Eskom wil wanbetalende munisipaliteite ná hofuitspraak vasvat

(Argieffoto)

Eskom gaan munisipaliteite wat nie hul rekeninge by die kragvoorsiener vereffen nie nou vasvat nadat die hooggeregshof in Johannesburg beslis het Eskom mag elektrisiteit na wanbetalende munisipaliteite opskort.

Pioneer Foods het Eskom hof toe gesleep en gevra vir ʼn hersiening van Eskom se 2018-besluit dat kragtoevoer na die Walter Sisulu-munisipaliteit in die Oos-Kaap afgesny word omdat die munisipaliteit nie sy kragrekening betaal nie. Die munisipaliteit het ʼn ooreenkoms met Eskom oor kragvoorsiening.

Die hof het bevind Pioneer Foods het geen rol te speel in die verskaffingsooreenkoms tussen Eskom en die munisipaliteit nie en het die maatskappy se aansoek met koste van die hand gewys. Omdat Pioneer Foods ʼn kliënt van die munisipaliteit is, het hy geen wetlike reg om die saak teen Eskom aanhangig te maak nie.

Eskom het die uitspraak verwelkom en sê dit bevestig die geldigheid en wettigheid van Eskom se regte, magte en aanspraak ingevolge wetgewing om die toevoer na ʼn wanbetalende kliënt – in hierdie geval die Walter Sisulu-munisipaliteit – op te skort.

Eskom sê die uitspraak het ʼn belangrike regspresedent geskep wat beteken dat hy net verplig is om krag aan betalende kliënte te voorsien.

“Die hof het ook bevind dat Eskom se onderbreking van toevoer na die wanbetalende munisipaliteit belangrik is vir Eskom se oorlewing en dat daar nie van hom verwag kan word om aan te hou om krag aan ʼn niebetalende kliënt te voorsien nie,” het Eskom in reaksie op die uitspraak gesê.

Die hof het bevind Pioneer kon wel ʼn dispuut met die nasionale energiereguleerder (Nersa) verklaar het.

“Die verhouding tussen Eskom en die munisipaliteit is wederkerig in soverre Eskom grootmaatelektrisiteit teen betaling verskaf.”

Eskom sê hy is nou in die posisie om sy skuldinsamelingspogings teen wanbetalende munisipaliteite te verskerp.

Plaaslike owerhede landwyd skuld die kragvoorsiener gesamentlik nagenoeg R31 miljard in agterstallige skuld en hou ʼn groot bedreiging vir Eskom se volhoubaarheid in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Willem ·

En wat van die betalende mense. Gaan Eskom nou direk aan ons krag voorsien

Frans ·

Om dit te doen moet Eskom Munisipale netwerke waarvan sommige nooit onderhou is nie oorneem,dit herstel,alle onwettige aansluitings verwyder,alle meterlesings doen,of almal op ‘prepaid’ stelsel plaas.
Eskom het eenvoudig nie die kundigheid om so’n enorme taak te onderneem nie.

Johann ·

Seker maar reg so Eishkom. Solank julle net AL die wanbetalers dieselfde behandel…laat ek dink? Mmmmmm. Ja wel min of meer alle “misbruikers” wat lekker onwettig connect en gebruik?

Jaco ·

Gaan die ANC-beheerde eskom nou regtig nie-betalende ANC-beheerde munisipaliteite se krag afsny? Dan sny die ANC mos nou die ANC se krag af. Iets maak nie sin nie.

johanf ·

Net so, veral nou, bang hul verloor stemme, nader aan die komende plaaslike verkiesing, hoe minder sal die kredietbeheer verslap, ek weet, ek was daar, weereens, politiek moet uit ń Raadsaal gehou word….

Dup ·

Dit is soos in die ou Weermag,as een droogmaak dan moet almal swaarkry.In hierdie gevalle is dit meestal eerlike belastingbetalers wie nie onwettige krag en water aansluitings het nie en elke maand hulle rekenings betaal.

Oros Soros ·

Een van die domste uitsprake wat ‘n hof ooit gelewer het. Hoe moet ‘n mens nog enige respek vir hulle hê? Jy kan mos nie jou normale burger nou aan die genade oorlewer nie.

