar sekerlik baie gas beskikbaar vir lande soos SA wat nie om ideologiese redes die deur na Rusland toeklap nie. Klop daar aan vir hulp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.