Flora-fees ter viering van SA se oudste akademiese botaniese tuin

(Foto: Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin)

Hier is die gras regtig groener en as jy iets van unieke plante wil leer, is dit die plek om te wees – en nou is daar ook ʼn fees!

Die Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin (USBT) – die oudste akademiese botaniese tuin in Suid-Afrika – vier vanjaar sy eeufees.

Die Stellenbosch Flora-fees (SFF), ʼn spesiale week lange fees, sal vanjaar tydens die jaarlike US Toyota Woordfees van 7 tot 15 Oktober plaasvind.

Feesgangers sal nie net die tuin se ongelooflike invloed op bewaring, opvoeding en akademiese ondersteuning kan ervaar nie, maar ook die onlangse infrastruktuur-aanpassings besigtig en die kans kry om te ontspan, kuns te skep, pret te hê en iets nuuts te leer en ontdek.

Dit is die eerste van ʼn jaarlikse gebeurtenis en sal help om geld in te win om die USBT se Flora-fonds te laat groei – ʼn fonds wat bewaringswerk ondersteun.

Dr. Donovan Kirkwood, kurator van die USBT, sê hulle is opgewonde om met die unieke fees te wys wat hulle oor die afgelope 100 jaar in die tuin vermag het.

“Ons nooi graag die Stellenbosse gemeenskap uit om te kom deelneem aan die aktiwiteite wat ons beplan het en om te sien wat die tuin kan bied.”

Die 1,7 ha grootte tuin is in 1922 gestig en is in die middel van Stellenbosch in die Kaapse blommestreek geleë, spesifiek binne die uiters bedreigde laagland-ekosisteme van die wynboustreke.

Volgens Kirkwood is die USBT se bydrae tot plant- en habitatbewaring sigbaar in verskeie inisiatiewe.

As ʼn akademiese tuin wat die US se hulpbronne en belanghebbendes wesenlik ondersteun en finansier, ondersteun die tuin ook ooreenstemmende akademiese werk. Op sy beurt dra die akademiese kundigheid in die omgewing geweldige waarde, navorsing, bewaringsversamelings en opvoedkundige inhoud by.

“Die USBT bewaar nie slegs lewende versamelings wat langtermyn-navorsingsprogramme aan die US ondersteun nie; dit is ook die perfekte plek om die fassinerende en verwante navorsingswerk ten toon te stel.

“Ons lewende Oxalis-versameling van wêreldgehalte en baie ander projekte is slegs moontlik vanweë die samewerking tussen USBT en die Universiteit Stellenbosch se akademiese kollegas,” sê Kirkwood.

Die USBT het tans byna 300 bewaringsgraad-versamelings van spesies wat die werklike risiko loop om uit te sterf. Die meeste van hulle is afkomstig van die onmiddellik aangrensende wynland.

Anders as die meeste botaniese versamelings in Suid-Afrika of wêreldwyd, voldoen die USBT se ex situ-bewaringsversamelings aan wêreldwye beste praktykkriteria in terme van bevolkingsteekproefneming en versamelingsbestuur.

(Foto: Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin)

Deur een van Kirkwood se opvoedkundige “tuintoere” mee te maak kan mens gou verstaan hoekom hierdie tuin een van Suid-Afrika se voorste botaniese tuine is wat bedreigings vir plant- en habitatoorlewing deur opvoeding, navorsing en bewaring aanpak.

Sy passie vir en toewyding tot die bou van hierdie spesiale tuin is ooglopend – so ook die personeel, dosente en studente wat daagliks saam met hom werk. Dis ʼn passie wat in elke deel van hierdie uniek aangelegde tuin afspeel.

“In die bestek van slegs vyf jaar is ek eintlik verstom dat ek daarin kon slaag om ons span te laat groei en betekenisvolle vordering te maak in die rigting van globale ex situ-bewaringsteikens.

“Dit terwyl ons ook verskeie groot infrastruktuur-aanvullings voltooi het of ʼn begin daarmee kon maak.

“Dit is soveel meer vordering as wat ek gehoop het, en ek is so dankbaar vir ons wonderlike personeel en kollegas in SUNCOM en die Lewenswetenskappe-departemente wat die tuin so entoesiasties ondersteun,” sê Kirkwood.

Meer oor die 2023-feesprogram

Besoekers kan van 7 tot 15 Oktober daagliks kom deel in die tuin se feesvieringe vanaf 08:00 tot 17:00. ʼn R60-ingangskaartjie bied toegang tot:

  • Botaniese kunsuitstalling: ʼn saamgestelde versameling van oorspronklike werke deur Suid-Afrika se beste botaniese illustreerders en kunstenaars, asook verkope.
  • Skaars plante te koop: inheemse en eksotiese vetplante, vleisetende plante, skaars aroïede, bolle, en hope spesiale plante, waaronder spesiale vrystellings van die USBT se seldsame plante.
  • Kontemporêre kunsuitstalling van bekende Suid-Afrikaanse skilders, keramiekkunstenaars, drukkuns en houtdraaikuns.
  • Kom kyk hoe die wêreldbekende landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe bou aan ʼn groot beeldhoukunswerk wat ʼn plaaslik bedreigde plant en die USBT-missie uitbeeld.
  • Keramiekkuns, beeldhouwerke en plantkuns regdeur die tuin.
  • Botaniese-tema-geskenk-, huisware- en dekorverkope. Reproduksies van hoë gehalte van historiese plantillustrasies wat nie voorheen vrygestel is nie.
  • Regstreekse etensuurmusiek.
  • Wyn- en jenewerproe.

Geskeduleerde aktiwiteite in die tuin:

09:00-10:00: Haal asem in die tuin, joga- of pilates-sessies.

10:00-11:00: Daaglikse kuratortoer: leer van bewaring en die tuin se strategie, geskiedenis en nog vele meer. Stap saam met dr. Donovan Kirkwood, USBT se kurator, vir ʼn uur lange stapsessie deur die tuin waar hy sy ongelooflike kennis en ervaring van hierdie unieke plek met jou deel.

12:00-13:00: Daaglikse gesprekke oor spesialisvelde soos medisinale plante, ons unieke Kaapse flora en inheemse plante. Spesiale sprekers sluit in prof. Nox Makunga, prof. Leanne Dreyer, prof. Guy Midgley, dr. Itumeleng Moroenyane en dr. Paul Hills.

Daaglikse werksessies van twee tot drie uur lank moet vooraf bespreek word (R500 tot R850). Werksessies sluit in drukwerk met botaniese plante, sianotipe-vervaardiging, meesterklasse in terraria, voortplanting en bonsai. Bespreking vir alle werksessies sluit ʼn dagpas in.

Spesiale middagetes, piekniekmandjies en drinkgoed sal in die tuin beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.