Foto’s en video: Slimkoppe spog met besonderse Lego-robotte

robotika-wro-sa-2018-01

Spanlede van Spectre bring ‘n paar verstellings aan hulle robot aan voor die finale rondte van die WRO-kompetisie. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Suid-Afrika het beslis nie ʼn tekort aan jong slimkoppe wat in robotika belangstel nie – dit is nou as ʼn mens moet oordeel aan die 72 spanne wat aan vanjaar se Wêreld Robotika Olimpiade (WRO) tydens die Oktober-skoolvakansie deelgeneem het.

Die spanne het dit op 29 September by die Thinus Bester-saal van die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie uitgespook om met die titel weg te stap as die land se beste robotbouers en -programmeerders. Die elf beste spanne van die dag het ook gekwalifiseer om aan die internasionale been van die kompetisie, wat later vanjaar Thailand sal plaas, te gaan deelneem.

Volgens Brent Hutcheson, die organiseerder van die kompetisie, was vanjaar se olimpiade ʼn besonderse tegniese kompetisie. Deelnemers is met ʼn ekstra reël op die oggend van die kompetisie verras om die spanne se robotte en programmeervermoëns tot op die uiterste te toets.

Elke jaar se kompetisie het ʼn tema en vanjaar was die fokus op voedsel. Robotte moes hindernisbane voltooi in ʼn poging om voedselvermorsing te voorkom, met akkuraatheid te boer of kos te versprei. In die ope kategorie het die spanne gespog met robotte wat gedroogde vrugtestafies en gesondheidsdrankies aanmekaar slaan tot geoutomatiseerde trekkers en ʼn ten volle selfaangedrewe hidroponikaboerdery.

Nog ʼn baie gewilde afdeling was die robotsokkerspanne wat dit op die veld vir ʼn Lego-bekker uitgestry het.

“Dit is skoliere en klubs wat aan hierdie robotika-kompetisie deelneem en die deelnemers se ouderdomme wissel van 8 tot 19 jaar.

“Ons het ondervind hoe jonger ʼn kind begin om met hierdie tegnologie te werk, hoe makliker is dit om hulle langer geïnteresseerd te hou in robotika en hoe meer leer hulle,” het Hutcheson gesê.

Die gewildheid van dié kompetisie is ook net aan die toeneem. Daar het in 2010 net 42 spanne deelgeneem en hierdie jaar moes die beoordelaars 589 spanne tydens die streeksrondes van die WRO uitdun tot die beste spanne vir die eindronde.

Volgens Hutcheson word die hele kompetisie van streeksrondes tot die eindronde deur vrywilligers georganiseer en beoordeel.

“Ek is so beïndruk met die kinders se oopkop- en logiese denke. ʼn Mens kon dit veral sien by die ope kategorie met die projekte wat die kinders daar uitgestal het – hulle het soveel nuwe idees,” het Prasaadhini Reddy gesê.

Reddy, ʼn ingenieur, het self aan die WRO deelgeneem en is deesdae ʼn vrywilliger wat by die opleiding van robotika-klubs in informele nedersettings is.

“Die kinders van die informele nedersettings hoef werklik nie ʼn tree terug te staan vir enige ander robotika-klub nie, want hulle het nie ʼn tekort aan goeie idees nie. Dit is dikwels maar net finansies wat ʼn uitdagings is.”

Sy is van mening dat meisies beslis ook die potensiaal het om uit te blink in robotika en die kompetisie is vir enige iemand wat hul denke oor tegnologie wil demonstreer en die moontlikheid daarvan uitbrei.

Die wenners van die nasionale ronde van die kompetisie:

  • Sokker: Mecha Strikers
  • Gevorderde robotika: Gold Stance GT
  • Tegniese afdeling – Elementêr: Front Runners
  • Tegniese afdeling – Junior: Mad Monkey
  • Tegniese afdeling – Seniors: Spectre
  • Ope kategorie – Elementêr: Health Mongers
  • Ope kategorie – Junior: Boer maak ʼn plan
  • Ope kategorie – Senior: Masterminds
  • Spectre het ook die Rheeders-prys vir uitnemendheid ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

IK ·

So kyk ek terug op 65 jaar gelede toe ons die ‘gevaarlike’ kennetjie gespeel het. Ook albasters, kleilat gooi (ook na mekaar!), foe-fie slide. swem in waterkuile en plaasdamme, pampoene uithol met ‘n kers binne, 12 jaar oud en met pa se ,22 alleen in koppe en klowe kon rondloop, nie ‘n vervelige oomblik op ‘n klein dorpie Trichardt met skaars 800 inwoners.
Dan ook my Meccano-stelle nommer 1 en nommer 5 wat ek nog steeds het. Ek dink dit sal onregverdig wees om die hede met die verlede te vergelyk. Ons het egter meer blootstelling gehad aan die natuurlike manier van kindwees, of nie? Amper vergeet ek van die donkiery en natuurlik die afspring wanneer hy met jou langs die doringdraad hardloop. Ek het leer fietsry in ‘n sanitêrelaan met turksvye aan weerskante. Nodeloos om te sê dat ek eers geval het ná die turksvye.

Willie ·

Baie interesant.
Kan mens iewers meer detail kry van die projekte?
Stel veral belang in die ‘selfaangedrewe hidroponikaboerdery’
Baie dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.