Filmstudente wil droom van Afrikaanse kortfilm verwesenlik

Die groep finalejaarstudente wat betrokke is by die kortfilm (Foto: Verskaf)

ʼn Groep finalejaarstudente in film en televisie van die CityVarsity-kampus in Kaapstad, het die inisiatief geneem om as deel van hulle finalejaarprojek ʼn 25-minute Afrikaanse kortfilm te vervaardig.

Nadia Tromp, vervaardiger van dié kortfilm, vertel dat die groep voornemende filmmakers besluit het om hierdie kortfilmprojek in Afrikaans aan te pak omdat hulle ʼn passie vir die Afrikaanse taal en erfenis deel.

“Ons is baie passievol oor Afrikaanse films en die Afrikaanse filmbedryf,” vertel Tromp.

Volgens Tromp is hulle die enigste groep van CityVarsity se finalejaarstudente wat ’n film in Afrikaans gaan vervaardig.

Hierdie einste groep studente se vorige kortfilm Vreesloos, wat ook in Afrikaans verfilm is, is gekies om op kykNET Silwerskermfees 2019 vertoon te word.

Hierdie jaar beloof hulle om nóg groter te gaan met die verfilming van Terugkeer van ʼn Soldaat. Die film is ʼn verwerking van Dolf van Niekerk se bonatuurlike kortverhaal met dieselfde naam, soos gepubliseer in die versameling kortverhale Verlore Paradyse deur NJ Snyman.

“Ons sien dit as ’n geleentheid om die kuns van verwerking van ou stories uit die Afrikaanse literatuur te verken en ’n bydrae tot die Afrikaanse filmbedryf te maak,” sê Tromp.

Sy vertel dat Anlia Nefdt die meesterbrein agter die konsep van die film is. Nefdt het sowat ʼn jaar gelede aan die konsep van die film gekom. Sy het tóé saam met die bekende Dawid Minnaar gesit om aan die kortfilm se storielyn en draaiboek te werk.

“Anlia is ʼn baie goeie skrywer en ek is mal oor haar skryfwerk. Sy het ook al die nodige kontakte om ons film ʼn hupstootjie in die filmbedryf te gee,” vertel Tromp.

Rika Sennet speel die ma in Terugkeer van ‘n Soldaat (Foto: Maanligmedia/Facebook)

Die hoofrolle in die kortfilm gaan vertolk word deur bekende gesigte soos Rika Sennet van Verraaiers, Egoli en Agter Elke Man, asook Pascual Wakefield wat onder meer te sien is in Fynskrif, Die Boekklub en Die Spreeus.

“Ons voel dat akteurs ’n film kan maak of breek. Te danke aan Anlia se kontakte, kan ons van gesogte akteurs soos Rika Sennet gebruik maak om ʼn film van hoë gehalte te vervaardig. Ons kan op só ʼn manier ook van hulle leer en in die Afrikaanse filmbedryf groei,” sê Tromp.

Kykers kan ʼn emosiebelaaide film met sterk magiese elemente verwag. “Ons wil fokus op die uitbeelding van emosies en veral op die emosionele element tussen die ma- en seun-karakters,” sê Tromp.

Volgens Tromp beoog hulle om die film einde Augustus in Matjiesfontein te verfilm. “Ons het op Matjiesfontein besluit omdat dit by die hele tema en tydperk van die verhaal inpas,” vertel sy.

Die groep jong film-entoesiaste gaan te werk onder hulle eie onafhanklike produksie-maatskappy, genaamd Maanlig Media, wat gestig is juis met die doel om filmprojekte soos hierdie aan te pak.

Alhoewel die entoesiasme vir die projek hoog loop, is die finansiële aspek daarvan wel ʼn groot uitdaging. CityVarsity bied geen befondsing vir vervaardiging van die studente se produksies nie.

“Ons produksiekoste beloop sowat R67 945. Omdat ons onafhanklik staan het ons die finansiële ondersteuning nodig om hierdie produksie te kan vervaardig,” sê Tromp.

Besoek Maanlig Media se webtuiste om uit te vind hoe jy hierdie inisiatief kan ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.