Foto’s: Duisende hektaar in Vrystaatse brande verwoes

(Foto: Verskaf)

ʼn Geskatte 30 000 ha grond en weiding is vernietig toe wegholveldbrande die afgelope naweek in die Soutpan- en Brandfort-distrik in die Vrystaat gewoed het.

Vier groot veldbrande het Vrydag in die Dealesville-, Soutpan- en Brandfort-distrik uitgebreek en groot skade aan veld, infrastruktuur en eiendom aangerig. Talle veevrektes is ook aangemeld.

Die provinsiale brandbestuursentrum het Vrydag omstreeks 20:00 die veldbrandbestuur-noodspan geaktiveer, wat bestaan uit ʼn voorvalbestuurspan, vyf Working on Fire-spanne en altesame 130 Wildland-brandbestryders.

Volgens Johann Savage Breytenbach, bevelvoerder van die oorhoofse brandbeskermingsvereniging (FSUFPA), is die brande teen Saterdagmiddag in bedwang gebring.

“Daar was gister teen 16:00 geen opvlammings of uitbreiding van die vuurlyn nie. Te danke aan die vinnige reaksie op die brande en samewerking is die brande heeltemal in bedwang gebring,” het Breytenbach Sondag bevestig.

Volgens dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), is ʼn kitsopname Saterdag gedoen om die onmiddellike behoeftes van geraakte boere te bepaal.

“Noodvoerrantsoene was in daardie stadium die grootste behoefte. Boere en brandbestryders was uitgeput, maar boere moes hul vee gaan soek, verskuif en versorg. Hulle moes ook so gou as moontlik met herstelwerk [van byvoorbeeld heinings] begin,” het Armour die naweek gesê.

“’n Gedetailleerde beoordeling van die omvang en skade wat deur die brande veroorsaak is, sal binne twee tot drie weke bepaal word.”

Armour het Maandag aan Maroela Media gesê die VL wag nog vir satellietbeelde wat net elke twee tot drie dae opgedateer word sodat die volle omvang van die skade bepaal kan word.

“Rowwe skattings is 30 000 ha se skade in die Soutpan- en Brandfort-distrik.”

Martin Wipplinger, ʼn boer van die plaas Dorisville in die Brandfort-distrik, het sowat 9 000 ha weiding verloor en 300 veevrektes gehad. Hy het boonop sowat 20 dragtige verse in die brand verloor.

Die LUR vir landbou in die Vrystaat, Saki Mokoena, sal Maandagmiddag Wipplinger se plaas besoek.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) en die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein en Virginia is ook ontplooi om te help.

Volgens Reinet Meyer, senior inspekteur by die Bloemfonteinse DBV, moes hulle 160 skape noodgedwonge van kant maak.

“Twee skilpaaie het doodgebrand en ons het 12 skilpaaie na ons tak gebring vir behandeling. Sodra hulle herstel het, sal ons hulle weer vrylaat,” sê Meyer.

“Die tonele wat ons daar gesien het, was aaklig. Soveel vee en wild het gely. Sommige het ernstige brandwonde opgedoen en sommige is dood in hierdie verwoestende ramp.”

Volgens Meyer het hulle ook verlede week op brande in die Tweespruit- en Thaba Nchu-omgewing gereageer en altesame 28 beeste en twee perde van kant gemaak.

“Ons kry die boere wat onder die brande deurloop geweldig jammer. Behalwe vir die vee wat doodgebrand het, het hulle ook groot infrastruktuur- en veldskade. Hulle het geweldige skade en waterpype en -pompe en doringdrade is vernietig.”

Oorsaak

Die oorsake van die brande is in hierdie stadium nog nie bekend nie.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Donderdag ʼn rooi brandgevaar-indekswaarskuwing vir die grootste deel van die binneland – en die hele Vrystaat – uitgereik.

Die weerdiens het gewaarsku dat sterk wind, hoë maksimumtemperature en lae humiditeit gunstige toestande vir wegholveldbrande kan skep.

“’n Baie hoë brandstoflading op die veld ná ʼn paar jaar se goeie reënvalseisoene het die intensiteit van die brande verhoog. Met die stormwind kon selfs brandbane nie die brande in bedwang hou nie,” sê Armour.

Die VL doen ʼn beroep op mense om geen oop vure in hierdie uiters gevaarlike weerstoestande te maak nie.

Die VL vra mense ook om skenkings aan sy ramphulpfonds te doen om te help met die groot verliese in terme van vee, toerusting, geboue en infrastruktuur. Vir meer inligting oor hoe om te help, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Surfer ·

Wat kan ons se? Sterkte boere, arme diere. Hoop nie die EFF kyk ook weer berigte nie.

Miskruier ·

Boere moet verseker vir aanspreeklikheid, selfs as die vuur vanuit n ander plaas oor jou grond beweeg, gaan die volgende plaaseienaar vir jou aanspreeklik hou. Boer dan soos ek teen munisipale grond en weet die vuur kom altyd van hulle af en hulle (stadsraad) is bankrot. Net God se genade dra mens deur die stresvolle tyd.

Papsak ·

Sterkte vir daai boere maar my hart seer oor daai diere watse wrede dood moes hulle sterf brand is lelik

Kobus ·

Veld raak sommer net aan die brand nie. Soek maar ‘n ontevrede werker of soos in Limpopo gebeur, word ‘n bottel petrol met ‘n sigaret bo in die nek geseel en dan neergesit. Die sigaret gloei op sy eie tyd totdat dit die petrol bereik. Niemand in sig nie maar die brand is gestig.

007 ·

N sigaret kan nie petrol aan die brand steek nie, al druk jy hom in skoon petrol. Gaan maak die toets.

Hasie ·

Ek was daar en die mense is gebreek .Dit is net dood waar mens kyk …en die diere is wat die prys moet betaal vir die nalatigheid van mense !

Miskruier ·

Eendag wanneer ons voor daai leë winkelrak staan, sal ons, ons huidige optrede onthou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.