Ernstige waarskuwing vir swaar reën uitgereik

Oorstromings in Centurion aan die begin van die jaar. (Foto; City of Tshwane/Twitter)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW) het Vrydag ʼn oranje vlak 6-weerwaarskuwing vir dele van Noordwes en die Vrystaat uitgereik. Dit volg omdat ontwrigtende reën Vrydag laatmiddag en Saterdag heeldag in hierdie gebiede verwag word en tot moontlike beskadiging van paaie en brûe kan lei.

Die weerdiens raai Suid-Afrikaners in hierdie gebiede aan om, waar moontlik, binnenshuis te bly en veral paaie te vermy. Voetgangers moet ook vermy om riviere en strome oor te steek indien die water tot bo hulle enkels strek. “Indien jy in jou voertuig vasgekeer word, verlaat jou voertuig en maak seker jy kom by hoër grondgebied uit,” lui die waarskuwing.

In Noordwes geld die waarskuwing vir Mahikeng, Lichtenburg, Ventersdorp, Potchefstroom en Klerksdorp. In die Vrystaat moet inwoners van Kroonstad, Welkom, Parys, Bloemfontein en Reitz asook inwoners so ver as Barkly-Wes besonder versigtig wees.

ʼn Vlak 4-waarskuwing is vir Randfontein in Gauteng en Hartbeespoort in Noordwes uitgereik, wat vir die res van Vrydag geld. “Daar sal waarskynlik erge verkeersoponthoude wees weens swak sig en oorspoeling van paaie,” waarsku die SAW.

ʼn Geel vlak 2-waarskuwing is ook vir die res van Noordwes, Gauteng en groot dele van die Noord –en Oos-Kaap uitgereik. Hiervolgens kan oorstromings in informele nedersettings, naby paaie en in laagliggende gebiede voorkom. Die weerdiens waarsku veral teen nat paaie en moeilike bestuurstoestande wat tot ongelukke kan lei.

Hierdie waarskuwings geld in meeste gevalle die res van Vrydag en die hele Saterdag.

Die stad Tshwane het ook Vrydag gewaarsku dat onwettige storting, asook plakkery op vloedvlaktes die risiko vir oorstromings vererger. Dit kan tot verlies van eiendom en selfs menselewens lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Casper ·

Ek dink veral aan inwoners van die Oos Kaap wat nog onlangs dag zero ervaar het.Weet iemand of dit al daar gereën het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.