Familie hoop vermeende moordenaar bly agter tralies ná ma se branddood

Charlene Pretorius (Foto: Verskaf)

Die familie van ʼn vrou wat dood is nadat haar man glo petrol oor haar uitgegooi en haar aan die brand gesteek het, sê hulle het ver uit die omgewing getrek waar sy vermoor is.

Charlene Pretorius (42) is op 27 Mei vanjaar dood. Haar man, Stephan Pretorius (38), staan tereg op aanklagte wat verband hou met Charlene se moord in die Pretoria-Noord-landdroshof.

“Dis vir ons nou beter waar ons is,” het Elsa Venter, Charlene se skoondogter, Maandag aan Maroela Media bevestig.

Elsa is getroud met Jason Venter, Charlene se oudste kind. Sy suster, Shani, en hul minderjarige halfsussie is in ʼn plek van veiligheid. Sy was 13 ten tyde van die voorval en het glo gesien hoe haar ma brand.

“Ons het haar rapport nou die dag gesien en sy presteer goed. Ons is baie bly daaroor,” sê Elsa.

Dit bly egter moeilik om te weet Charlene se vermeende moordenaar kan dalk op borgtog vrygelaat word.

“Ons wil nie hê hy moet op borgtog vrygelaat word nie,” sê Elsa.

Dit het verlede week, tydens Pretorius se borgtogaansoek, aan die lig gekom dat hy na bewering doodsdreigemente teenoor Charlene se kinders gemaak het.

Charlene se familie het die drukgroep Action Society intussen gevra om hulle by te staan. Die organisasie het ʼn private ondersoeker aangestel wat inligting bekom het dat Pretorius glo dreigemente uit die tronk gemaak het.

Die organisasie sê die private ondersoek wys dat Pretorius glo geen ontsag vir die hof het nie en reeds verskeie beskermingsbevele oortree het.

“Hy maak ook nie leë dreigemente nie. Hy het Charlene [na bewering] aan die brand gesteek, wat haar dood veroorsaak het. Daar is dus geen twyfel dat die drie kinders [van Charlene] in werklike gevaar verkeer nie,” lui die verklaring.

Pretorius hou glo ook ʼn vlugrisiko in.

Ian Cameron, Action Society se direkteur van gemeenskapsveiligheid, het daarop gewys dat Pretorius op die dag van Charlene se dood van die beweerde misdaadtoneel gevlug het.

Pretorius se ouers en suster het volgens die polisie vir Charlene uit die huis hoor gil en na buite gehardloop om die vlamme te probeer blus. Charlene is daarna na die Steve Biko-hospitaal gehaas, waar sy ʼn dag later aan haar beserings beswyk het.

Pretorius het glo ná die voorval in sy motor geklim en opsetlik probeer om Charlene se familielede – wat opgedaag het om haar by te staan – om te ry. Die polisie het later bevestig Pretorius is op die N1-snelweg naby die Sefako Makgatho-afrit in hegtenis geneem ná sy motor met ʼn pap band gaan staan het.

Action Society staan ook Pretorius se aansoek om borgtog teen. Uitspraak word vandeesweek verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.