Foto’s: Disney+ betower met magiese SA bekendstelling

Gaste is met ʼn ontploffing van blinkers en vlamme verras. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Bekendes en sosialemediabeïnvloeders het Woensdagaand in hul beste Disney-pakkies op die blou tapyt gepronk tydens die Suid-Afrikaanse bekenstelling van die Disney+-stromingsdiens.

Die skouspelagtige funksie is by die Jody Scheckter Paddock-area by die Kyalami Grand Prix-renbaan in Johannesburg aangebied en in eg-Disney‑styl het alles – van die kos tot die vermaak – betower.

Gaste is met glinsterende blou drankies en springmielies verwelkom en is daarna saamgenooi om op ʼn virtuele CGI-gedrewe reis oor Suid-Afrika te gaan en te sien hoe Disney se kenmerkende en nostalgiese towerformule oor die land versprei word.

Dié toweragtige toertjie – soortgelyk aan dié wat by Disney World-pretparke plaasvind – het gewys hoe blou ligte die Moses Mabhida-stadion in Durban, die silo’s by die Zeits-museum in Kaapstad en die FNB-stadion in Johannesburg ophelder en gunsteling‑Disney-tonele daarop projekteer. Uiteindelik het die ligte die Kyalami-renbaan bereik en gaste met ʼn ontploffing van blinkers en vlamme verras.

Die funksie is by die Kyalami Grand Prix-renbaan in Johannesburg aangebied. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Ander Disney-inhoud wat deur die jare vervaardig is, waaronder dié van Pixar, Marvel, Star Wars, National Geographic en Star, is elk met sy eie unieke vertoning – met dansers en koswaentjies wat by hul tema aansluit – bekendgestel.

Maroela Media het vroeër berig dat dié handelsname se programme saam in die Disney-hoed gegooi word en kykers toegang gee tot titels soos Grey’s Anatomy, The Kardashians, Pam and Tommy en The Dropout.

Suid-Afrikaanse gehore moes maande lank in afwagting broei om dié stromingsdiens, wat reeds in 2019 in die VSA, Kanada en dele van Europa vrygestel is, uiteindelik te geniet. Christine Service, senior visepresident en algemene bestuurder van Walt Disney Afrika, sê egter die afwagting was die moeite werd.

“Daar is meer as 1 000 rolprente, 1 500 reekse en 200 oorspronklike skeppings te sien. Al daardie kosbare herinneringe en nostalgie wat dikwels met Disney vereenselwig word, sowel as die opwindende nuwe inhoud wat die platform bied, is nou alles op een plek vasgevang. Kykers gaan so verras en oorweldig wees met die ure se genot waarna hulle nou kan uitsien.”

Disney se plaaslike baas terg dat sy self nie baie tyd kry om te ontspan nie, maar egter werk daarvan gemaak het om die stromingsdiens “deeglik uit te toets” voor dit aan gehore beskikbaar gestel is. “Ja, ek moet bieg ek het reeds die helfte van The Kardashians gekyk, maar dit was alles vir werksdoeleindes,” skerts sy.

Christine Service, senior visepresident en algemene bestuurder van Walt Disney Afrika. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Bekendes soos Jacaranda FM-aanbieder Rozanne McKenzie, voormalige 7de Laan-akteur en regisseur Christo Davids en televisieaanbieder en sosialemediapersoonlikheid Roxy Burger het ook die spoggerige geleentheid bygewoon.

Davids vertel dat hy heel eerste die Marvel-reeks Moon Knight gaan stroom, maar ook uitsien om sy gunsteling‑ “klassieke” animasiefliek The Lion King op Disney+ te geniet.

Burger en McKenzie is soos Service ook opgewonde om weer aan te sluit by die avonture van televisie se bekendste familie in die nuutste aflewering van The Kardashians.

“Natuurlik gaan ek my dogtertjie as verskoning gebruik om self weer The Little Mermaid te kyk,” voeg Burger met ʼn knipoog by.

  • Disney+ se maandelikse koste beloop R119 per maand of R1 190 per jaar.
  • Die diens is op TV-, rekenaar-, selfoon- en tabletskerm beskikbaar.
  • Een intekenaarskap kan sewe profiele bevat, en vier van die profieleienaars sal tegelykertyd van die stromingsdiens gebruik kan maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Marius ·

Nou die maklike besluit. Kyk ons disney of het ons brood om te eet.

Jaada ·

Hou verby, Disney is deel van die woke kultuur in Amerika – heeltemal uitgehak en nie meer die Disney van ouds. Is nou heeltemal polities en links, bekyk alle nuwe reekse met ‘n vergrootglas!

R1ker ·

Netflix se eie produksies is ook maar net so erg. Die woke goed word in jou keel gat af gedruk

Twallie ·

Na die sirkus wat hulle in die VSA geskep het met hul woke nonsens, kan hulle maar verby hou.

Jean ·

Ek stem saam oor Disney en hulle “wokeness mal wees” maar ek het Disney + en dit is vir my beter as Netflix. Ou flieks op wat geen “wokeness” bevat nie.

Annie Webb ·

Goed om in die kommentare te sien ons mense weet wat aangaan. Beide Disney en Netflix is so woke as kan kom en behep met transgender en al die ander woke bollie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.