Finansiële steun vir SAL, SAUK en Denel op pad, sê Mboweni

Tito Mboweni. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Tito Mboweni, minister van finansies, het gesê hy gaan befondsing uit die gebeurlikheidsreserwes toewys vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), die SAUK en Denel.

Mboweni het egter gewaarsku dat die reddingsboeie nie as ʼn blanko tjek beskou moet word nie. Hy het tydens die nasionale tesourie se begrotingsdebat in die parlement gesê die geld sal toegeken word sodra dit deur die parlement goedgekeur is.

“Ons kan regtig nie so aangaan nie,” het Mboweni gesê en beklemtoon dat daar maatskappye in die lugvaart- en uitsaaisektore is wat gehaltedienste lewer en ʼn wins toon terwyl SAL en die SAUK op regeringsverligting staatmaak.

Mboweni het nie die bedrae wat aan die staatsinstellings gegee sal word bekend gemaak nie. Daar is ook aangekondig dat ʼn spesiale toedelingswetsontwerp op 23 Julie by die parlement ingedien sal word om ekstra geld vir Eskom te kry.

Dit sal uitvoering gee aan ʼn verbintenis deur pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede verlede maand dat ʼn aansienlike persentasie van die R230 miljard in finansiële ondersteuning vir Eskom vir die volgende dekade op ʼn dringende basis beskikbaar gemaak sal word.

Dit kom ook kort nadat dit bekend gemaak is dat Eskom, wat skuld van R420 miljard het, slegs genoeg geld het om sy finansiële verpligtinge tot einde Oktober na te kom.

Denel het verlede maand aanvanklik nie genoeg gehad om sy personeel te betaal nie en kon net sy verpligtinge nakom nadat ʼn lener tot sy redding gekom het. Dit was egter steeds nie moontlik om pensioenbydraes vir die maand te betaal nie. Denel het verlede jaar ʼn verlies van R1,7 miljard gely.

Volgens die nasionale tesourie benodig SAL nog R4 miljard vir die huidige finansiële jaar. Die lugdiens het verlede jaar ʼn reddingsboei van R5 miljard ontvang sodat hy sy skuld kon terugbetaal.

Die SAUK soek R6,8 miljard van die regering. Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, het Woensdag aangekondig dat die SAUK binne die volgende tien dae finansiële bystand gaan ontvang.

Ndabeni-Abrahams het tydens haar departement se begrotingstoespraak in die parlement gesê ʼn gedeelte van die geoormerkte finansiële bystand sal binne die volgende tien dae beskikbaar gemaak word, met die oorblywende balans wat in die volgende 45 dae betaal sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

anoniem ·

Pensioen wat van salarisse verhaal is is nie al wat nie betaal is nie, UIF en SARS wat ook van salarisse verhaal is is blykbaar al vir 3 maande nie oorbetaal nie. ????????????

Gert ·

Wat verwag julle as julle senior personeel aanstel net op grond van hulle velkleur?

John ·

Gebeurlikheidsbefondsing? Krisisbestuur? Mboweni koop nou geskenke uit die noodlenigingskoffer. En as ‘n krisis opduik sal alle kleuters hul spaarvarkies moet inhandig? Binnekort dien wette oor grondgrype en mediese dienste in die sirkustent. Ons sien die pad vorentoe strek deur donga’s en duwweltjies… afwaarts… CR gooi soos ‘n middeleeuse landheer gulde na sy slawe wanneer sy vergulde entourage verby ry in die hoop dat as hy omkyk almal vrolik en dankbaar sal glimlag en dit hierna weer klopdisselboom in ‘sy’ koninkrykie sal gaan…. Bad news prez…

Pieter ·

Nee johan jy is blank ons sal nie werk kry nie net ons belasting geld is goed genoeg

Sê maar net ·

Ek wil ook maar net sê, ek werk vir die staat en is meer bekommerd as jy want daai fondse wat so vrygewig beskikbaar gestel word is deel van my pensioenfonds (GEPF) waartoe ek bygedra het, so dis NIE net sooooo lekker as wat jy dink om vir die staat te werk nie. Ek doen dit al vir 35 jaar en vrees dat ek nie geld vir my aftrede gaan hê nie. Dink weer voor jy net strooi praat, almal is nie korrup en sleg nie

wilma ·

Ek was nog altyd onder die indruk dat indien ‘n besigheid nie wins lewer nie, maak jy dit toe, maar blykbaar was ek verkeerd.
Ek wil graag ‘n versoek aan Mnr. Mboweni rig dat aangesien fondse nie ‘n probleem blyk te wees nie, hoe lyk dit met ‘n minimum bedrag van so R10 000 per maand vir elke SASSA-pensioenaris aangesien geld aanhoudend in bodemlose putte gestort word en die belastingbetalers krepeer.

