Drie metropolisiebeamptes van Pretoria moes Maandagmiddag vir hul lewe vlug nadat ʼn groep ontstoke ANC-lede hul amptelike voertuig aangeval het.
“Hulle was besig met roetinepatrollie, onbewus dat hulle in die rigting van die betogers ry,” het Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, aan African News Agency gesê. “Hulle is met klippe bestook. Al drie is beseer. Hulle kon van die betogers weghardloop en het hulp ontbied. Die betogers het gevlug.”
Die betogers het die amptelike motor op die besige kruising van Francis Baard (Schoemanstraat) en Beckettstraat in Arcadia omgerol.
Die gewelddadige betogings het Sondag in Pretoria begin ná die ANC aangekondig het dat Thoko Didiza die party se burgemeesterskandidaat vir dié stad sal wees.
Volgens omstanders het die betogers ook ʼn motoris, wat foto’s van die onluste wou neem, se selfoon gegryp en dit vernietig.
Mahamba kon nie bevestig aan watter politieke party die betogers behoort nie. “Ons wil nie bevestig dis die ANC of enige ander party nie. Ons sê dit het gebeur en ons stel ondersoek in. Ons sal die oortreders vind.”
Paul Mashatile, voorsitter van die ANC in Gauteng, het Maandag sy takke in Pretoria versoek om Didiza te ondersteun tydens die munisipale verkiesing op 3 Augustus. Hy het gesê Kgosientso Ramokgopa, die huidige burgemeester, sal sy dienstermyn voltooi. “Hy is ook die streeksvoorsitter in Tshwane. Hy sal saam met comrade Didiza werk,” het Mashatile gesê.
Die ANC in Pretoria is glo verdeeld tussen Ramokgopa en sy adjunk streeksvoorsitter, Mapiti Matsena. Matsena was glo bo-aan die lys as burgemeesterskandidaat.
Ramokgopa is in 2011 deur die provinsiale uitvoerende komitee as burgemeester aangewys om by sy tannie, Gwen Ramokgopa, oor te neem. Sy is in daardie stadium as die adjunkminister van gesondheid aangestel.
Maroela Media verneem die geweld het intussen ook na Soshanguve, Mamelodi en Atteridgeville uitgebrei waar brande in die straat gestig is.
- Die amptelike Tshwane-metropolisiemotor wat omgerol is (Foto aan Maroela Media verskaf)
- Die amptelike Tshwane-metropolisiemotor wat omgerol is (20 Junie 2016) Foto: Jonisayi Maromo / ANA
- Die amptelike Tshwane-metropolisiemotor wat omgerol is (20 Junie 2016) Foto: Jonisayi Maromo / ANA
- Beamptes keer weer die amptelike Tshwane-metropolisiemotor wat omgerol is, op sy wiele (20 Junie 2016) Foto: Jonisayi Maromo / ANA
- Beamptes keer weer die amptelike Tshwane-metropolisiemotor wat omgerol is, op sy wiele (20 Junie 2016) Foto: Jonisayi Maromo / ANA
- Die amptelike Tshwane-metropolisiemotor wat omgerol is, word weggesleep (20 Junie 2016) Foto: Jonisayi Maromo / ANA
- Brandende strate in Atteridgeville (20 Junie 2016) (Foto aan Maroela Media verskaf)
- Brandende strate in Atteridgeville (20 Junie 2016) (Foto aan Maroela Media verskaf)
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
32 Kommentare
Ons land sal nooit weer die selfde wees nie en nooit weer reg kom nie want daai betogers kom niks oor van die skade wat hule aan rug nie.
23 Putco busse is ook al uitgebrand. Een persoon is geskiet.
Die manne kry koud! !!
Glo nie eens hul weet waarom hul so moet optree nie. Ons land in chaos elke dag en dis te verstane met geen voorbeeld van ‘n leier.
Op sy kop…
Ek dink hierdie gaan een van die geweldadigste verkiesings ooit wees. As dit nou al so gaan dink hoe gaan dit wees as die ANC sekere metros en munisipaliteite gaan verloor