Finale likwidasie van SA Express weer uitgestel

(Argieffoto: Facebook)

Die datum om te bepaal of SA Express finaal gelikwideer moet word, is weer in die hooggeregshof in Johannesburg uitgestel.

Die sukkelende redery is in April verlede jaar onder voorlopige likwidasie geplaas. Die keerdatum vir die bevel om finaal gemaak te word, was Donderdag. Die hof het egter die datum tot 29 April uitgestel.

Die metaalwerkersvakbond Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging (Sacca) het hul steun aan die besluit gegee en sê indien die lugredery gelikwideer word, sal dit ongetwyfeld rampspoedige gevolge vir werkers en hul gesinne hê.

SA Express is in Februarie verlede jaar in sakeredding geplaas en die sakereddingspraktisyns het sowat twee maande later aansoek gedoen om voorlopige likwidasie van die redery.

Die Covid-19-pandemie en die talle reisbeperkings wat daarna in werking gestel is, was ʼn verdere spyker in SA Express se doodskis.

Al verwelkom hulle die verdere uitstel, sê Numsa en Sacca hulle is wel deeglik bewus daarvan dat werkers nie betaal is sedert SA Express in sakeredding geplaas is nie.

“Selfs al bedank werkers en aanvaar hulle vrywillige skeidingspakkette, is daar geen waarborg dat hulle dié geld gaan ontvang nie. Verlede jaar het die departement van openbare ondernemings onderneem om geld vir vrywillige skeidingspakkette vir SA Express-werkers te kry, nes hy vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gedoen het, maar hy het ook nie daardie belofte nagekom nie,” lui ʼn gesamentlike verklaring van die vakbonde.

Hulle sê geen pensioen- of mediesefondsbydraes is die afgelope tien maande betaal nie, wat beteken werkers word tydens die koronaviruspandemie aan hul eie genade oorgelaat.

“Werkers by SA Express het reeds soveel gely. Talle van hulle het alles verloor: huise, voertuie en ander bates. Die nuwe skooljaar begin, maar baie werkers kan nie eens hul kinders skool toe neem of vir hul daaglikse uitgawes betaal nie. Hierdie mense was geesdriftig oor hul werk en het dit met trots en ywer gedoen. Hulle is erger as honde behandel.”

Die vakbonde glo SA Express kan gered word en ʼn noemenswaardige rol in die lugvaartbedryf speel.

“SA Express gaan nie dood weens Covid-19 nie, maar word doelbewus verwoes deur ʼn regering wat niks voel nie en versuim het om op te tree om dekade lange korrupsie en wanbestuur uit te roei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Stof ·

Is die dae van Lugvaaart dalkies getel? Miskien is daar iewers weer ‘n ontwerper wat binnekort die bus herontdek, herontwerp, sodat ons met gemoedsrus kan reis?
Viva Interkaap.

Die Wolf ·

Kan werk. Maar met die ongelooflike goeie wesens wat op die paaie is, sal ek maar baie lugtig wees.

Baardman ·

Numsa en Sacca is kortsigtig. Hoe gouer die redery gelikwideer en dalk oorgeneem word deur persone wat KAN besigheid doen, hoe beter gaan dit vir die werkers wees.

Andries ·

Lyk my die kurators het nog nie genoeg geld gemaak nie , dus die uitstel om meer te skep.

Boeing ·

Kyk bietjie hoe Air Link hulle sake hanteer. Tans die tweede grootste lugredery in Afrika volgens aantal vlugte. Derde volgens aantal passasiers. Met ‘n bekwame hoof aan die stuur van sake dien dit as voorbeeld vir die res van SA se lugbedryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.