‘Ewige Affie’-beeld bring hulde aan Affie-meisies wat pandemie trotseer

Engela, die ewige Affie. (Foto: Verskaf)

ʼn Bronsbeeld van ʼn Affie-meisie, geklee in ʼn skoolrok met die kenmerkende Affie-skoolkeppie op haar kop en ʼn Bybel in haar hande, sal meisies van dié eeu-oue meisieskool in Pretoria voortaan herinner waar hul krag vandaan kom in tye van beproewing soos tydens die Covid-pandemie.

Vir die viering van AHMP se 100ste bestaansjaar op 28 Januarie is dié splinternuwe beeld, bekend as “Engela, die ewige Affie”, onthul en toegevoeg tot die beeldhouskat waarmee die skool reeds spog. Dié beeld is geskep deur die suksesvolle Pretoriase beeldhouer Ruhan Janse van Vuuren.

Dié skool het weliswaar reeds in 2020 ʼn eeu oud geword, maar as gevolg van Covid-regulasies kon die eeufeesviering eers op 27 Januarie plaasvind met die aanbied van ʼn elegante dinee op die skoolterrein. Tydens die dinee is die skool se eeufeesbundel bekend gestel, en is hulde gebring aan leerders, hoofmeisies, onderwysers, ouers en skoolhoofde wat deur generasies en dekades help bou het aan die ryk tradisies en kultuur wat dié skool in die hartjie van die Jakarandastad vandag steeds kenmerk. Die bronsbeeld van die Affie-meisie is ook by dié geleentheid amptelik bekend gestel.

“Engela, die ewige Affie” kyk af na ʼn gedeelte uit Openbaring 3 wat op die Bybel in haar hande gegraveer is. Daar staan onder meer: Ek het jou lief, omdat jy vasgehou het aan die getuienis van hoe Ek volhard het. Ek sal jou bewaar gedurende die tyd van hewige toetsing van die hele wêreld. Ek kom gou; hou vas wat jy het sodat jy nie jou kroon verloor nie.

Volgens Jaco en Engelize de Lange, oud-Affie-ouers wat die beeld aan die skool geskenk het, is die doel van die beeld om die Affie-meisies daaraan te herinner dat hulle geroep is vir ʼn tyd soos nou, en dat hulle in God se krag en outoriteit moet opstaan en ʼn nuwe wêreld ná die pandemie moet help skep.

Die beeld sal eersdaags ʼn staanplek op die skoolterrein kry, saam met talle ander simboliese beeldhouwerke wat deur tien dekades heen ʼn plek op die skoolterrein ingeneem het, en waaraan erkenning gegee word in die eeufeesbundel.

‘Die Noitje’ deur Anton van Wouw

‘Die Noitje’ deur Anton van Wouw. (Foto: Verskaf)

Die bekendste van hierdie kunswerke is sekerlik die Anton van Wouw-beeldhouwerk “Die Noitje van die onderveld”, of die “Boerenooientjie” soos sy onder leerders bekend is. Dié 42,5 cm hoë bronsbeeld is in 1907 gegiet, en beeld ʼn jong, peinsende Afrikanerdogter in haar tradisionele kleredrag met ʼn kappie op die kop uit. Die geliefde “Noitje”, wat met haar hande gevou staan, maar met haar gedagtes so wyd soos die veld (aldus Van Wouw), se gesig kom ook in die skool se embleem voor. ʼn Replika van die oorspronklike beeld staan in ʼn nis in die skool se rooibaksteengebou waar die meisies haar elke dag kan sien.

‘Ontwaking’ deur Laurika Postma

‘Ontwaking’ deur Laurika Postma. (Foto: Verskaf)

In 1951 sorg die toenmalige skoolhoof, mej. EC Steijn, of “Steyntjie” soos daar liefderyk na haar verwys word, vir die totstandkoming van die beeldhouwerk “Ontwaking”. Op reis deur Italië het Steijn die marmergroewe van Carrara gesien – dieselfde bron waar die marmer vir onder andere Michelangelo se beroemdste werke uitgehaal is.

