Fopnuus of feite: Kan die dra van gesigmaskers jou werklik siek maak?

’n Facebook-inskrywing wat “gesonde mense” teen gesigmaskers waarsku, doen sedert 29 Mei die ronde en is al meer as 13 000 keer gedeel. Maroela Media het ondersoek ingestel en kan bevestig dat dit fopnuus is.

Die inskrywing is aanvanklik gemaak deur ’n Facebook-gebruiker wat gereeld samesweringsteorië plaas en deel. “Pasop, gesonde mense, gedeel deur ’n vriend(in)”, lui die plasing wat sedertdien talle kere gekopieer en oor die hele internet geplak is.

Iemand wat die plasing lees, sal onder die indruk wees dat die persoon wat die gekopieerde teks geplak en die wêreld ingestuur het, die ma of pa van die anonieme dogter persoonlik ken, en dit skep ’n vals geloofwaardigheid. Daar is geen bewys dat die “vriend(in)” óf sy/haar 19-jarige dogter werklik bestaan nie.

Volgens die plasing is die 19-jarige meisie ’n “gesonde voorsteliniewerker” by ’n “reusekruideniersware-kettingwinkel” en het sy glo pleuritis of borsvliesontsteking opgedoen omdat sy glo op ’n daaglikse grondslag agt uur lank ’n masker gedra het, en “haar eie bakterieë en koolstofdioksied” ingeasem het.

Dr. Ben Vermaak, oor-, neus-en-keelspesialis van Durbanville, het aan Maroela Media gesê dat niks in die geneeskunde ooit onmoontlik is nie, maar dat pleuritis weens ’n masker “’n bietjie verregaande” is.

Pleuritis is inflammasie van die pleurale sak rondom die longe en volgens Vermaak is dit “hoogs onwaarskynlik” dat ’n mens dit weens die dra van ’n masker kan opdoen. Die oorsake van pleuritis wissel van virale infeksie (griep) en bakteriële infeksie (longontsteking) tot oorerflike siektes en die gebruik van sekere medikasie.

Vermaak meen dat herinaseming van bakterieë (soos in die plasing beskryf) sou beteken dat die bakterieë in die eerste plek reeds in haar liggaam teenwoordig was. “Die herinaseming daarvan sou geen verskil maak nie,” het hy gesê. Verder bevestig hy ook dat die koolstofdioksiedtelling in ’n mens se bloed nié sal vermeerder weens ’n masker nie.

Ander Facebook-inskrywings wat vroeg in Mei versprei is, het beweer die dra van maskers kan tot hipoksemie lei en hipoksie (’n suurstoftekort in die bloed) veroorsaak. Die feitekontroleringswebwerwe AFP Fact Check en Africa Check het dit ’n paar dae later as fopnuus bestempel.

Dr. John Criscione, professor in biomediese ingenieurswese aan die Texas A&M Universiteit, het aan AFP gesê daar kan twee redes wees hoekom ’n persoon hipoksie ondervind: óf die masker sit te styf, óf daar is ’n onderliggende mediese toestand wat asemhaling bemoeilik.

Claudio Mendez, gesondheidsbeleidprofessor aan die Suidelike Universiteit van Chili, het ook aan AFP bevestig: Solank die masker lugvloei toelaat, sal die dra daarvan nié hipoksie veroorsaak nie.

Vermaak het bygevoeg dat die N95-maskers wat deur mediese personeel gedra word in elk geval styf moet sit “om die filterwerking te verseker” en te verhoed dat daar lekkasies aan die kante is. Volgens hom behoort die gewone drielaag-lapmasker egter “net gemaklik” op ’n mens se gesig te sit.

(Foto: Timothy Bernard/ANA)

Hy beklemtoon dat die dra van ’n masker eintlik bloot ’n bewys van hoflikheid teenoor jou medemens is. “Die masker is nie daar om te keer dat jý die virus kry nie, maar wel om jou druppelbesmetting te beperk en ander mense te beskerm,” het hy gesê. “’n Masker sal byvoorbeeld nie keer dat jy die virus deur jou oë opdoen nie.”

Wanneer dit by die dra van maskers kom, beveel Vermaak die “reël van twee” aan: Wanneer twee of meer mense vir langer as twee minute nader as twee meter van mekaar staan, is dit raadsaam om ’n masker te dra. “Dis nie nodig om 24 uur per dag in jou huis of alleen in jou kar ’n masker te dra nie; slegs wanneer jy in kontak met ander mense is.”

Volgens Vermaak kan die Facebook-raad om gereeld jou masker af te haal “om hipoksie te vermy” meer skade aanrig. “Jy sal nie hipoksies raak indien jy jou masker reg gebruik nie. ’n Mens het wel ’n groter kans om Covid-19 op te doen indien jy heeltyd met jou masker peuter en ongewaste hande naby jou mond bring.”

Lees hier hoekom mense fopnuus versprei en hoe jy kan help om dit te bekamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Nie Verbaas ·

Stem nie saam nie. My vrou moes in n winkel op die vloer gaan sit en ons het haar N95 masker afgehaal today sy weer beter gevoel het.

Michael 1 ·

Ek begin ook ongemaklik voel as ek die masker vir meer as n uur dra.

Jsgroen ·

Raak benoud binne ‘n minuut al is die masker hoe dun. Kan niks op my gesig verdra.

