‘Ford Kuga’ vat vlam op snelweg

Die voertuig wat Vrydagoggend op die N12 aan die brand geslaan het. (Foto: Twitter / iTraffic Gauteng)

’n Wit motor wat blyk ʼn Ford Kuga te wees, het Vrydagoggend kort na 07:00 op die N12-wes naby Comaroweg in Johannesburg aan die brand geslaan.

Na verneem word, het die twee vroue wat in die voertuig was betyds uit die motor gekom en is hulle ongedeerd.

Anton van de Reede (49), ʼn ooggetuie, was kort na 07:00 op pad werk toe toe die hele voorval voor hom afgespeel het.

Hy het agter die vroue se voertuig gery en gesien hoe vlamme aan die onderkant van die voertuig uitkom.

“Hulle het stadiger begin ry en ek het toe voor hulle gaan ry en stilgehou sodat hulle ook moet stop. Ek het uitgespring en teen die tyd wat ek by hulle gekom het, was hulle ook reeds uit die voertuig. Hulle wou nog goed uit die kar haal, maar ek het vir hulle gesê hulle moet alles los,” het hy Vrydag aan Maroela Media gesê.

“Ek het eintlik net gestop want gewoonlik as daai Kugas aan die brand slaan, kry die mense nie hul deure oop nie. Gelukkig met hierdie een was dit oukei. Ek was redelik reg om die ruite stukkend te slaan.

“Dis al wat deur my kop gegaan het – dat daai mense nie kan uitklim nie. Ek was bekommerd, want jy hoor altyd hoe die mense binne die kar doodbrand omdat hulle nie die deure kan oopkry nie.”

Van de Reede het nie die vroue se besonderhede geneem nie en omstreeks 07:20 weer gery toe die insleepvoertuig by die toneel aangekom het.

iTraffic Gauteng het Vrydag ook ʼn foto van die brandende motor op Twitter gedeel en motoriste gewaarsku om veilig te ry.

Die fabrikaat van die motor is nie duidelik sigbaar op die foto nie.

In 2019 moes Ford miljoene rande opdok vir verskeie Kugas wat aan die brand geslaan het.

Die nasionale verbruikerskommissie (NVK) het die motorreus ʼn administratiewe boete van R35 miljoen opgelê.

Die NVK het destyds bevind dat Ford in werklikheid by verbode gedrag betrokke was deur Kuga-voertuie te versprei wat moontlik kon faal weens ʼn probleem met die verkoelingstelsel.

Die NVK het ʼn totaal van 160 klagtes van verbruikers ontvang wat beweer het hul regte is deur Ford geskend. Die ondersoek het bevestig dat 56 Kugas aan die brand geslaan het.

Ford en die NVK het ʼn skikkingsooreenkoms bereik waarvolgens Ford erken dat hy aanspreeklik is.

Ford het die eise van Kuga-eienaars, wie se motors tussen 2014 en 2017 uitgebrand het, in 2020 afgehandel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Hennie Biebouw ·

“…..gewoonlik as daai Kugas aan die brand slaan, kry die mense nie hul deure oop nie.” <– Dis 'n blatante leuen. Daar is EEN geval van iemand wat dood gebrand het in 'n Kuga in Suid-Afrika, en die omstadighede en oorsaak van daardie insident is nog nie werklik duidelik nie.

Herpiet ·

Ja een geval – gelukkig kon die baie ander wegkom betyds

Koen ·

So dis maar OK omdat dit net een geval van dood is. Verstommend.

Grens ·

As jy ‘n Ford wil ry, hou maar ‘n brandblusser byderhand.

KatjieDeKat ·

Shady en Grens – Ons ry nog al die jare n Ford Ranger, geen probleme nie. Deur die jare het my pa, my ouer broer, altwee Fords gery. Nooit n probleem nie. Ek dink dis net die Kugas wat een of ander inherente probleem het. Weet nie hoe mense nog daardie gevaarlike model wil koop nie. Ford in die algemeen maak goeie voertuie. Weet nie wat het verkeerd gegaan met die Kugas se vervaardiging nie.

koos ·

Watch nou hoe Ford weereens gaan “duck and dive” om aanspreeklikheid te vermy.

JohanR ·

Ek het baie van die Kuga gehou toe hy nog hier verkoop is, maar die brand storie het my af gesit.

Herpiet ·

Ek ry ‘n Ford, maar die Kuga’s moet eerder ontrek word – soos die franse Concord floot…

Misky ·

Ons het so 3 jaar gelede Ford Kuga gehad en papiere van Ford gehad wat sê die “probleem” is herstel op die kar en sal nie probleme gee nie. Ons het met geruste hart die kar gekoop en baie geniet. So jaar daarna, is daar olie lek en motorhawe moet enjin uithaal om reg te kan maak. Toe die enjin eers uit is, wil dit nie weer terug nie. Ons moes ingeneur kry om te help en enjin “kleiner” maak teen ‘n koste van net oor die 20k. Ons gevra wat dit kon veroorsaak en hy gesê kar se enjin moes baie hoë hitte gekry het en enjin laat vergroot/uitsit.

Ek glo Ford “bypass” net die probleem en laat dit nie ooit oorverhit en liggies op paneel aangaan nie. Nooit ooit weer Kuga vir ons nie, al was dit so lekker en luukse voertuig teen billike prys.

Andre ·

3 karre is gemaak , die res is motors
Donkie kar
Perde kar
En n Ford????

Danie ·

Wel dis mos al lankal duidelik dat dit gemors is moet nie jou geld mors nie.Wie wil sy lewe waag in n tydbom.

Niklaas ·

Hierdie nuus is glad nie goed vir die beeld van Ford nie. My Ranger gee egter nooit probleme nie. Dis dalks net die Kuga waar dit kan lol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.