Dié suiwerwit, glansende marmer het in mej. Steijn die droom wakker gemaak om ʼn kunswerk vir die skool te laat maak, aldus die eeufeesbundel. In oorleg met Laurika Postma [die beeldhouer] is die presiese grootte van ʼn blok marmer uitgewerk en bestel. Steijn het met die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Rome onderhandel om die duursame blok Carrara-marmer via diplomatieke pos Pretoria toe te stuur.

Die kopstuk is in 1951, met die skool se mondigwording, onthul en beeld die “hoopvolle, ontwakende dogter – tot volle wasdom” uit.

In 1962 oorhandig die skool se klassieke klub ʼn tweede Laurika Postma-beeldjie, Daphne, aan die skool. Dié beeld het tragies verlore geraak toe dit in die 1990’s tydens ʼn geleentheid by die skool gesteel is. ʼn Borsbeeld van Mabel Malherbe het ook tussen neus en oë op die skoolterrein verdwyn.

Die gedenkvenster en ‘die venstertjie’

Die “venstertjie” soos dit nou lyk. (Foto: Verskaf)

Langs “Die Noitje” in die skoolgebou se gang staan die “venstertjie” – ʼn klipstruktuur wat lyk soos ʼn klipkerkie met ʼn glasvenster aan die voorkant. Dié struktuur is in 1956 deur die voormalige skoolhoof juf. EC Steijn self gebou. Haar doel daarmee was om die dogters die geleentheid te gee om stukkies inspirasie uit die letterkunde, die Bybel en die natuur met mekaar te deel. Hoewel dié struktuur nie deur ʼn beeldhouer gemaak is nie, leef die tradisie wat Steijn daarmee wou vestig, steeds voort: Elke klas in die skool kry vir een week per jaar die geleentheid om die venstertjie te vul met inspirerende kunswerke, teksverse, gedigte, letterkunde en blomme.

Juf. Holtzhausen besin in 1957 in dié jaar se jaarblad só oor die venstertjie:

So staan hulle smôrens daar – uiterlik één groot, gesellige groep, maar elkeen met haar eie, geheime wêreldjie, geslote en vas teen die dinge en mense van buite. En ek sien hoe die wysheid van vergete eeue, die suiwer denke van digters en dromers van lank gelede, herleef in die raam wat van eenvoudige, sterk hout gemaak is – en ek sien hoe ʼn slanke ligstraal stil en diep val in die blou skaduhart van hierdie kleine-kapel-langs-die-pad, diep en stil val in die hart van die skooldogter met drome in haar oë.

Die “venstertjie” in 1957. (Foto: Verskaf)

Wanneer ʼn mens van buite af deur die skool se voordeur binnekom, is daar ʼn tweede venster wat tot die skool se kunsversameling bydra – ʼn lieflike, gekleurde glasvenster-kunswerk deur die Pretorianer Leo Théron. Die toneel in die venster beeld ʼn fyn vrouefiguur uit – ʼn jong dogter wat opkyk na waar ʼn kring van lig hoop uitbeeld. Met dié venster, en die twee gedenkplate langsaan, word hulde gebring aan Affies-leerders en ‑personeel wat oorlede is. Dis in 1985 deur mev. Gretchen Hesse, die moeder van oudleerling Ilse Hesse wat in 1984 oorlede is, onthul.

Die gedenkvenster deur Leo Théron. (Foto: Verskaf)

Bokkie-beeld moet ‘bang-bang en grootoog’ na die wêreld kyk

Die Bokkie-beeld deur Elly Holm. (Foto: Verskaf)

Met die oprigting en inwyding van die skoolsaal in 1960, nader Steijn die Duitsgebore beeldhouer Elly Holm om vir die skool ʼn standbeeld van ʼn pasgebore bokkie te skep. Met die eerste weergawe van die bokkie was Steijn egter nie tevrede nie, want die bokkie was, volgens haar, te vet. “Hy moet bang-bang, grootoog en op wankelbeentjies na sy omgewing kyk,” was haar terugvoer aan die beeldhouer, wat eenvoudig oor moes begin. Die bokkie staan vandag steeds voor die skoolsaal waar dogters haar elke dag kan groet, en op die bronsplaat langs die kunswerk staan dié woorde:

ʼn Beeld van die begrip van jong lewe. Die jong dogter versinnebeeld in die bokkie – teer, fyn, en wondbaar, met groot oë wat bang-bang op wankelbeentjies na die nuwe omgewing kyk…

Holm maak ook vir die skool twee leiklipfriese wat weerskante van “Die Noitje” hang.