Botterblommetjie ·

Ek het verskeie maskers probeer… My keel word seer en ek begin seertjies in my mond kry as ek dit net n rukkie aanhet. My neus raak kriewelrig en my gesig geïrriteerd. Ek persoonlik dink die masker het newe effekte. Ek allerlei meds gebruik al van net na die begin… my kollegas en ander mense het vir my ook gesê dit beïnvloed hulle kele ens. Verder het ek n paar mense hoor sê dit maak hulle benoud en angstig. Ek dink mens moet n breër navorsing daarvan hê

Anoniem ·

My gesig raak rooi wanneer ek masker opgehad het. Veral rondom my neus.

Africangrey ·

Daar is 2 kante as dit kom by dra van makers, positief en negatief.

Anel ·

Ek kan ook glad niie ‘n masker dra nie. Ek word dadelik lighoofdig. Ek het vir my’ ‘n skerm gemaak maar nou het ek permanent sinus en erge sinushoofpyn. So ek dra die vervloekste ding net as ek by die winkel ingaan en as ek buite kom verwyder ek dit onmiddelik en ek kry nog steeds die verskriklikste sinushoofpyn al is dit net vir kort rukkie. Laat die wat die goed wil dra dit doen en los ons ander wat vrylik wil asem haal uit.

Jsgroen ·

Sit met ‘n soortgelyke probleem. Kan niks op my gesig verdra. Gee my ‘n magraine hoofpyn deurdat dit my onsettend irriteer. Probleem is dat ek by geen winkel kan ingaan.

Rhona ·

Ek kan net volgens myself praat. Ek en my dogter is 2 Saterdae terug Mall toe. Albei gesond en opgewonde met my 1ste ‘outing’ in 2 maande. Gebril, gemasker en gehandskoen. Eks 65. Wat n nagmerrie. Ergste 3 ure in my huidige lewe. Ekt n paar keer amper flou geword. My bril het toegewasem. Kon nie asem kry nie en dus ook nie my inkopietog geniet nie. Daardie aand het ek goor begin voel en n hoes ontwikkel wat ek steeds nà 2 weke steeds het. Ek weet nie hoe skoolkinders en werkers 7 ure plus daardie ding kan dra nie. My beskeie mening is dat dit vir geen mens gesond kan wees om jou eie vuil koolsuurgas heeltyd in te asem nie.

Therese ·

Rhona, dankie vir die lekker lag!
Kon die prentjie so sién afspeel.
Sterkte vorentoe.

Cherokee ·

Niemand het gekla nie, Nou dat daar ‘n berig is oor fop nuus en een kommentaar ‘n storie het oor newe effekte, stroom die newe effek stories in. Ag tog, tipies forum kommentare. Ek gebruik ‘n volskerm, met ander woorde oor my hele gesig maar jy kan my steeds sien glimlag, en ek bestuur selfs daarmee. Somtyds, slegs somtyds, wasem dit my bril, en dan haal ek dit af. Of ek haal my bril af en vergeet van die skerm, en kadoef(!) daar lê dit op die vloer. Maak dit skoon met dieselfde alkohol waarmee my rekenaarskerm skoon maak, ek dit is dit.

Anoniem ·

Ons deel net ons ervarings oor die kwessie van masker dra.

Michael 1 ·

Onthou die lug in transvaal is nie so skoon soos in natal nie .Ek gee jou n op duimpie vir jou opinie.

Retha ·

Wel ek het al op sosiale media meer as een keer klagtes gelees. My vriendin het ook verlede week hier in George binne Checkers lighoofdig geraak, so dat sy eers masker moes aftrek om net weer behoorlik suurstof te kry.

Boerkind ·

Klomp bog! Maskers keer nie virusse nie – hulle is beslis belemmerend tydens in- en uitasem! Is dit die volgende foefie – ons moet maskers dra totdat die NWO of WHO anders sê?

Willem ·

Kan Lynne nie asb die corona syfers wat die spul elke dag aan ons voorhou ondersoek nie. Sal baie bly wees

Boertjieman ·

Daar is al voor die Covid-19 pandemie studies gedoen oor die dra van maskers. Ek moet verskil van die dokter. Van die studies het wel getoon dat veral mense wat oefen of fisies stremmende werk verrig, asemhalingsprobleme kry agv die masker wat wel die vrye vloei van lug belemmer. Daar is al heelwat gevalle van longe wat glo “platval”. Eks nie seker van die mediese terme nie maar eks oortuig dat die dra van maskers ook probleme kan veroorsaak. Dit is eenvoudig so dat enige iemand wat dit dra tog opmerklik ongemaklik begin asemhaal wat tog moet aandui dat daar ”n beperking is met die vloei van lug na die longe en dat dit tot probleme kan lei!

Sarel ·

Selfs die Kenners verskil So een van daardie jy is vir dit of dit maar neem.jou eie besluit

Leeuwyfie ·

Wat van wat Judy Mikovits in Plandemic sê. Sy is tog gekwalifiseerd.

Mieke ·

Ek is nie vol fiemies nie, maar wanneer ek ‘n masker dra, voel dit of ek gaan versmoor!!! Ek gebruik deesdae ‘n perspex skerm wat beter werk…

Tienie ·

Maroela ek hou van die Bogmeter foto.

Op die pleling sal ek no 1 en 2 gelyktydig stem.

Die Pres is nie meer in beheer nie en agv dit is daar baie faksies wat lekker munt slaan.

Soos bv Pres kopdoek met die berig van n tyd gelede met die pakhuis vol siggies en dop…..

Mag ons SKEPPER onsten volle teen hierdie ………. aanval beskerm.

Stof ·

‘n Ierse, maar ook katolieke kollega van my, wat ook deeglik onderlê is in virologie, sê mos toe die volgende vir ons: 
“These days, I have to frequently visit the priest to confess.  Every time I put a mask on my face, I know that I am displaying a lie…”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.