Eskom lê beslag op Matjhabeng-munisipaliteit se rekening

Eskom het op ʼn rekening van die Matjhabeng-munisipaliteit in die Vrystaat beslag gelê in ʼn poging om die miljarde rande wat die plaaslike owerheid hom skuld, in te vorder.

Die munisipaliteit bedien dorpe soos Welkom, Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg en Virginia.

Die munisipaliteit skuld Eskom altesaam R3,4 miljard vir grootmaatkragvoorsiening. Die kragvoorsiener het Vrydag beslag gelê op die bankrekening ingevolge ʼn hofbevel wat reeds in 2014 toegestaan is en die rekening is sedertdien gevries.

“Eskom is besig om die balans [van die rekening] te bepaal en die geld daarin na Eskom oor te betaal in ʼn poging om van die geld wat die munisipaliteit hom skuld, in te vorder,” lui ʼn verklaring van Eskom.

Hy sê hy gaan intussen voort om alle moontlike regsremedies te ondersoek om te verseker dat die uitstaande skuld vereffen word.

Eskom het tot die stap oorgegaan nadat die munisipaliteit herhaaldelik versuim het om vir grootmaatkragvoorsiening te betaal.

Die kragvoorsiener het vanjaar nog net vyf betalings van R66,5 miljoen van die munisipaliteit gekry, hoewel sy rekening vir dié tyd reeds R1,3 miljard beloop.

Eskom was sedert 2014 betrokke in verskeie hofgedinge met die munisipaliteit. Destyds het die plaaslike owerheid se uitstaande skuld R372 miljoen beloop. Hy het ook verskeie ander maniere probeer om die geld in te vorder.

“Die munisipaliteit het deurlopend versuim om sy verpligtinge en die betalingsooreenkoms, asook hofbevele, na te kom, wat beteken die skuld vir dié tydperk het tot R3,4 miljard toegeneem.

Munisipaliteite landwyd het Eskom teen die einde van Julie ʼn gesamentlike R31 miljard geskuld en die kragvoorsiener sê dit bedreig sy volhoubaarheid.

“Munisipaliteite het ʼn verantwoordelikheid om hul finansiële verpligtinge vir die grootmaatverskaffing van elektrisiteit na te kom,” het Eskom gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Scalla ·

Laat hulle op 20 liter dromme sit en gesels, dit pas by hul bestuur styl.

Casper ·

Genade,hoe het die munisipaliteit dit reggekry om soveel geld te skuld.Almal kla oor beurtkrag maar hoe moet escom verbeteringe aanbring sonder finansies.Munisipaliteite sal moet optreë teen wanbetalers.

Hans ·

Casper, die munisipaliteite IS die wanbetalers, hulle betaal nie die gelde wat ingevorder word oor aan eskom nie

Persheks Adri ·

Ons betaal, maar lyk my die munisipaliteit betaal nie ons geld oor nie! Gaan hier in Randfontein ook so. Straat ligte is aan in die dag ook en werk glad nie in die aand nie.

Johan ·

Die day/night switch is seker met n night/day switch vervang, ook net hulle sal dit regkru pateties verby.

henndrik ·

Ek reken die raad se persoonlike rekeninge moet ook op beslag gele word want hulle het dit vermors

Nico ·

Eskom kan nie vinger wys nie, hoeveel bedrog en korupsie het hulle nie gepleeg nie. Eskom kry eers julle sake in orde.

Nie Verbaas ·

Dis goed en wel dat Eskom agterstallige skuld probeer verhaal maar hulle doen niks om 16000 oorbodige werknemers af te dank nie. Inteendeel, hulle noem eerder belaglike persentasie krag prys verhoging wat hulle nodig het om te funksioneer.

Mallie ·

Eskom moet liewer die elektrisiteit self bestuur en die munisipaliteite uitsny. Dan sal daar minder bedrog wees.

Elize ·

Jy reken – Wie kry sulke geweldige groot bonuses en verhogings elke jaar sonder om iets reg te doen. Kom ek fluister dit gou vir jou Mallie -ESKOM

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.