Etiekkomitee moet Blade ondersoek

Dr. Blade Nzimande. (Foto: GCIS)

Die Demokratiese Alliansie het ʼn klag teen die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, by die gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange in die parlement ingedien.

Die DA versoek dat ʼn ondersoek van stapel gestuur word na die ernstige bewerings deur die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) dat die minister, die SAKP en NSFAS se voorsitter, Ernest Khosa, oneerlike belonings ontvang het van ʼn NSFAS-diensverskaffer.

“Indien hierdie bewerings die waarheid is, het die minister die parlementêre etiese gedragskode oortree, asook die beginsels van onbaatsugtigheid, integriteit, objektiwiteit, deursigtigheid, eerlikheid en leierskap wat in dié kode vervat is en van lede van die parlement verwag word,” sê Chantel King, die DA se skaduminister oor hoër onderwys.

“Dit is noodsaaklik dat hierdie ondersoek bepaal of die minister skuldig aan etiese wangedrag en of enige staatsgeld inderdaad wanbestuur is.”

King sê as die minister onskuldig is, soos hy aanvoer, alhoewel hy nog nie enige stawende bewyse verskaf het nie, behoort hy die geleentheid te verwelkom om sy naam in ere te herstel.

“As die minister egter skuldig is, moet hy afgedank word.”

King sê duisende kwesbare studente wat jaarliks op die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) staat maak, word op een of ander manier teleurgestel. “As die geld nie laat betaal word nie, ontvang hulle nooit hulle akkommodasietoelaag nie, of hulle word in die helfte van die jaar verkeerdelik gederegistreer. En elke jaar bied die minister verskonings aan of poog om die blaam te verskuif, soos wat die minister nou doen deur die universiteite te beskuldig vir die laatbetaling van verlede jaar se agterstallige toelaes.

“Dit is duidelik dat minister Nzimande al lankal sy mandaat uit die oog verloor het, om studente te dien wat poog om ʼn voorspoedige toekoms te bou ten spyte van oorweldigende uitdagings – waarvan talle veroorsaak is deur die minister en sy departement se onbekwaamheid, en nou beweerde korrupsie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

M ·

Ek hoop, pleit , maar……. het geen verwagting dat daar hoegenaamd iets hiervan gaan kom …. Hopelik is daar nie méér anc verotte eiers teen die einde van 2026 ( Korrek 2026) in die uitvoerende posisies nie !!!

tweeling ·

Etiek en die cANCer gaan nie saam nie, dis óf die een óf die ander.

domheks ·

cANCer ondersoek cANCer! Grap van die jaar. Mbulula het mos moou verduidelik hoe stem almal saam oor die ‘brandpoel’

Manie ·

Na hoevele korrupsie aantygings teen ANC amptenare is nog nie ‘n enkele 1 amptelik afgedank of vervolg nie. Hulle verdwyn net so stil stil sonder enige gevolge en met ‘n hengse goue handdruk daarby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.