‘Droombeeld’ vir skool se 85ste verjaardag

Die beeld getiteld “Droom” geskenk deur Sanna Swart. (Foto: Verskaf)

Met AHMP se 85ste bestaansjaar in 1995 skenk Sanna Swart, ʼn oud-Affie wat in 1985 gematrikuleer het, die beeld getiteld “Droom” aan die skool. Dié beeld gryp daagliks die verbeelding aan van meisies wat by haar verbystap waar sy op die grasperk tussen die studentesentrum en die Vincent’s‑koffiewinkel haar arms uitstrek. Die beeld verteenwoordig ʼn poëtiese, visuele voorstelling van ʼn jongmeisie se drome.

Nog ʼn beeldhouwerk wat hierby aansluit, is die beeld “Idealisme” deur Elza Dziomba, wat deur die beheerliggaamlid mnr. Tonie Louw aan die skool geskenk is en vandag nog aan die kant van die skoolsaal teen die muur pryk. Volgens rekords is die beeld “Idealisme” ʼn beeld van die opvoedeling wat die steun en stukrag van die opvoeder nodig het in haar strewe om vlerke na die hoogtes te vind. Sy behou egter nog die vryheid van gees om ʼn individu met eie potensiaal te bly – want elke mens het sy eie verlange, strewe, drome en idealisme. 

‘Kompasroos’ herinner meisies aan die wye wêreld

Dis tradisie dat die meisies met hul laaste matriekeksamenvraestel hul skoolskoene uittrek en agterlaat as ʼn skenking, en dan kaalvoet of in skoolsokkies oor die kompasroos in die voorportaal hul toekoms tegemoet stap. (Foto: Verskaf)

In die skoolsaal se voorportaal is nóg ʼn kunswerk wat dogters aanspoor om hul vlerke te sprei en groot te droom.

Toe die skoolsaal in 2013 vernuwe is, is die befaamde en bekroonde Suid-Afrikaanse kunstenaar Willem Boshoff deur die argitekte versoek om betrokke te raak. Sy kunswerk “Kompasroos” is in die voorportaal se vloer ingelê. Volgens Boshoff simboliseer die kunswerk die mens se pogings om sin te maak uit die wêreld om hulle. Windrigtings word kodes, ʼn poging om orde te skep, en wys daarop dat die wêreld groter as ons self is. Die skool se weergawe van hierdie kunswerk is besonders omdat dit die enigste is wat as vloerlegwerk gebruik is, soos ʼn funksionele kompas. Elke stuk marmer wat in die inlegwerk gebruik is, kom uit ʼn ander deel van die wêreld, onder andere Indië, Namibië en Italië.

Die “Kompasroos” is in die voorportaal se vloer ingelê. (Foto: Verskaf)

Wanneer die skoolmeisies oor die kompasroos in die voorportaal van die saal stap, word hulle daaraan herinner dat die wêreld aan hulle voete is, en dat ʼn mens enige rigting kan inslaan waaroor jy droom.

Buiten dié kunswerke spog die skool met ʼn hele aantal ander beeldhouwerke, asook met kunswerke van onder meer JH Pierneef, Maggie Loubser en Erich Mayer.

Eersdaags pryk “Die ewige Affie” ook tussen dié indrukwekkende kuns- en beeldhouwerke op die skoolterrein. ʼn Mens wonder of sy besef in watse geselskap sy haar bevind; watter verantwoordelikheid daar op haar skouers rus. Maar as jy die skrifgedeelte lees wat sy so peinsend bestudeer, weet jy dat sy weet waar haar hulp vandaan sal kom.

AHMP spog ook met verskeie ander beelde en kunswerke: 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Dit is goed om te onthou waar jy vandaan kom en om die ou tradisies lewendig te hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.