Eskom-bedryfshoof nie skuldig aan korrupsie

Jan Oberholzer. (Foto: Eskom/Twitter)

Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof, is ná ʼn ondersoek deur ʼn eksterne senior advokaat onskuldig bevind aan bewerings van korrupsie, oneerlikheid, ʼn botsing van belange en magsmisbruik.

ʼn Voormalige Eskom-werker het verlede maand die bewerings teen Oberholzer gemaak en Eskom se raad het daarna ʼn ondersoek van stapel gestuur. Die ondersoek het op 2 Maart begin en die verslag met bevindings is op 4 April aan die raad voorgelê.

Die advokaat moes bepaal of daar ʼn onverklaarde botsing van belange was rakende Oberholzer en die maatskappy Stefanutti Stocks, of enige ander maatskappy, wat tot ʼn oortreding van Eskom se beleid gelei het; of Oberholzer sedert sy terugkeer na Eskom in 2018 enige fidusiêre pligte versaak of beleid oortree het wat betref enige transaksies met Stefanutti Stocks; en of Oberholzer persoonlik gebaat het by ʼn 2007-kontrak met die onderneming Black and Veatch.

Die ondersoeker moes ook vasstel of die fluitjieblaser se oorplasing tussen departemente ingevolge Eskom-beleid gedoen is.

Sikonathi Mantshantsha, Eskom-woordvoerder, het gesê die aanvanklike fluitjieblaser, asook verskeie getuies en Eskom-werkers was onder diegene wat tydens die ondersoek ondervra is.

“Die senior advokaat het geen gronde vir die bewerings van oneerlikheid, korrupsie, belangebotsing of magsmisbruik teen die bedryfshoof gevind nie,” het Mantshantsha gesê.

Die advokaat het ook bevind Oberholzer het sy aandeel in Stefanutti Stocks behoorlik verklaar en “dat dit nie ʼn kwessie is waarvoor ʼn tugverhoor benodig word nie”.

Daar is geen ongerymdhede gevind in die transaksie met Black and Veatch nie en die advokaat het bevind die behoorlike proses is gevolg toe die persoon wat die bewerings teen Oberholzer gemaak het, tussen departemente oorgeplaas is.

Hoewel daar spanning tussen die twee was, was daar geen viktimisasie nie, het die advokaat bevind.

Volgens Mantshantsha is Eskom tevrede dat die kwessie nou behoorlik ondersoek is en is daar geen rede om enige stappe teen Oberholzer te doen nie.

“Die raad is verbind tot die hoogste beginsels van etiek en goeie maatskaplike bestuur en sal enige en alle bewerings wat teen ʼn Eskom-werker gemaak word, ongeag hul senioriteit, ondersoek,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Fedup ·

If you leave a broom behind a door, someone will always look for dust underneath it. White is the new dust, it seems.

Leon ·

Baie mooi Eskom. Maar wat van die groot visse wat eintlik verantwoordelik is vir Eskom gemors?

Cherokee ·

Wat van mense wat valse bewerings maak? Geen opvolg of tugverhoor nie? Dit is immers tydmors en geldmors.

Snowball ·

En lasterlik. Sy/haar naam bly skoon terwyl die ‘beskuldigde’, ten spyte van kwytskelding , se naam in dieselfde asem as korrupsie genoem is en baie mense sal dit so bêre in hulle geheue.
Sulke kwaadwillige Fluitjieblasers behoort op een of ander manier tot verantwoording gebring word. Hulle is gevaarlik in die werkplek; elke keer as hulle nie saamstem met besluite nie, gaan hulle sulke taktieke gebruik om iemand by te kom.

Blikkantien ·

Wat gaan word van die persoon wat sy reputasie probeer verwoes het?

Yvonne ·

Vinnig om name te noem van die persoon wat beklad is maar die fluitjie blaser wie is dit…vreemd

Jaco ·

As jy in 2020 wit is in Suid-Afrika, BLY DAN WEG uit bestuursposte. Al daardie baie geld keer nie die kritiek en dreigemente en ander onsmaaklikhede wat op jou gaan neerreën nie. Diegene wat nie van wit mense hou nie, hou wittes in sulke hoë jobs dop en slaan toe vir die geringste “oortreding”. As ‘n wit mens in ‘n hoë bestuurspos selfs net vir sy sekretaresse sou sê “ek soek my tee van nou af om 10.30 en nie meer om 11uur nie”, kan sy hom van rassisme aankla.

Scalla ·

Volgens my moet die fluitjie blaser dus ook ondersoek word aangesien bewerings dan vals is en teen die persoon opgetree word!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.