BlinkStephaans ·

Ai regtig ouens… hoeveel jare steun julle nou al dié bankrot besighede? Is daar niemand daar by julle wat dalk iewers n lig kan aansit sodat julle kan sien dié besighede word deur onbevoegdheid bestuur… en dan maak julle maar n plan om die regte mense op die regte plekke te kry. Of is dit nou n heeltemal griekse begrip vir julle?

Maljan ·

Gaan die bestuursmag by daardie instansies ingekort word? Ek sal nie verbaas staan as hulle meer bestuurders as werkers het nie. Die grootste trok word deur EEN bestuur.

Suzette Geringer ·

Hoeveel keer moet hierdie staatsinstellings ‘n “reddingsboei” kry… dit is mos nou regtig al duidelik soos daglig dat dit nie help nie. Stel bevoegde persone in die regte posisies aan!!!

HPV ·

En so wentel alles af tot die alle geld op is of dit alle waarde verloor het soos in Zim. Wag maar vir die nasionale gesondheidsorg versekering . Viva ANC en die oorlede NP.

Oom Koos ·

Ek is bevrees dat dat daar dadels sal kom van die pogings om die semi-staatsinstellings reg te ruk. Die kultuur van korrupsie in Suid-Afrika sal myns insiens nie maklik uitgeroei word nie.

Jerry ·

Wanneer die reserwes soos brandstof, noodlenigingsfondse ens uitgeput is, dan is dit klaar. Daar is nie n manier wat hierdie regering dit ooit weer sal sien nie. Die onregmatige botallige salaristrekkers by SOE’s gaan alles nog opeet en ek bedoel dit nie lelik nie, ek bedoel dit letterlik!

Chris Ws ·

Van al daai instansies is Escom en Denel die enigstes wat myns insiens “gered” moet word.Ons het NIE die SAL of SAUK nodig nie.Verkoop hulle of sluit hulle.

Deon ·

Niemand sal in Eskom belê nie. Maar die sektor kan wel geprivatiseer word, met Eskom as ‘n deelnemer. Denel moet verkoop word. Indien niemand belangstel nie, maak toe. Dieselfde vir die SAL en SAUK.

Werner ·

Ek dink hull het nog net die pentioen fonds oor om te plunder daar bestaan laankal nie meer iets soos n noodfonds nie

Gert van Wierdapark ·

Die Mini-ster reken dit moet nie gesien word as ‘n Blanko Tjek nie??? Wat de hel is dit anders want jaar na jaar word Biljoene Rande “bewillig (met baie streng vereistes natuurlik soos op 1 April van toepassing). Dis’ n flippen Blanko Kredietkaart – swipe hom hier en swipe hom daar, en siedaar hoe verminder die Staatsdienspensioen-fonds wat die O Bee K probeer bes-tuur in die Verte in waar Niks le en wag.

KrokodilBotha ·

Goeie werk Mnr whatever. En wat dan wanneer die geld ook opraak. Dink hy nou dis die oplossing. ANC gaan nog hope geld in die toilet afgooi vir BEE en regstellende aksies. Dankie ook DA met julle ondersteuning daarvan deur die jare. Daar is nie n oplossing om die vrot spul uit die sloot te kry nie. Oor n jaar lees ons weer die selde nuus. Gaan die Sjineese dan vir hulle geldjies leen.

Theresa ·

Genade, hulle het nou al soveel male gewys hulle kan nie met geld werk nie en hulle bly net kry en kry en kry ten koste van ander……………………………….

Marius ·

“Ons kan regtig nie so aangaan nie.” Tito Mboweni – 2019.
“En tog gaan ons maar so aan en aan en aan…” Marius – 2019.

Gemaskerde Sopbeen ·

Die bodemlose put se bodem is nou amper sigbaar….

Diefie ·

LOS ONS PENSIOEN UIT. HIER KOM GROOT MOEILIKHEID AS DIE REGERING GAAN KRAP WAAR DIT NIE JEUK NIE.

marous ·

Kan nie so aangaan nie , maar ons gaan maar so aan…die pap is lankal op ou grote.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.