Eskom spook om hoër fases beurtkrag te vermy

(Foto: Natsuki via Unsplash)

Eskom het Vrydagaand die feit betreur dat beurtkrag na fase 6 verhoog moes word, maar wil graag alle Suid-Afrikaners verseker dat personeel by die onderskeie kragstasies onverpoosd werk om die eenhede weer aan te skakel.

“Dit is belangrik om te noem dat beurtkrag slegs as ʼn laaste opsie ingestel word om die stabiliteit van die nasionale kragstelsel te verseker,” het Eskom in ʼn verklaring gesê.

Buiten kragopwekkingsuitdatings word die huidige situasie vererger deur die verlies van vier groot eenhede wat steeds nie aangeskakel kan word nie.

Eenheid 1, 2 en 3 van die Kusile-kragstasie is tans afgeskakel weens eenheid 1 se rookgaskanaal wat op 22 Oktober 2022 onklaar geraak het. Werk duur voort oom dié eenhede teen November 2023 aan te skakel.

Eenheid 1 by Koeberg-kragstasie is tans afgeskakel vir instandhouding en hervulling en om stoomkragopwekkers te vervang. Dié eenheid sal na verwagting op 6 Augustus 2023 aangeskakel word.

“Die onbeskikbaarheid van die drie eenhede by Kusile en die eenheid by Koeberg 1 het 3 080 MW kapasiteit van die netwerk verwyder. Dit is gelykstaande aan drie fases beurtkrag.”

Eskom is ook besig met inisiatiewe wat ten doel het om te verseker dat die huidige prestasie in die kort termyn nie verswak nie en seker te maak daar is oor die lang termyn ʼn verbetering in die algehele prestasie van die kragopwekkingsvloot.

“Die oorsake van die voortgesette probleme by kragstasies sal ook deur die Kragopwekkingsherstelprogram getakel word. Daar was onlangs verbetering, insluitend verskeie kragstasies wat 70% beskikbaarheid in Maart gehaal het en beurtkrag wat sommige dae opgehef kon word. Eskom wil natuurlik hoegenaamd nie beurtkrag implementeer nie as dit moontlik is. Die kragstelsel bly egter onder erge druk en daar is ʼn groot moontlikheid dat beurtkrag in verskillende fases sal bly voortduur. Die koue front hierdie naweek sal na verwagting ook ʼn verhoogde aanvraag na elektrisiteit beteken en beperkings plaas op die beskikbare kapasiteit, hoofsaaklik in die spitstyd 17:00 tot 21:00. Dit kan verlig word indien verbruikers verwarmers en ander toestelle, wat baie krag verbruik, tydens spitstye afskakel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.