Eskom-werker ontvoer

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: JR/Pixabay)

Eskom het Woensdag bekendgemaak dat een van sy werknemers vroeër vandeesmaand “met geweld deur verskeie aanvallers” ontvoer is.

Die kragvoorsiener sê in ʼn kort verklaring dat verdagtes sowat twee weke gelede glo verskeie skote op een van sy werknemers se motors afgevuur het voordat hulle die persoon ontvoer het.

Die werknemer is later aan die suide van Johannesburg vrygelaat, maar verdere besonderhede oor die omstandighede van die vrylating is nie bekend nie.

Volgens Eskom is die betrokke werknemer dadelik by ʼn hospitaal opgeneem nadat dié glo verskeie kere deur die beweerde ontvoerders aangerand is.

Maroela Media het navraag by die polisie gedoen, maar wag nog op terugvoer in dié verband.

Na verneem is die saak wel aan die betrokke wetstoepassingsowerhede oorhandig, wat dit verder ondersoek.

Dit is onbekend of iemand al in verband met die voorval in hegtenis geneem is en wat die verdagtes se motief met die ontvoering was.

Calib Cassim, tussentydse uitvoerende hoof van Eskom, het intussen die voorval ten sterkste veroordeel.

“Eskom veroordeel hierdie wrede dade en sal onder geen omstandighede enige aanvalle op sy personeel en gesinne duld nie,” sê hy.

“Ons het simpatie met wat die werknemer deurgegaan het en verskaf die nodige ondersteuning aan die betrokkenes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.