Eskom beëindig kragskepe se voorkeurtoegang

Een van die kragskepe in Karpowership se vloot. (Foto: Karpowership)

Eskom het bieërs vir die land se noodkragverkrygingsprogram van hul voorkeurtoegang tot die kragnetwerk beëindig weens hul versuim om finansiële reëlings ná byna twee en ʼn half jaar se vertragings te tref.

Dit beteken dat ondernemings wat kragaanlegte op skepe bou, soos die Turkse maatskappy Karpowership, se opwekkingskapasiteit nie gewaarborg is om by die kragnetwerk geïntegreer te word nie omdat hy en ander kragverskaffers die sperdatum van 31 Desember 2023 misgeloop het.

“Die verstryking van hierdie ooreenkomste is betreurenswaardig, aangesien die projekte daarop gemik was om broodnodige opwekkingskapasiteit tot die kragnetwerk te voeg om die druk op die stelsel en die impak van beurtkrag te verlig,” het Eskom gesê.

Karpowership is onder die ondernemings wat aangewys is as een van die voorkeurbieërs in die regering se noodkragverkrygingsprogram wat in 2020 deur die departement van minerale hulpbronne en energie van stapel gestuur is.

Die program was daarop gemik om altesaam 2 000 MW van verskeie bronne te verkry, insluitend gas, sonkrag, windkrag en ander hibriede tegnologieë.

Hoewel 11 voorkeurbieërs in 2021 deur die kantoor van die onafhanklike kragprodusente aangekondig is, het slegs sewe van hierdie projekte – wat slegs ʼn fraksie van die toegekende opwekkingskapasiteit bou – sedertdien kommersiële sluiting bereik en in die konstruksiefase inbeweeg.

Die sperdatum om die oorblywende vier projekte by die kragnetwerk te integreer het egter in Desember verval, ten spyte van verskeie verlengingstydperke wat deur Eskom toegestaan “om die projekte se sukses te verseker”.

Karpowership se drie gasaangedrewe aanlegte, wat in Saldanhabaai, Richardsbaai en Coega geanker is, sou ʼn algehele kapasiteit van 1 220 MW opgewek het. Die onderneming het egter die afgelope paar jaar hewige teenstand van bewaringsgroepe ontvang en is in verskeie regsgedinge gewikkel.

Volgens Eskom is daar altesaam 1 400 MW wat verlore gaan omdat die onderskeie projekte nie hul finansiële vereistes kon nakom nie.

“Die netwerkaansluitingskapasiteit wat voorlopig vir hierdie projekte gereserveer is, sal nou aan ander projekte toegeken word wat gereed is om aan die kragnetwerk te koppel, en dus broodnodige krag aan Suid-Afrika verskaf,” het Eskom gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Grassie ·

Dit is goeie nuus. Hierdie sg. “kragskepe” is ‘n onbekostigbare opsie wat die ANC-regering probeer gebruik het omdat hulle te sleg is om self die kragprobleem op te los.

Tubac ·

Grassie, Netso. Dit is al klaar n bewys dat die geld opdroog. Ek dink daar is n sekere persoon wat nie baie gelukkig gaan wees nie. Die kraantjie is toegedraai

kaplyn ·

Ek stem saam met die twee kommentare hierbo, en wat vir my die ergste is, is as die kragskepe na 20 jaar hulle ankers optrek en wegseil, dan sit ons nog steeds met ‘n kragprobleme en ons seelewe om ons kus is is vernietig. Die ANC owerheid sou in die typerk wat die kragskepe krag gelewer het voort gegaan het met hulle korupsie en geen aandag gegee het aan die kragprobleem nie wat die kragskepe is mos daar om krag te lewer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.