Fisieke konfrontasie ontsier parlementêre debat

Argieffoto

Die verskille tussen die DA en die EFF het Dinsdag in die parlement oorgekook in ʼn fisieke skermutseling tussen die EFF-leier, Julius Malema, en ʼn DA-LP van Riversdal, Denis Joseph.

Soos wat die Nasionale Vergadering uitgelê is, is dit noodsaaklik vir Malema of enige ander opposisielid om deur die DA-banke te loop op pad na hul eie parlementêre sitplek.

Toe Malema deur die DA-banke stap, het ʼn woordewisseling tussen hom en die Oos-Randse DA-LP Ghaleb Cachalia ontstaan, waarop Malema gesê het Cachalia moet “voertsek”.

Joseph het aan Malema gesê ʼn mens mag nie so maak nie, waarna Malema hom aan sy das rondgepluk het. Verskeie DA- en EFF-LP’s het dreigend saamgedrom, maar die kwessie is in der minne geskik en sal nou deur die parlementêre owerhede ondersoek word met die oog op tugstappe.

Die debat het getoon dat die EFF geïsoleer staan in sy aandrang dat alle staatsdiensaanstellings permanent moet wees en byvoordele soos medies en pensioen moet insluit.

In sy toespraak het Malema gesê die permanent verklaring van poste is deel van die EFF se basisbeleid om die vermoëns van die staat uit te bou. Volgens hom berokken die gebrek aan ʼn samehangende beleidsrigting deur die ANC-regering die land groot skade.

Die EFF meen die oplossing vir die toekoms is om ʼn geïnspireerde, geskoolde staatsdiens te skep wat soos ʼn private instelling bedryf word.

Malema het gesê stukwerk en tenders is die wortel van die kwaad en daar moet mee weggedoen word.

Namens die ANC het Shelley Makhubela-Mashele gesê hoewel die ANC permanente poste bo stukwerk verkies, is daar geen eenvoudige kitsoplossings nie en vereis verskillende omstandighede verskillende oplossings.

Sy wou weet hoe al die permanente poste gefinansier gaan word en het gevra vir ʼn gebalanseerde benadering.

Die DA-LP Cilliers Brink het sy party se aanslag gelei met ʼn verduideliking dat die verklaring van spesifiek laaggeskoolde staatsdiensposte gesien moet word in die lig van die koers waarteen vergoeding vir sulke poste groei.

Hy het uitgewys dat dit nie help om al die staat se geld op lone uit te gee nie, want dan bly daar niks oor vir dienslewering of maatskaplike toelaes nie.

Volgens Brink is dit ook noodsaaklik om te onthou dat die regering nie eerstens ʼn werkskepper is nie, maar ʼn diensverskaffer. Wat die verklaring van poste tot permanente poste betref, het hy gesê die openbare belang moet swaarder as die onmiddellike voordeel vir die werker weeg.

Vuyani Pambo, EFF-LP, het gesê dis die EFF wat werkers help om die stryd te wen vir sowel beter inkomste as die waardigheid van ʼn permanente aanstelling.

Hy het gesê in die praktyk is dit ʼn rassekwessie, soos enigiemand wat sien hoe stukwerkers wat in die oggend opgelaai word met bakkies sal kan getuig – die bestuurders van die bakkies is almal van dieselfde ras, en die werkers agterop is almal van ʼn ander ras.

Hoofman Elphas Buthelezi van die IVP het hom teen die EFF uitgespreek. Hy meen strenger wetstoepassing teen uitbuiting is die antwoord, en dat die plasing van alle werkers in permanente posisies onbekostigbaar sal wees.

Vir die VF Plus het Wouter Wessels gesê dit is nie ʼn rassekwessie nie en sê selfs as al die wit mense die see ingejaag word, daar steeds armoede sal wees. Wessels het uitgevaar teen kaderbevoordeling en die koste van die aanstel van alle werkers in permanente posisies, want die staatsdiensrekening is volgens hom reeds te hoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Sêmaarnet ·

Raak hulle nooit moeg van die alewige raskaart nie. Ek is al so siek en sat daarvoor en ek wil nog sien wie gaan vir Malema en sy toddlers dissiplineer want hulle doen net wat hulle wil en kom weg daarmee

koos ·

Dis al wat die ANC en EFF het om te speel, anders moet hulle hul eie onvermoë uitwys en dit sal hulle nie doen nie.
Ek wil egter die DA lid versoek om kriminele klagtes te lê. Daar moet so baie teen malema in gebring word dat die staat dit nie meer kan weg wens of ignoreer nie!

