Flinke Proteas terug op wenpad

Izette Griesel in aksie teen Trinidad en Tobago. Die Proteas het die eilandspan met 69 – 28 gewen. (Foto: Twitter/Netball SA)

Die Protea-netbalspan se selfvertroue het vanaand ʼn lekker hupstoot gekry toe hulle op ʼn drafstap met Trinidad en Tobago in Kaapstad afgereken het.

Die Suid-Afrikaners het hul ondersteuners ʼn rede gegee om te glimlag toe hulle die Wêreldbeker-kragmeting met 69 – 28 beklink het.

Afrigter Norma Plummer het vooraf gepleit dat haar span die lesse wat hulle in Sondag se nederlaag teen Jamaika geleer het moet implementeer en die spelers het beslis na haar geluister.

Hulle was nou flink en rats op die baan terwyl hulle die telbord aan die gang gehou het.

Nichole Taljaard het ʼn barshou in die doelsirkel gespeel en sy is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys. Sy het teen Jamaika gewys dat sy ʼn verskil op die baan kan maak en sy verdien ongetwyfeld haar plek in die opdrafspan.

Toegegee, dit was weliswaar nog nie die perfekte vertoning nie terwyl Trinidad en Tobago glad nie met Nieu-Seeland of Australië vergelyk kan word nie, maar die oorwinnig was die doepa wat die Suid-Afrikaners nodig gehad het.

Soos Plummer ná die Jamaika-nederlaag gesê het – die Proteas se Wêreldbeker-reis is nog lank nie verby nie.

Suid-Afrika speel Woensdag om 18:00 teen Nieu-Seeland.

Protea-span: Ine-Marí Venter (doel), Nichole Taljaard (hulpdoel), Izette Griesel (aanvallende vleuel), Bongi Msomi (kaptein en senter), Shadine van der Merwe (verdedigende vleuel), Karla Pretorius (hulpverdediger) en Nicola Smith (verdediger). Plaasvervangers: Owethu Ngubane, Elmeré van der Berg, Khanyisa Chawane, Jeanté Strydom en Phumza Maweni.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie ·

Ons as Suid-Afrikaners is nou al so gewoond aan swak nasionale sportspanne, as ons net iets wen dan is almal eufories. Om n kompetisie te wen is deesdae buite die kwessie

piet ·

Ons was nog altyd baie ver agter die bestes in netbal. Ek dink nie ons kon al ooit vir Aus of NZ in netbal klop nie, nie eers toe Irene van Dyk nog gespeel het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.