Esidimeni: Selebano ‘het nooit waarskuwingsbrief gelees’

Dr Barney Tiego Selebano getuig by die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor (5 Desember 2017) Foto:: Brenda Masilela/ANA

Barney Tiego Selebano, geskorste hoof van die departement van gesondheid in Gauteng, het Dinsdag ontken dat hy ʼn brief gelees het van psigiatriese kenners wat die departement gewaarsku het oor die nagevolge daarvan om pasiënte van Life Esidimeni na NRO’s oor te plaas.

Dié brief het aangedui die besluit om pasiënte na NRO’s oor te plaas sal “verwoestende gevolge” hê.

Adv. Adilla Hassim, vir Section 27, het vir Selebano gevra hoekom hy nie die brief gelees het nie. “Dié brief is spesifiek vir die LUR gestuur,” het Selebano geantwoord.

Hassim het geantwoord: “Dit was aan dr. Makgabo Manamela [voormalige direkteur vir geestesgesondheid in Gauteng] gestuur en jy is ingesluit by die brief. Beteken dit niks as regeringsbeamptes by briewe ingesluit word nie?”

Selebano het geantwoord: “Hoekom veralgemeen jy deur te sê regeringsbeamptes?”

Afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke het tussenbeide getree en gevra hoe dit moontlik is dat so ʼn reuse-ding vir hom te onbelangrik is om te onthou.

Selebano het verdedigend gesê: “Ek het nie gesê dis onbelangrik nie. Ek onthou nie dat ek hierdie brief gelees het nie.”

Selebano het teruggekap en vir Moseneke gevra hoe hy vir hom kan vra of hy nie onthou nie. “Tensy jy voorstel dat ek nie die waarheid praat nie?” het Selebano gevra.

Moseneke het gesê: “Nee, dalk is die voorstel dat jy die inhoud van die brief ignoreer het.” Selebano het aangevoer hy sou dit nooit gedoen het nie.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Psigiaters (Sasop) en die Suid-Afrikaanse Angs- en Depressiegroep (Sadag) het die brief aan die departement geskryf, maar dit is geïgnoreer.

Manamela het tydens haar getuienis erken dat sy die brief gelees het, maar nie gereageer het nie.

“My base het ook die brief ontvang, hulle moes gereageer het. Dit was nie binne my vermoëns nie,” het Manamela gesê. Manamela het na Selebano en Qedani Mahlangu, voormalige LUR van gesondheid in Gauteng, verwys.

Selebano het Dinsdag gesê hy sou waarskynlik die proses om die kontrak met Life Esidimeni te beëindig stopgesit het as hy die brief gelees het.

Moseneke het Selebano aangevat op sommige van die waarskuwings wat deur kliniese sielkundiges gegee is dat die oorplasing van pasiënte nie koste sou bespaar nie. “Het jy daaroor gedink?” het Moseneke gevra.

“Jy vat my nou terug na 2015. Daar is so baie goed wat ek toe sou gedoen het,” het Selebano gesê.

Selebano het gesê wat gebeur het, is pynlik en nie iets wat maklik is om af te maak as niks nie. Selebano sal sy getuienis na verwagting Woensdag voortsit.

Minstens 143 psigiatriese pasiënte het gesterf, grootliks weens wanvoeding en erge verwaarlosing nadat hulle na ongelisensieerde NRO’s oorgeplaas is. Altesaam 59 pasiënte word steeds vermis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
SKOKKEND

EK wil net graag weet of die VERMISTE pasiente al opgespoor is? Hulle families moet seker mal van kommer wees. BUITEN die verskriklike atrocity om die ander van honger en neglect te laat doodgaan, WAAR IS DIE VERMISTE pasiente? Hoekom het niemand ‘n antwoord nie?? Hoe kan jy 59 pasiente VERLOOR? Mense dit is ‘n tragedie . dit is MENSELEWENS, dit is mense se kinders se ouers, se familie, se susters en broers wat VERMIS is .. dis buiten die wat onnodig gesterf het .. maak nie saak watter toestand hulle gehad het nie dit was MENSE en hulle is… Lees meer »

Eish

Ek wonder in die stilligheid hoe effektief die bevindings en aanbevelings van die kommissie gaan wees met amptenary wat so onbeskaamd lieg.

SjN

Wil nie verantwoordelikheid aanvaar nie en probeer altyd na iemand anders skuif, swak.

Tersia

Sit hom in een van daai plekke en VERLOOR HOM HEELTEMAL.!!!!!!

Andre

Is dit die ANC Vroueliga, die EFF en die vakbonde wat buite besig is met protesaksie wat ek hoor omdat hulle so omgee vir die mense? Of is daar nie politiekepunte te kry nie? Hartseer en gebroke families. Sies ANC, wie het hierdie mense en “dokters” aangestel? Kla hulle ook aan!!