Marvel, Star Wars óók beskikbaar op Disney+

(Foto: verskaf)

Suid-Afrikaners kan hul vere begin regskud vir die aankoms van die stromingsdiens Disney+ wat Woensdag, 18 Mei, op ons voorstoep land.

Dié diens bied indrukwekkende en veelsydige inhoud en sal kykers die geleentheid bied om rolprente en reekse wat nog nooit vantevore op een diens beskikbaar was nie, te kyk.

Christine Service, senior visepresident en algemene bestuurder van Walt Disney Afrika, het tydens ’n virtuele vertoonvenster Donderdag verduidelik wat die stromingsdiens beskikbaar stel.

“Vandag is werklik ’n betekenisvolle dag,” het Service gesê.

Nie net gaan Suid-Afrikaners toegang hê tot alle Disney-inhoud wat deur die jare vervaardig is nie, Pixar, Marvel, Star Wars, National Geographic en Star se inhoud word ook in die hoed gegooi.

“Ons wil vermaak, inlig en inspireer met ons inhoud.”

Service het verduidelik dat dit die eerste keer is dat Suid-Afrikaners elke Star Wars-rolprent en -reeks op een stromingsdiens sal kan kyk.

Al die oplewerings van die Marvel-faam sal ook ten toon gestel word, waaronder Wanda Vision en Moon Knight.

Star bied titels soos Grey’s Anatomy, The Kardashians, Pam and Tommy en The Dropout.

Service het tydens die vertoonvenster verduidelik dat hulle beoog om teen die einde van 2024 altesaam 230 tot 260 miljoen intekenaars wêreldwyd te hê.

Suid-Afrika is maar die eerste van baie bestemmings wat Disney+ agter die rug kry, aangesien daar nog om en by 40 lande is waar die diens binnekort van stapel gestuur gaan word.

Ouers wat bekommerd is oor die aard van die inhoud en wat graag die kleingoed in hul huis teen sekere beeldmateriaal wil beskerm, kan van twee beskermingsopsies gebruik maak.

Die eerste is die skep van ’n kinderprofiel, waarop inhoud met ouderdomsbeperkings nie beskikbaar sal wees nie. Hulle kan verder gaan deur die tweede opsie ook te gebruik. Hierdie opsie behels die skep van ’n wagkode op die volwassenes in die huis se profiele.

Een intekenaarskap hou sewe profiele in, en vier van die profieleienaars sal terselfdertyd van die stromingsdiens gebruik kan maak.

Daar sal meer as 1 000 rolprente, 1 500 reekse en 200 oorspronklike skeppings op die diens beskikbaar wees.

Service het ook benadruk dat die diens daarop sal fokus om van plaaslike talent in die toekoms gebruik te maak, en dat toekomstige Suid-Afrikaanse produksies op die tafel is.

Die diens sal beskikbaar wees op TV-, rekenaar-, selfoon- en tabletskerms. Daar is ook ’n ooreenkoms wat met MultiChoice aangegaan is, en DStv sal Disney+ aan hul Explora Ultra-gebruikers beskikbaar stel.

  • Disney+ se maandelikse koste beloop R119 per maand of R1 190 per jaar.
  • Diegene wat voor Dinsdag, 17 Mei, vir die diens registreer, sal afslag kry en sal slegs R950 vir ’n jaar lange intekenaarskap hoef te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.