Familie rou ná botsing op N1 drie eis

Jacques de Jager, sy vriendin Angela Pozzan en De Jager se susterskind, Markus Velthuizen (2) het in die ongeluk gesterf.

ʼn Familie is in rou gedompel ná gister se botsing op die N1-hoofweg in Limpopo wat drie lewens geëis het.

Jacques de Jager (41) en sy vriendin, Angela Pozzan (33), is op die toneel dood nadat die Toyota Land Cruiser waarin hulle gery het in ʼn botsing met ʼn Toyota Yaris betrokke was.

Taks de Jager, Jacques se broer, het gesê volgens inligting tot hulle beskikking het die Yaris se bestuurder die Land Cruiser aan die linkerkant probeer verbysteek. Hy het vermoedelik teen die Land Cruiser gebots, die waentjie wat Jacques gesleep het, het in die ongeluk losgekom en hy het beheer oor die voertuig verloor.

Luan Velthuizen (35) en sy vrou, Anri (33), het albei ernstige breuke in die ongeluk opgedoen. Luan was op sy dag ʼn sterslot van HTS Middelburg en het later vir die Pumas uitgedraf. Hulle seuntjie Markus (2) is ernstig beseer en het enkele ure ná die ongeluk in ʼn hospitaal weens kopbeserings gesterf.

Sy boetie, Lukas (agt maande oud), se linkerfemur is onder meer gebreek. Hy word steeds in ʼn hospitaal in Polokwane behandel, het Taks de Jager gesê.

Jacques de Jager en klein Markus Velthuizen (2) het in die ongeluk gesterf. Markus was ook De Jager se peetkind. Hulle het ‘n baie spesiale band gehad.

Volgens hom het die familie oor Nuwejaar by sy ouers op hul plaas by Waterpoort gekuier. Hulle was Donderdagoggend op pad huis toe, toe die ongeluk omstreeks 10:40 naby Mokopane gebeur het.

Daar was ook drie honde in die voertuig. ʼn Jack Russell-hondjie is beseer en ʼn omstander het hom opgelaai en na die Dierebeskermingsvereniging in Polokwane geneem. Iemand anders het die twee Skotse terriërs op die hoofweg gesien, opgelaai en na die Onderstepoort-dierehospitaal geneem.

“So baie mense op die toneel het gehelp. Vriende het deurgery en kom help om goed op te tel,” het De Jager gesê.

Hy het gesê die familie is dankbaar vir elkeen wat hulle ná die ongeluk bygestaan het, veral die nooddienswerkers.

ʼn Dokter en sy vrou het onder meer op die ongelukstoneel stilgehou en klein Markus dadelik probeer help. Jacques is Markus se peetpa. Hulle het ʼn baie spesiale band gehad, het De Jager gesê.

Begrafnisreëling sal eers later getref word.

Die ongeluk het op die N1 naby Mokopne in Limpopo gebeur. (Foto: Riva Mutshinya/Twitter)

Verkeer op die pad is ure lank ontwrig terwyl die toneel eers ondersoek is en toe opgeruim moes word. Die insittendes van die Yaris was ongedeerd.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê die polisieondersoek sal die presiese oorsaak van die ongeluk bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.