Formele sektor skep poste in 2023

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Kate Sade/Unsplash)

Die formele sektor het in 2023 maar 98 000 poste geskep.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Dinsdag bekend gemaak dat 10,7 miljoen mense teen einde verlede jaar in dié sektor werksaam was. Die oorgrote meerderheid van hierdie werkers beklee deeltydse poste.

Die aantal poste in die formele sektor het in September verlede jaar nog op net minder as 10,9 miljoen gestaan. Hierna het die algehele getal werknemers in die vierde kwartaal met 194 000 (-1,8%) afgeneem, sê StatsSA.

Die agentskap se kwartaallikse indiensnemingstatistieke toon dat die gemeenskapsdienstebedryf die meeste werksverliese vanaf Oktober tot Desember ondervind het (- 214 000), gevolg deur die konstruksiebedryf.

Dié bedryf was 19 000 poste in die tydperk kwyt.

Die sakedienstebedryf het terselfdertyd ʼn verlies van 12 000 werksgeleenthede aangemeld. Die mynbousektor het minder poste gebloei met 1 000 werksverliese gedurende dieselfde tydperk.

Sekere bedrywe het egter gedurende die vierde kwartaal van 2023 gegroei.

Die handelsbedryf spog met 56 000 meer poste, gevolg deur die vervoerbedryf met 2 000 meer poste.

Die elektrisiteitsbedryf het 1 000 poste in die vierde kwartaal bygekry.

StatsSA sê ook dat voltydse indiensneming met 5 000 werksgeleenthede afgeneem het: van 9 498 000 in die derde kwartaal van 2023 tot 9 493 000 in die vierde kwartaal.

Verskeie nywerhede het afnames in voltydse indiensneming tydens die vierde kwartaal beleef. Die konstruksiesektor het ʼn daling van 13 000 poste waargeneem, gevolg deur die vervaardigingsbedryf met ʼn verlies van 12 000 poste en die gemeenskapsdienstebedryf met ʼn verlies van 11 000 poste.

Die handelsbedryf het egter ʼn toename van 31 000 voltydse poste aangemeld.

Die aantal voltydse poste in die formele sektor het op ʼn jaargrondslag met slegs 12 000 vanaf Desember 2022 tot Desember 2023 gestyg.

Dít terwyl deeltydse indiensneming ʼn jaar-tot-jaar-styging van 86 000 poste ondervind het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Goldy ·

Ons gaan nou baie regeringsopgediste grafieke en statistieke van groei sien tot die verkiesing. Als wolhaarstories. Petrolprys gaan ook binnekort val.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.