Philip van Rensburg ·

Ek dink Malema is so bang vir wat vir hom voorlê dat hy eenvoudig niks en niemand ontsien deur hulle te beledig en selfs aan te rand nie.Persoonlik voel ek dat die parlement destyds moes geweier het dat hulle met rooi oorpakke in die NV inkom.

John ·

Hoe meer aggressie hoe meer Afrika. Die volsin, big chief sitting bull, is in Afrika uitgedink… en toe is Afrika uitgeput… en dit wag steeds om met goue munte gestenig te word vir die flinkdink-dinamika.

Jerry ·

Seersekerlik die hoofrede hoekom die ANC n “failed state” is, is omrede die ANC die staat en SOE’s gebruik het om werk te skep binne hierdie entiteite vir duisende botallige kaders ten einde die ANC se kader strukture uit te brei. Dienslewering kan dus nie geskied soos dit moet nie omrede die geld vir dienslewering na die salarisse van die botallige kaderstrukture gaan. Die ANC se ideologie en beleid om so werk te geskep het vir lojale ANC kaders tydens staatskaping gaan nie reggestel word nie, dienslewering gaan nie verbeter nie en werk buite die staat sal nie geskep kan word nie. Die ANC se woorde om beter diens te lewer is lee woorde. Die eff se woorde vir nog meer werkskepping in die staatsdiens is eerder beduidend, die ANC se dade wat was, wat is en wat nog gaan wees! Die ANC het juis doelbewus die rand laat val met die uitbreiding van die kaderstrukture, maar die ANC gaan nie die rand optel deur dit wat hulle geimplementeer het, tot niet te maak nie, omrede die druk wat die botallige strukture op die tesourie sit, dit gaan noodsaak en regverdig dat privaatfondse en pensioenfondse die enigste lewensvatbare kort tot medium termyn oplossing bied om die rand op te tel onder die voorwendsel dat dit dienslewering sal herstel, maar eintlik sal dit hoofsaaklik aangewend word vir die salarisse van die botallige aangestelde ANC kaders wie nou onregmatig saam op die ANC “gravy train” ry!

Wonder ·

Uhmm, Jan-Jan, wie is die Joseph na wie jy verwys in par 4? Dog ek vra maar net.

Sune van Heerden ·

Dagsê Wonder

Ons vra om verskoning. ‘n Fout het ingesluip toe die berig gepubliseer is. Die eerste paragraaf is nou gewysig om te verwys na die DA-LP van Riversdal, Denis Joseph.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

KrokodilBotha ·

ANC lite vs EFF . Werk hulle nou nie meer saam nie ?? Wat steek die twee partye nou weg. Die parlement van onse Suid Afrika gooi darem lieflik hulle naam weg by eerste wereld lande. Suid Afrikaaners is al gewoond aan die sirkus. Maar ai ai , shame.

Robert ·

En die pers kan ook nie ń oomblik laat vebygaan as Malema deel van ń insident is nie….hulle kan ook maar nie verstaan al die publisiteit is presies wat hy soek nie.

Tong innie kies ·

Jy kan hom bad en aantrek maar jy kan hom NERENS heen vat nie!

Lynette ·

Ag Malema, aangesien jy so kla dat die bestuurders van voertuig wat werkers oplaai, almal van n ander ras is as die werkers, wat daarvan as hulle ophou om werkers op te laai en werkers moet self sien hoe hulle by die wet kom???? Net soos ons???? Ons word nie deur ons werke opgelaai nie en moet self sien hoe ons daar kom!!!! Julle kla oor alles, selfs dit wat tot julle voordeel is. Kartonne!!!!!!

Koos de Meyer. ·

Die werkers is nog gelukkig om opgelaai te word, dit beteken dat hulle nog werk het. Elke dag word daar oor iets nuuts gekla.

Renee ·

Dalk het malema familie in die anc. Maar pasop GOD slaap nie wag net vir die regte oomblik

Foxi ·

Ai tog……as hierdie mannetjie maar net geloof gehad het soos n mosterd saadtjie…..sou die verstand n bietjie oop gewees het.

Dolf ·

Malema sê daar moet weggedoen word met tenders. Hy het ‘n ryk man geword danksy tenders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.