Foto’s: Alvi net meer as ʼn jaar later weer vry

Daar word gereed gemaak om Alvi vry te laat. Foto: Jean Tresfon

Die Twee Oseane-akwarium het Dinsdag ʼn groenseeskilpad en 34 klein karetskilpadjies in die see suid van Kaappunt vrygelaat.

Die groenseeskilpad, Alvi, is op 18 November 2018 deur ʼn gesin op die strand gevind terwyl hulle met vakansie was in Stilbaai. Die Nasionale Seereddingsinstituut het die gesin gehelp om die skilpad na die akwarium te neem.

ʼn X-straal het gewys daar is ʼn groot obstruksie in sy slukderm. ʼn Groot stuk plastiek het in Alvi se keel vasgesit en dit kon net met ʼn endoskoop verwyder word.

Alvi swem weg nadat hy vrygelaat is. Foto: Jean Tresfon

Volgens die akwarium het Alvi se herstel baie stadig verloop, maar hy is net meer as ʼn jaar later uiteindelik vrygelaat en hulle is hoopvol dat hy sal floreer. ʼn Satellietspoorder is op Alvi aangebring wat die akwarium in staat sal stel om sy bewegings te monitor.

Renée Leeuwner, woordvoerder vir die akwarium, het gesê die data wat van die satellietspoorder verkry word, sal uiters waardevol wees aangesien net seksueel volwasse wyfieskilpaaie gewoonlik na land terugkeer om eiers te lê.

Een van die karetskilpadjies word vrygelaat. Foto: Jean Tresfon

“Die meeste merkerprogramme kan dus slegs data van hierdie skilpaaie versamel, aangesien dit die skilpaaie is wat die meeste deur mense aangetref word. Ons vermoed dat Alvi ʼn mannetjie is, maar selfs al is Alvi ʼn onvolwasse wyfie, sal dit interessant wees om te sien hoe hy of sy kies om te migreer.

“In die natuur kom mannetjieskilpaaie en amper volwasse skilpaaie soos Alvi nooit aan land nie. Daar is baie min bekend oor hul bewegings – in werklikheid word hierdie tydperk van ʼn seeskilpad se lewe ‘die verlore jare’ genoem.”

Een van die karetskilpadjies wat vrygelaat is. Foto: Jean Tresfon

Leeuwner het daarop gewys dat dit ʼn baie besige jaar by die akwarium was met 226 skilpadjies wat gered en in die akwarium se sorg was of is. Volgens haar is 85% van die skilpadjies suksesvol gerehabiliteer en is talle ook reeds vrygelaat, waaronder die 34 karetskilpadjies wat gister vrygelaat is.

Volgens Leeuwner sal daar in 2020 net nog vier skilpaaie in die rehabilitasiefasiliteit wees. Dit sluit in ʼn groenseeskilpad genaamd Bob, ʼn karetskilpad genaamd Anette en twee skilpadjies wat nog nie sterk genoeg is om vry te laat nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frieda ·

Plastiek is ‘n euwel!!
Goeie nuus van die skilpaaie, dankie vir mense wat ingestel is om na alle osean bewoners om te sien.

Attie. ·

alle skilpaaie is ‘n bewys dat God lewe. Geen skilpad het alooit haar eiers gesien nie maar le dit in ‘n voorbereide gat met die agterpote gegrawe, ‘n smal tonnel afwaarts en ruimer onder om die hoeveelheid eiers te huisves. Skilpaaie (land en see) broei binne uere van mekaar uit en is daarna op hulself aangewese vir oorlewing. Hulle is deel van die voedselketting en slegs enkeles word groot.. Ek dink dit is noodsaaklik in tye waarin ons leef dat opgeleide persone die klein seeskilpaadjies neem en in akwarium huisves tot hulle groot genoeg is om nie deur voels en visse gevreet te word nie. Net my opinie…..

Skillies ·

Alles van die beste Alvi en Karetjies. Jammer dat ons die oorsaak is van julle pyn en lyding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.