Byekonfyt ·

Die swak munisipaliteite vorder minder geld of soms geen geld in by die verbruiker. Hulle prioritiseer salarisse bo die betaling van krediteure. Dan is daar nog bedrog, lae standaarde en onbekwaamheid ook. Dus stem ek saam dat ESKOM geld moet invorder soos dit hoort. Ongelukkig is die gereelde afsny van krag baie probelematies vir die ekonomie en so gaan die kettingreaksie aan in ons derde wêreld..

Dit laat my dink aan hierdie vers:
“….nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie handevou om te slaap, en daar kom jou armoede aangestap, daar oorval die gebrek jou soos ‘n inbreker, sonder dat jy dit kan keer.”

johanf ·

Moes al jare gelede gebeur het, druk moet maar deur deur die betalers op die Munisipaliet en die wanbetalers, al is dit jou buurman gesit word, Raadslede moet maar hul belaglike inkomste op vlak 3 priotiseer word…….

johanf ·

Moes al jare gelede gebeur het, druk moet maar deur deur die betalers op die Munisipaliet teen die wanbetalers geplaas word, al is dit jou buurman. Raadslede moet maar hul belaglike inkomste op vlak 4 priotiseer….ek sou as volg doen…..
1. Eskom
2. Salarisse/Lone
3. Kredieteure ( volgens Begroting en Fondse op hande)
4. Raadslede Toelae, hulle is mos in beheer..
Die is egter my opinie, so gooi maar die afduimpies, of ń beter voorstel dalk…..

Nico ·

Wat van die omkoop geld wat julle ontvang het, dit is Eskom se eie skuld dat hulle nou in die moeilikheid is, nou moet die wat getrou betaal en krag koop daaronder ly. Kyk, na Soweto wat miljoene skuld laat hulle eers betaal sowel as die buurstate aan wie krag voorsien.

Frans ·

Hierdie besluit gaan die ekonomie van nie-betalende dorpe op hul knieë bring en werkloosheid verhoog.Dit doen ook niks vir Ekom se finasiële posisie nie.Hulle sit nog steeds met ‘n enorme skuldlas,vaste koste en ‘n hemelhoë salarisrekening.
Dit dra alles by tot ‘n verhoging in tariewe want die koste moet nou oor verminderde verkope verhaal word. So dit raak alle Eskom kragverbruikers.Die Oplossings is dus nie die afsny van krag nie,maar om die Munisipaliteite se rade onmiddellik te skors sonder betaling en dit onder administrasie te plaas,dws sakeredding.

J ·

Eskom moet direk met gebruikers besigheid doen.

M.a.w. SKAKEL DIE MUNISPALITEITE UIT!

Sodoende word kragvoorsiening ge-DEPOLITISEER!

Moedeloos ·

Ek stem dat Eskom sy wanbetalers se krag afsny maar ongelukkig kom hiermee ongelukkigheid saam omdat gereelde betalers se krag ook afgesny gaan word. Pioneer is n produksie maatskappy hoe gaan dit hul beinvloed en ek is seker hul betaal hul rekeninge gereeld.

J ·

Publiseer asb die munispale rekeningstaat van elke Wyksraadslid sodat ons kan sien wie BETAAL elektrisiteit (en water) en wie nie!

Slegs BETALENDE Wyksraadslede (en ander betaalde munisipale amptenare) mag hulself verkiesbaar stel in die 2021 verkiesing.

Want wanbetalers saboteer die plaaslike regering.

As Wyksraadslede se salarisse proporsioneel aangepas word volgens die % van dienste betalende kiesers in die wyk … dan sal die SA demokrasie regkom!

henndrik ·

Ek verstaan die rede vir die uitspraak maar dan moet daar ‘n toets saak of klasaksie ingestel word om die verantwoordelike persone by die munisipaliteite en die politieke party wat die prsoon geplaas het tot verantwoordelikheid te roep met ‘n gepaste boete wat in persoonlike hoedanigheid betaal moet word. As daar nie aan hulle sakke gevat word nie gaan die tipe wanbestuur nooit ophou nie en die wetsgehoorsame burgers gaan altyd aan die kortste end trek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.