Ernstige tweespalt in parlement oor begroting

Tito Mboweni, minister van finansies. (Foto: GCIS)

Erge verdelingslyne het Woensdag in die parlementêre debat in die Nasionale Vergadering oor die aanvullende begroting duidelik geword. Dié debat het by tye hewig gewoed.

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het uitgewys dat twee aspekte die aanvullende begroting genoodsaak het, naamlik die koronavirus-pandemie en die land se verslegtende ekonomiese situasie.

“Dit het daartoe gelei dat hulpbronne heraangewend moes word. Boonop moes ons staatskuld in toom hou, want as ons niks doen nie sal ʼn soewereine skuldkrisis ons in die gesig staar teen 2023 of 2024,” het Mboweni gewaarsku.

Hy het gesê ernstige besluite moet deur die staat geneem word te midde van krimpende belastinginkomste.

“Ons moet dus, weens die pandemie, geld uitgee wat ons nie het nie, en daarvoor moet ons noodwendig geld leen,” het Mboweni uitgewys.

Mboweni het dus ingeklim onder diegene (in hierdie geval die EFF) wat nie wil hê Suid-Afrika moet geld leen nie – spesifiek nie by die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank nie.

Mboweni het ook uitgevaar teen “tsotsi’s” wat voedselpakkies en ander hulp aan hulpbehoewendes steel, wat gemompel van lede van die DA en EFF oor ANC-stadsraadslede uitgelok het.

Die DA-LP Geordin Hill-Lewis het gesê hy is nou moeg daarvoor dat die ANC tekere gaan asof alles wat verkeerd loop, die koronavirus se skuld is. Dit is jare en jare se wanbestuur deur die ANC wat Suid-Afrika tot op die huidige punt gebring het.

Voorts het Hill-Lewis gewaarsku dat die leen van geld geen oplossing is vir ekonomiese probleme nie, want wat geleen is, word eendag verhaal.

“Dit is ʼn drogargument om besuiniging uit te beeld as die teenpool van ekonomiese ekspansionisme. Dit is ʼn kwessie van prioriteite. Daar is in hierdie aanvullende begroting R2,5 miljard vir e-tol, maar pasiënte slaan vuis oor die voorsiening van suurstof. Ja vir e-tol, nee vir suurstof – dit is die ANC,” aldus Hill-Lewis.

Laastens het hy gesê die ANC gaan tekere asof uiteindelike ekonomiese herstel ʼn noodwendigheid is, maar dis iets wat verwerf moet word – en die beleidsbesluite wat tans geneem word maak dat dit alles behalwe ʼn gegewe is.

Die EFF het in die woorde van sy hoofsweep, Floyd Shivambu, die aanvullende begroting “met minagting” verwerp.

Volgens Shivambu is dit ʼn besuinigingsbegroting wat staatsbestuurde ondernemings verder ondermyn. Hy meen die staat moet op groter skaal inmeng en byvoorbeeld self begin om mediese drag te vervaardig eerder as om dit by private verskaffers aan te koop.

Namens die VF Plus het hul LP, Wouter Wessels, gesê die regering moet ophou inmeng in die ekonomie. Werkloosheid neem toe en die geldkoffers raak leeg weens ANC-regeringsbeleid.

“Daar is ʼn krimpende belastingpoel terwyl staatsuitgawes styg. Al wat die regering se verantwoordelikheid is, is om ʼn gunstige omgewing vir beleggings te skep,” aldus Wessels.

Hy het gevra vir gelyke geleenthede sonder regstellende aksie, want tans is daar nie rykdom om te verdeel nie; dit word ʼn herverdeling van armoede.

Die parlementêre verslag oor die begroting van die portefeuljekomitee oor finansies is uiteindelik aanvaar met 225 stemme teen 110, en twee lede (Cope se LP’s) buite stemming.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter ·

Vra vir kop doek sy het so baie geld belasting geld pla haar nie.

koos10 ·

Die ANC gaan COVID die skuld vir alles gee, net soos apartheid, vir die volgende 25 jaar. Iemand moet asb vir die EFF inlig dat hulle ‘n polotieke party is en nie ‘n vakbond nie. Vakbonde gaan alle teen en stem met niks saam nie.

Martie Smartie ·

En kyk mooi, dieselfde wit belastingbetalers wie se belastinggeld gebruik is om nie-wit mense te ondersteun, gaan weer met belasting die rente en skuld moet terugbetaal. Hierdie land is ‘n verloor resep en mislukking, ongeag hoe enige een daarna kyk

Jerry ·

Soos n klomp selfsugtige kinders, hulle onkunde spoel oor in hul kortsigtige denke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.