Eskom in loongeskil met vakbonde

Loononderhandelings by Eskom het ‘n dooiepunt bereik. (Foto: Google Maps)

Eskom het ʼn dispuut met vakbonde verklaar nadat loononderhandelings Woensdag ʼn dooiepunt bereik het.

Die proses is nou na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys.

Eskom hou voet by stuk dat hy net ʼn loonverhoging van 1,5% in werkers se basiese salarisse kan bekostig.

“Die vakbonde het dit verwerp en pleks daarvan eise vir basiese salarisverhogings gemaak van 10%, 12% en 9,5%,” sê Sikonathi Mantshantsha, woordvoerder van Eskom.

“Dit is bykomend tot ander eise vir die verhoging van ʼn gemiddelde 15% in werkers se voordele.

“Eskom, wat staatmaak op belastingbetalers se geld om sy lopende status te behou, het duidelik gewys dat die eise onbekostigbaar is.”

Phakamile Hlubi-Majola, woordvoerder vir Numsa, sê Eskom mislei mense.

Die vakbond het die aanbod “met minagting verwerp” en glo nie vir ʼn oomblik dat Eskom nie die loonverhogings kan bekostig nie.

“Dit is ʼn leuen. Waarop grond hulle daardie stelling.”

Hlubi-Majola sê die nasionale energiereguleerder (Nersa) het in sy jongste veeljarige prysvasstelling (MYPD4) bepaal dat werkers ʼn minimumloonverhoging van 5,4% moet kry.

“Dieselfde MYPD4-bepaling het gesê dat Eskom nié ʼn verhoging aan steenkoolmaatskappye moet gee nie. Die Eskom-bestuur het dit geïgnoreer en ʼn verhoging van 16% en meer aan steenkoolmaatskappye gegee. Dan het hy die vermetelheid om aan die publiek en werkers te sê hy kan net 1,5% bekostig.”

Hlubi-Majola sê Eskom is ʼn gereguleerde onderneming en kan nie syfers uit sy duim suig nie. “As Nersa sê hulle kan ʼn 5,4%-verhoging bekostig, wie de joos is hulle om anders te sê?”

Volgens haar het vakbonde deur die onderhandelingsproses aanpassings en toegewings gemaak – terwyl Eskom op sy beurt nie ʼn duim wou besgee nie.

“Hulle het geld om te plunder, maar nie vir salarisse nie. Dit is ook die ANC-regering se houding jeens werkers. Hulle wil hê werkers moet aanhou om hulle plundery te finansier, terwyl werkers en hul gesinne moet ly.

“Ministers en uitvoerende hoofde by Eskom hou aan om ten koste van ons op die vet van die land te leef.”

Khangela Baloyi, koördineerder vir die energiesektor by die NUM, sê dié vakbond het ook die 1,5%-aanbod verwerp.

Volgens hom het die NUM, nes ander betrokke vakbonde, toegewings in die onderhandelings aangebied. “Eskom het nie beweeg nie,” sê Baloyi.

“Hierdie is ʼn belediging. Hulle hét die geld om werkers te betaal.”

Baloyi sê terwyl werkers gebuk gaan onder voortdurende prysstygings, verwag Eskom van hulle om tevrede te wees met ʼn 1,5%-verhoging.

Tommy Wedderspoon, sektorkoördineerder vir die energiebedryf by Solidariteit, sê Eskom het die afgelope paar jaar miljarde rande weens korrupsie verloor. En terwyl dié enorme bedrae geld verdwyn het, is betalings vir steenkool steeds verhoog en in sommige gevalle selfs verdubbel.

“Ons het verskeie toegewings gemaak, maar Eskom het bly staan op sy 1,5% en die vermindering van sekere diensvoorwaardes.”

Hy sê op dié manier word die verhoging eintlik gefinansier deurdat ander voordele verminder word.

“Eskom het nie ʼn millimeter beweeg nie.”

Die beleërde kragvoorsiener het vroeër vanjaar ʼn tariefverhoging van net meer as 15% in werking gestel, ver meer as inflasie.

Die maatskappy se skuldlas het teen die einde van Maart op sowat R401 miljoen gestaan nadat hy dit met nagenoeg R83 miljard verminder het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anel ·

Daar is mense wat nie eers betaal word vir die werk wat hulle doen nie en die spul dring aan op belaglike verhogings vir werk wat hulle nie eers doen nie. Dis seker een van die redes hoekom daar nou weer beurtkrag is!!

Marietjie ·

Eskom personeel het soveel voordele en verdien NIE meer as 1.5 persent verhoging nie. Neem hul groot etes met ‘n vrug en ‘n koeldrank wat slegs R5 kos, weg. Dit moet ‘n astronomiese bedrag elke dag beloop. Bestuur se salarisse is bogemiddeld en dan het hul veel meer bestuur personeel as wat nodig is. Nee a, begin besnoei by die “fat cats”

Persheks Adri ·

Privaat sektor betaal geen verhogings nie “due to covid” so waar val hulle uit die bus uit. Ons betaal deur ons ore vir die krag en dan is daar beurtkrag in die koue!

Mallie ·

Dit wys jou die mentaliteit van hierdie mense. Hulle gee nie om as daar mense is wat afbetaal word of nie, maar verhogings wil hulle he.

Nico ·

Waar in de hoenders moet die geld vandaan kom, die kostes van elektrisiteit word gereeld verhoog, waar gaan daardie geld heen. Eskom beskuldig apartheid dat die toerusting verouderd is, Eskom het nie daarna gekyk en dit onderhou nie. Ek wil van Eskom weet waar is die geld heen, seker in die Guptas se sakke.

annie ·

Die unies wil dit nie aanvaar dat De Ruiter onskuldig is nie, want dit is juis die plan om hom uit te werk sodat die agteruitboerdery kan voortstu. Erge moontlikhede lè voor. Siener Van Rensburg se voorspooksels is dalk nie so vergesog nie. Die ANC-revolusie se evolusie probeer met ‘n stok in die wiel draai… hul eie stok.

Strandloper ·

Dit gaan nag wees as hul strike…of nie? Hul doen anyway niks by die werk nie.

MakersMark ·

Maak nie saak wie wat by Eskom doen nie bly seker een van die mees ellendigste instansie in die wêreld. Baas na baas word aangestel, wit of swart, ellendigheid gaan net voort. Iemand moet iets begin reg doen hier. Begin om 50% van die staf af te lê.

absoluut ·

Gee hulle werk vir die wat weerhou word om werk te kry en dit sal onmiddelik beter gaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.